Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Russel Botman se nalatenskap leef voort in skildery, boek en beurse
Outeur: Corporate Communication Division
Gepubliseer: 18/10/2017

​​Die Russel Botman Gedenklesing was 'n besonderse geleentheid vanaand toe nie net 'n skildery van Botman onthul is nie, maar ook 'n boek oor hom bekendgestel en erkenning aan nege studente wat Russel Botman Beurse ontvang het, gegee is. Die Herdenkingslesing is ook deur Regter Zak Yacoob, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof gelewer is. (Sien ander artikel oor Yacoob se lesing)​

 


  • ​Selfoongebruikers klik hier vir video.

Die Russel Botman-portretskildery deur Fiona Metcalfe

Die portretskildery van wyle prof Russel Botman verskil van die meeste ander wat deur Fiona Metcalfe gedoen is. Dit is nie een van 'n man met 'n ernstige gesigsuitdrukking, geklee in 'n pak klere, wat formeel agter sy lessenaar sit nie. Inteendeel, die ontslape Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch verskyn glimlaggend in 'n straat op die Stellenbosch-kampus waar hy, na alle waarskynlikheid, studente groet en geselsies met hulle aanknoop. Agter hom op lamppale is baniere van die Hoop Projek, 'n projek wat hy van stapel laat loop het, gerig op die uitwissing van armoede, en die bevordering van menslike waardigheid en gesondheid, demokrasie, menslike regte, vrede en veiligheid.

FionaMetcalfe.jpg

Metcalfe se portretskildery is op 18 Oktober 2017 tydens die Russel Botman-gedenkfunksie onthul – dit was ook sy verjaardag. Saam met die plegtigheid is 'n gedenkboek oor Botman bekend gestel en nege Russel Botman-beurshouers, is melding van gemaak.

Metcalfe, 'n kunstenaar veral bekend vir haar skeppings van portretskilderye, het al in 2016 met voorbereidings begin om die portret van Botman te skilder. Voordat sy begin het, het sy eers etlike maande lank met mense wat Botman geken het kennis gemaak; sy het ook foto's bymekaar gemaak en hulle almal in 'n proef-uitleg geplaas om Botman sodoende uit te beeld. Sy het hiermee volgehou totdat alle betrokkenes die mening toegedaan was dat die foto-samestelling die persoon goed weergee. Eers tóé het sy vanaf al die foto's in die proef-uitleg begin skilder.

Metcalfe het met dié werk voor talle uitdagings te staan gekom. Een daarvan was dat sy gewoonlik portretskilderye doen van mense wat nog lewe en derhalwe die geleentheid gebied word om talle foto's van so 'n persoon te neem wat heelwat nodige detail aan haar bied wanneer sy begin skilder.

RusselBotmanPortrait.jpg“'n Portret bied jou meer as 'n foto," verduidelik sy en dit is juis waarom sy met baie foto's werk en voor die tyd 'n samestelling van hulle maak. Voor sy begin skilder, moet sy ook die karakter en persoonlikheid van die persoon ken. “Dit is goed as jy die persoon wat jy gaan skilder, ken." Maar sy het Russel Botman nooit ontmoet nie.

Metcalfe glo dat die onderwerp van 'n portretskildery verkieslik 'n neutrale uitdrukking behoort te hê. Sy redeneer só oor die mening: “Portrette is bedoel om eeue lank aan 'n muur te hang en dit is nie goed as 'n breë glimlag heeltyd van die muur af sigbaar is nie. Mense is nou se dae mos vreemd. Hulle wil na iets soos 'n Instagram-foto lyk . Hulle is gewoond aan selfies. 'n Portret is iets heel anders."

Sy het egter in Botman se geval 'n uitsondering gemaak. Hy het feitlik altyd geglimlag en hoe hard Metcalfe ookal probeer het, kon sy eenvoudig nie 'n foto vind waarop hy nie glimlag nie. Sy het ook sy vrou, Beryl, genader, asook talle ander mense wat Botman geken het, maar hulle kon haar ook nie help nie.

Sy verduidelik: “Hy was 'n vriendelike mens, hy het deurentyd geglimlag en daar was geen ander manier om hom weer te gee nie. Ek het probeer om hom te skilder soos wat hy was. Hy was baie lief om in die buitelug te wees en met studente te gesels. Ek het dieselfde met die portretskildery van wyle dr Van Zyl Slabbert (gewese Kanselier van die US) gedoen wat ook altyd verkies het om in die buitelug te wees."

As student was Metcalfe se bynaam “Killer Eye." Sy kon van 'n afstand af detail sien en afmetings doen wat ander mense nie kon nie, of 'n maatband voor benodig het. Metcalfe is lank reeds nie meer 'n student nie, maar beskik steeds oor die “killer eye" wat haar help om 'n persoon 100%, of selfs nog meer, te skilder – iedere portret bied heelwat meer as bloot net 'n eksterne voorkoms.

 Die skildery kan besigtig word in die Universiteit Stellenbosch Museum.

'n Boeke herdenk Russel Botman

'n Boek oor wyle prof Russel Botman, wat sewe jaar tot met sy onverwagse afsterwe in 2014, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch was, is  tydens die Russel Botman-herdenkingslesing, bekend gestel. Dit sou ook vandag sy verjaardag gewees het.

Die oorsprong van die boek strek egter ver terug. Voor sy dood is reeds gesprekke daaroor gevoer.ProfGrundlingh.jpg

Prof Albert Grundlingh van die Department Geskiedenis vertel dat kort voor Botman oorlede is, is daar oor die moontlikheid van 'n boek oor die Universiteitsgeskiedenis, wat met die Eeufeesvieringe in 2018 saamhang, gesels. “Botman het ook genoem hy wil 'n boek oor sy eie akademiese loopbaan die lig laat sien. Ek het gesȇ ons kan gerus daaroor praat, maar hy is toe net 'n rukkie daarna oorlede."

Kort na sy dood is daar onder leiding van Grundlingh, prof Nico Koopman, Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel aan die US, en Ruda Landman, Oudmatie en bekende TV-persoonlikheid, aan die boek begin werk. Sestien mense het aan die lewensverhaal van die oudrektor help skryf: Cornelius Thomas, wyle Johan G Botha, Dirk Smit, Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel, Anlené Taljaard, Ludolph Botha, Paul Cluver, Gerhard Lubbe, Martin Viljoen, Marita Hilliges, Andrew Casson, MS Tshehla, Thabo T Fako en Beryl Botman. Die voorwoord is deur Koopman, wat ook 'n persoonlike vriend van Botman was.

Drie jaar later het die boek die lig gesien.

Russel Botman_English_COVER_20Sep2017_front.jpg

“Dit is eintlik vir my besonders dat Botman in sy eie leefwȇreld 'n geleentheid gesien het vir 'n boek oor sy lewe. Hy sou ook 'n rukkie later aftree," sê Grundlingh.

Russel Botman_Afrikaans_COVER_20Sep2017_front.jpg

Grundlingh vertel: “Vir my persoonlik as historikus was 'n besondere hoofstuk moontlik weens die historiese dimensie daarvan – sy vroeëre lewe as student. Dit was nog nie voorheen gedek nie. Cornelius Thomas van die Universiteit van Rhodes het onderneem om oor Botman se jeug en studentejare te skryf. Dié is op besondere treffende wyse beskryf na onderhoude en briewe wat opgespoor is. Dit handel onder meer oor sy jeugjare in Bloemfontein en dat hy later Johannesburg toe is; hoe hy aanvanklik 'n BSc-graad wou doen; asook die gedurige stryd om aan die gang te bly, veral finansieel."

Hy vervolg: “Vervolgens is daar hoofstukke oor sy rol as dominee en hoe hy in sy gemeente gewerk het. Dele in die boek gaan oor sy latere rol as dosent en rektor, asook die Hoop Projek wat sy inisiatief was. Die tweede laaste hoofstuk handel oor die huldeblyke wat met sy afsterwe aan hom gelewer is. Dit laat 'n mens besef wat mense van hom sal onthou. Die nawoord is deur sy vrou, Beryl, geskryf en bied 'n blik op watter soort mens hy was."

Grundlingh sê daar is deur die jare oor elke US-rektor 'n boek geskryf, maar dié een, meen hy, is anders. “Russel is die enigste rektor van Stellenbosch tot dusver wat in die tuig gesterf het. Die boek is oorwegend akademies, maar bied ook iets van 'n huldeblyk."

Grundlingh meen ook daar is vir 'n mens 'n sekere boodskap in die boek. Hy stel dit so: “Buiten dat Russel die eerste swart rektor van die US was, was hy nie huiwerig om enige uitdaging aan te pak nie. Hy wou Stellenbosch ook 'n meer menslike beeld gee. Dit was soms ten koste van homself."

Die boek is in Engels en Afrikaans en sal ook in die handel beskikbaar wees.

 

Studente ontvang Russel Botman Beurse

Nege studente het oor die afgelope twee jaar 'n Russel Botman Beurs ontvang om aan die Universiteit Stellenbosch (US) te studeer. Erkenning is vanaand aan die beursontvangers by die Russel Botman Herdenkingslesing gegee. Die funksie het plaasgevind op 18 Oktober wat die ontslape US Rektor en Vise-Kanselier  se verjaarsdag is. Prof Botman is op 28 Junie 2014 oorlede. Hy het die beursfonds op sy 60ste verjaardag op 18 Oktober 2013 gestig.

Die nege beurshouers het ook elke 'n Russel Botman-boek ontvang wat Prof Botman se lewe herdenk. Die boek is ook by die geleentheid bekendgestel.

Die studente wat beurse in 2016 en 2017 ontvang het, is:

Beurshouers.jpg

Sone Reens (bo, eerste van links) -  Sy is tans besig met haar finale jaar in BSc Molekulêre Biologie en Biotegnologie. Sy kom van Herold, 25 km buite George.

"Die ontvangs van hierdie beurs het my geweldig gehelp. Ek het altyd my bes gedoen om goeie punte te kry, om my doelwitte en drome te bereik. Ek is geëerd om een van die eerste ontvangers van die Russel Botman Beurs te wees en trots om deel van sy groot nalatenskap te wees. As Russel Botman beurshouers, is dit ons plig om te lewe tot sy verwagtinge," het Reens gesȇ.

Sandiso Sogula (onder, tweede van regs) -  Hy is in sy voor-finale jaar van 'n nagraadse LLB. Sandiso is van Dunoon in Milnerton, Kaapstad.

"Ek is baie gelukkig - die beurs beteken baie vir my en nou kan ek fokus op my studies en hoef nie bekommerd te wees oor befondsing nie. Ek is dankbaar dat ek een van die ontvangers is en dit my  'n geleentheid van 'n leeftyd gegee het, " hy het gesê.

 • Randall van den Heever  (bo, tweede van links)- Hy is tans 'n derdejaar BRek-student. Hy is afkomstig van Nababeep, Noord-Kaap.

 "Dit is vir my 'n groot vreugde om te weet dat ek die geleentheid gekry het om my drome te bereik. Ek sien dit as 'n geskenk en 'n groot eer en ek voel bevoorreg om deel te wees van die Russel Botman beursfamilie, " het Randall gesȇ.

 • Ayanda Bless  (onder, tweede van links)-  Sy is 'n eerstejaarstudent in Arbeidsterapie. Sy is gebore en getoë in Guguletu, Kaapstad.

 "Ek voel geëerd en werklik geseënd om die Russel Botman Beurs te kon ontvang. Ek is bly ek is as een van die ontvangers gekies, want dit bewys dat hulle glo in my potensiaal as 'n student en as 'n persoon. Ontvangs van die beurs was by verre die hoogtepunt vir my in 2017. Ek wil graag dankie sê aan mev Botman en haar span vir die wonderlike geleentheid wat hulle my hierdie jaar gegee het. Ek dink nie hulle verstaan die diepte en betekenis van dit wat hulle vir my en my familie gedoen het. My gebed is dat hulle sal voortgaan om sulke geleenthede te gee aan ander studente wat finansieel sukkel, "het Ayanda gesȇ.

Robyn Leigh Bolters (onder, eerste van links) -  Hy is 'n finalejaarstudent in BSc Voedselwetenskap. Hy kom van Plumstead, Kaapstad.

"Ek is baie geëerd en dankbaar vir die seen want dit beteken nie net baie vir my nie, maar ook my gesin. Hierdie geleentheid open 'n deur na finansiële vryheid vir my finale jaar studies, en ek sal vir ewig dankbaar wees. Ontvangs van hierdie beurs het my laat besef dat harde werk en toewyding bevoordeel jou. Dit is ook kwaliteite van Russel Botman homself en ek sal voortgaan om my bes te doen om sy beginsels en nalatenskap te vereer, " het Robyn gesȇ.

Nomalinge Mzaza (bo, tweede van regs) - Sy is ʼn tweedejaar BSc Voedselwetenskappe-student en kom van Plettenbergbaai.

 "Ek is dankbaar dat uit duisende studente aan die Universiteit Stellenbosch, ek so 'n groot geleentheid gegee is om 'n Russel Botman Beurs-begunstigde te wees. Al die ondersteuning wat aan my gegee word, beteken regtig baie en dit wys my dat wanneer jy hard werk, word jy opgemerk deur die US. Ek is ook bly lede van die Russel Botman Trustfonds ondersteun ons met gereelde ontmoetings. Dit wys dat dit nie net oor geld gaan nie, maar hulle gee werklik om vir ons. Ek kan nie genoeg dankie sȇ nie," het sy gesê.

• Robyn Snyman (middel) - Sy is 'n tweedejaar student in die graad LLB. Sy kom vanaf Kaapstad.

" Om die Russel Botman beurs te kon ontvang het my totale vreugde gegee. Dit het my ouers verlos van die studentegeld bekommernisse en ek is geinspireer deur die karakter van Prof Russel Botman wat 'n persoonlike held en inspirasie vir my is. Hy was nie bang vir 'n uitdaging wat onregverdigheid en ongelykheid gebring het nie. Om geassosieer te word met so 'n eerbare en wonderlike man maak my werklik baie gelukkig."

  • Nandipha Dlamini (onder, eerste van regs): Sy is 'n tweedejaarstudent in BSc Diereproduksie (Dierewetenskap). Sy kom van die klein dorpie Bizana in die Oos-Kaap. 

"Om die Russel Botman Beurs te ontvang is 'n groot seening en geleentheid.  Dit beteken baie omdat dit my 'n stap nader bring aan die bereiking van my doelwitte. Ek waardeer die geleentheid en motiveer my om nog harder te werk."

Christina van Eck (top, eerste van regs): Sy is in die tweede jaar van BA (Taal en Kultuur) studies en is van Kaapstad. 

"In my hele termyn tot dusver, vanaf die eerste jaar, was 'n bekommernis oor goeie punte en of ek 'n goeie werk eendag sal kry om my studyskuld af te betaal. Ek is net myself en is verantwoordelik vir alle koste met betrekking tot die Universiteit. Die ontvangs van hierdie beurs  het baie goed verander. Dit gee my die geleentheid om te fokus op nou en nie myself te bekommer oor die dag van more nie. Hierdie beurs is een van die grootste seëninge wat ek kon gekry het, nie net omdat dit my finansieel help nie, maar omdat die mense wat betrokke is, my ondersteun en weer laat voel het dat ek deel van 'n familie is,  selfs al is dit nie die tradisionele een.​"

 

 


Selfoongebruikers kan hier​ klik om na die video te kyk.