Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hemelbesem en Internasionale Woordeboekdag
Outeur: Dr. Willem Botha
Gepubliseer: 17/10/2017

Hemelbesem en Internasionale Woordeboekdag

Maandag 16 Oktober is Internasionale Woordeboekdag. Dit is ook die dag waarop die Woordeboek van die Afrikaanse Taal die nuwe beskermheer of beskermvrou van Borg ʼn Woord bekend maak. Hemelbesem, die Afrikaanse rymkletser, is die nuwe Beskermheer van Borg ʼn Woord vir 2017 – 2018.

Hemelbesem se oproep tot Afrikaanssprekendes is:  “Slegs met woorde maak die lewe sin: Jy kan my woord neem daarvoor. Neem eienaarskap van jou taal en BORG ʼn WOORD!"

Een prys van R25 000 geborg deur Sanlam kan gewen word.  Woorde kan teen R100 per woord geborg word en elke deelnemer ontvang ʼn sertifikaat met sy naam en die woord of woorde wat hy of sy borg. Jy kan ook 'n woord  vir R5 000 koop en niemand anders mag dan daardie woord borg of koop nie. Gaan na www.wat.co.za en klik op Borg 'n Woord as jy wil deelneem.  Almal wat woorde borg of koop, kwalifiseer outomaties vir die pystrekking van R25 000.

Deelnemers wat woorde borg, kry ook ses maande gratis toegang tot die Aanlyn WAT en indien jy ʼn woord koop, kry jy gratis toegang vir vyf jaar.

Jy kan nou ook R20 000 belastingvry skenk vir ʼn woord van jou keuse.  Skenkers kwalifiseer uiteraard nie vir die prystrekking van R25 000 nie, maar ontvang wel ʼn sertifikaat waarop aangedui word dat hulle R20 000 geskenk het vir ʼn bepaalde woord.

16 Oktober is die verjaarsdag van Noah Webster en Woordeboekdag word internasionaal ter ere van hierdie beroemde Amerikaanse woordeboekmaker gevier. Webster is in 1758 gebore en was ʼn briljante student wat op 15-jarige ouderdom aan die Yale Universiteit begin studeer het. Later word hy die samesteller van die eerste Amerikaanse woordeboek en hy word dus beskou as die vader van die Amerikaanse leksikografie.  

Volgens dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, moet ons op Woordeboekdag onsself afvra of ons woordeboeke nog relevant is. Mense raak gefrustreerd omdat hulle verouderde woordeboeke gebruik wat nie rekenskap gee van die duisende nuwe woorde  en nuwe betekenisse van ou woorde nie.

Personeel en studente aan die US kan gratis toegang verkry tot die toonaangewende elektroniese woordeboeke van die JS Gericke-biblioteek, soos die Oxford English Dictionary, Pharos se aanlynwoordeboeke, en die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Klik op www.sun.ac.za/library , gaan na Find/E-reference/Language dictionaries, selekteer die woordeboek van u keuse en voeg dit by as een van u “favourites" vir maklike toekomstige gebruik.

Volgens Botha is daar op Hemelbesem as beskermheer besluit  omdat die WAT reeds ʼn gevestigde verhouding met hom het en omdat hy ʼn sterk en vars stem in die Afrikaanse musiekwêreld is.  Sy lirieke dra ʼn sterk boodskap oor en hy is baie betrokke by opheffingswerk onder die jeug. Hemelbesem en sy vrou Yoma, ook ʼn rymkletser, het reeds verskeie kere by die WAT opgetree.