Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Simmonds skitter vir Maties op krieketveld
Outeur: Maties Sport Media
Gepubliseer: 16/10/2017

​Die Steinhoff Maties-krieketspeler Kyle Simmonds is besig om sy drome in realiteit te verander.

Simmonds is ‘n tweedejaar-student aan die Universiteit Stellenbosch en het homself al gevestig as een van die blinkste krieketsterre in Matieland. Simmonds is nie net ‘n sleutelspeler in die Maties- en Boland-spanne nie, maar het ook die afgelope seisoen sy Cape Cobra-debuut gemaak en onlangs vir die Suid-Afrikaanse Opkomende span gespeel ná twee maande by die SA Krieket Akademie.

Hy is ook opgeneem in die Stellenbosch Kings-span vir die Globale T20-toernooi (wat onlangs na volgende jaar uitgestel is). 

Dinge gebeur vinnig, maar Simmonds fokus daarop om die meeste van elke geleentheid te maak.

“Ek het ‘n maand laat by die Nasionale Akademie opgedaag omdat ek eksamen moes skryf en ek was onseker oor wat om te verwag. Ek het egter met ‘n oop gemoed gegaan en het vinnig ingehaal en baie geleer in my tyd by die Akademie,” het Simmonds gesê.

“As ‘n groep het ons baie hard gewerk in die drie weke voor die toer na Zimbabwe. Dit is danksy die harde werk dat ek gereed was vir die geleentheid. Ons praat altyd oor hoe jy elke kans wat jy kry moet aangryp as jy op die veld stap en ek is net bly dat ek die meeste van my kanse kon maak.”

Volgens Simmonds het die skuif van Durban na Stellenbosch vrugte afgewerp. Hy het by Maties aangesluit met die doel om op sy studies te fokus, maar wou ook probeer om 'n loopbaan in krieket te hê. 

“My pa sê altyd dat ek dit net dag vir dag moet vat en daarom kyk ek nie te ver vooruit in die toekoms nie. Ek is baie bly oor hoe dinge tans vir my uitwerk.”

Simmonds erken dat om ‘n studente-atleet te wees, baie uitdagend is. “Ek is eerlik as ek sê dat ek nog nie ‘n antwoord het oor hoe om 'n balans tussen studies en krieket te vind nie…altans nie een wat my nie laat stres nie! Ek probeer om gereeld ‘n bietjie werk te doen eerder as om alles op een slag te probeer inhaal. Die ondersteuning en hulp wat ek van my dosente en Maties Sport kry, help ook baie.”

Dit is duidelik dat Simmonds geen geleentheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Hy weet ook dat harde werk vir hom wag in die nuwe seisoen. 

"Ek wil seker maak ek is gereed vir enige en elke kans op my pad. Ek sal aanhou hard werk in die nette. Ek wil aan myself en diegene wat my dophou, bewys ek is gereed vir die lewe as professionele sportman.”