Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Ons moet op grondslag fokus’ – paneellede by Onderwysnavorsingkonferensie
Outeur: Pia Nänny & Nic Spaull
Gepubliseer: 14/10/2017

​'n Paneelbespreking oor “Die praktyk van verbetering" was een van die hoogtepunte van die jaarlikse konferensie oor Kwantitatiewe Toepassings in Onderwysnavorsing wat op 28 en 29 September aangebied is deur RESEP, 'n navorsingsgroep oor Sosiale Ekonomiese beleid wat in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch (US) gesetel is.

Die paneellede – prof. Jonathan Jansen, prof. Brahm Fleisch, prof. Peliwe Lolwana en dr. Itumeleng Molale – het die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel bespreek ten opsigte van wat reggeloop het, wat skeefgeloop het en waarop verbeter kan word.

Hoewel daar 'n paar positiewe verbeterings sedert 1994 was – meer skole is gebou en elke kind in Suid-Afrika het nou toegang tot onderwys – kon die sprekers elkeen 'n area identifiseer waar verbetering moontlik is.

Prof. Fleisch, 'n medeprofessor in die Afdeling Onderwysleierskap en Beleidstudies aan die Skool van Onderwys by Wits, meen dat groter fokus op onderwyspraktyk geplaas moes word terwyl prof. Lolwana, voormalige uitvoerende hoof van Umalusi, gewaarsku het dat die stelsel toegelaat het dat die gaping tussen dié wat het en dié wat nie het nie, groter word. 

“Arm kinders, selfs al het hulle toegang tot skole, weet steeds nie hoe om onderwys doeltreffend te gebruik om toegang tot geleenthede te kry nie," het sy bygevoeg.

Dr. Molale, voormalige hoof van die Departement Onderwys en Sportontwikkeling in die Noordwes-provinsie, glo die ontbinding van onderwyseropleiding (onderwyskolleges) sonder 'n behoorlike alternatief, was 'n groot fout.  

Prof. Jansen, vorige Rektor van die Universiteit van die Vrystaat, is weer van mening dat baie groot skade aangerig is deur die implementering van uitkomsgebaseerde onderwys.

Prof. Fleisch het hierdie sentiment beaam: “Ons het 'n baie groot fout met die hervorming van ons kurrikulum begaan. Ons moes op die vroeër grade gefokus het en dit eers reggekry het."

Die voorsitter van die sessie, dr. Nic Spaull, het verwys na prof. Servaas van der Berg se aanbieding vroeër in die konferensie getiteld “Hoe ons gevorder het", waarin hy die verbeterings in TIMSS (Trends in International Mathematics and Science Study) tussen 2003 en 2015 beklemtoon het, en ook die groot toename in swart matrikulante met hoëvlakslaagsyfers in wiskunde en wetenskap.

Dr. Spaull het paneellede daarna gevra om moontlike redes te gee vir die verbetering in leeruitkomste tussen 2002 en 2015. 'n Paar van die redes wat die sprekers gegee het, was die stabilisering van die onderwysstelsel ná 1994 en 'n verbetering in die kennis van onderwysers.

Prof. Jansen was egter nie beïndruk met die syfers wat aan hom voorgehou is nie.

“Ons moet onsself nie vooruitloop nie. In SA is ons altyd besig om in te haal. Dit is hoekom Brahm reg is. Ons groot fout was om op die verkeerde kant van die stelsel te fokus. As jy nie die grondslag regkry nie, sal jy voortdurend moet opvang."

Prof. Fleisch sê dit is almal se besigheid om SA se onderwysstesel te verbeter.

“Hoe kom ons waar ons wil wees," het hy gevra. "Ons het baie dinge gedoen op grond van wensdenkery eerder as bewyse. Kom ons stop dit. Kom ons hou op om geld te mors op dinge wat nie werk nie. Kom ons begin kyk na dinge wat wel werk en konsentreer ons hulpbronne daar, want dit is die enigste manier waarop ons vooruit gaan beweeg. Om te wens omdat dit so belangrik lyk, is nie genoeg nie."

Vir prof. Jansen beteken dit om die fondasies van die skoolstelsel te bou met twee intervensies: die nasionale program in geletterdheid en nasionale program in gesyferdheid.

Die konferensie het 110 deelnemers uit 'n reeks agtergronde gelok, wat onderwysnavorsers, beleidmakers en PhD-studente ingesluit het.

Die Minister van Basiese Onderwys, mev. Angie Motshekga, het in 'n videoboodskap haar ondersteuning toegesê aan voortgesette navorsing binne die RESEP-groep: “Ek wil erkenning gee aan die onskatbare rol wat die RESEP-span speel deur sulke nougesette navorsing te produseer en die belangrike skakels wat hulle met die Departement van Basiese Onderwys (DBO) volhou. Ons hoop hierdie vennootskap gaan in die jare wat kom voort en dat dit ook uitgebrei sal word na die voorheenbenadeelde universiteite om sodoende die daarstelling van hoë gehalte, beleidrelevante navorsing binne die sektor te verbreed."

Die twee internasionale gassprekers was David Evans van die Wêreldbank, wat gepraat het oor “Om die meeste uit jou onderwysers te kry: lesse uit ons onlangse kwantitatiewe navorsing" en Yuri Belfali van die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD), wat gepraat het oor “Internasionale assessering vir uitnemendheid en regverdigheid: Ervarings uit PISA vir Ontwikkeling". Albei is goed deur die gehoor ontvang en het 'n aantal vrae oor die rol van internasionale assesserings in onderwysbeleidmaking en die politiek van onderwyserhervorming in ontwikkelende lande uitgelok.

Op die laaste dag was daar twee gelyklopende sessies waar PhD-studente hul PhD-voorleggings en voortgesette navorsing kon aanbied en terugvoering van die deelnemers kon kry.