Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​ Waterbesparende, endemiese plante weer op eie bodem by Tygerberg
Outeur: Ilse Cilliers
Gepubliseer: 13/10/2017

Die Tygerberg-kampus van die Universiteit Stellenbosch (US) ontwikkel in 'n landskap wat die oorspronklike endemiese plantegroei van die gebied weerspieël. Deur die versameling endemiese plante op kampus te vergroot, sal 'n landskap geskep word wat op reënwater kan oorleef nie en sodoende die volhoubaarheid en biodiversiteit van die kampus bevorder.

Volgens Meg Hamilton, omgewingskundige in die US se afdeling Fasiliteitsbestuur, is die Tygerberg-kampus op los, onverdigte sand op 'n rotsbodem van Malmesbury-skalie geleë. “Die plante wat endemies in hierdie gebied is, staan as Kaapse Vlakte-sandfynbos (CFSF) bekend. As gevolg van snelle verstedeliking het 'n skrale 15% van hierdie plantegroei behoue gebly, met slegs 5% daarvan in 'n goeie toestand," sê sy.

Wat CFSF veral belangrik vir hierdie streek maak, is dat dit endemies en nie bloot inheems is nie.  “Inheemse plante is op enige plek in Suid-Afrika te vinde en is nie noodwendig watergehard nie.  Endemiese plante kom egter van die onmiddellike plaaslike gebied, wat beteken dat dit opgewasse is teen die plaaslike weerstoestande. Plante in die Wes-Kaap moet byvoorbeeld in warm, droë somers en nat winters kan groei.  Die CFSF-plante is nie alleen vir ons weer aangepas nie, maar ook vir die grond in die streek.  Die belangrikste is dat die bestuiwers en ekosisteme wat die CFSF ondersteun, ook plaaslik is," sê Meg.

Dit was nogal 'n uitdaging om die CFSF-plante vir die kampus se tuinuitleg te vind, want dis nie maklik om kommersieel beskikbare spesies in die hande te kry nie.  Die tuinontwerpers by Tygerberg het verskeie Kaapse kwekerye, asook  kwekerye in George genader om die verskillende plante op te spoor.  Spesies was in sekere gevalle onbeskikbaar en gehibridiseerde weergawes van dieselfde plant moes gekies word.  “Ons het ook toestemming gevra om steggies uit verskeie plaaslike natuurreservate te neem wat ons kan laat groei om die diversiteit van die bestaande spesies uit te brei," voeg sy by.  Die gevolglike CFSF-plantpalet bestaan uit verskeie plantsoorte, soos struike, bolle, grondbedekkers en restio's (rietagtige plante). Van die spesies wat tot dusver vir Tygerberg se tuinverfraaiing gebruik is, is erika, watsonia, krassula, protea, serruria, pelargonium en salvia, om net 'n paar te noem.

Een van die hoofkenmerke van die nuwe landskap by Tygerberg is 'n eko-wandelpad van 2,5 km waarop studente en personeel kan draf of deur die kampus loop. 'n Ander onlangse projek was die aanplanting van endemiese spesies voor die nuwe Onderwys-gebou. Die plantpalet wat hier gebruik is, sluit aan by die plante wat langs die eko-wandelpad geplant is. Daar word ook beplan om op die lang termyn die grasperke op die kampus wat in onbruik is, te verwyder en met volhoubare, waterbesparende tuinuitlegte te vervang.

Terwyl nuutaangeplante tuine water nodig het om wortel te skiet, sal die endemiese plante wat vir dié kampus gekies is uiteindelik van slegs die natuurlike reënvalpatrone in die gebied oorleef. “By Tygerberg laat ons moedernatuur haar eie ding doen en ons leer uit die lesse wat opduik. As plante nie die droogte oorleef nie, sal ons dit met meer weerstandiger spesies vervang. Die tuine kry ook 'n deklaag om die vog in die grond te probeer hou en die organiese inhoud van die grond te verbeter," sê Meg.

'n Bykomende voordeel van 'n plaaslike plantpalet is dat bestuiwers (soos skoenlappers) na die gebied gelok word, en saam met hulle kom plaaslike roofdiere soos voëls, akkedisse en uile. Die hoop is dat hierdie toename in plaaslike fauna mettertyd die gebied se biodiversiteit sal versterk. In die tussentyd is 'n besoek aan Tygerberg se eko-wandelpad en die trots plaaslike tuinuitlegte beslis die moeite werd.