Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sagtevrugtebedryf erken prof Leopoldt se bydrae tot die landbousektor
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 29/09/2017

Prof Leopoldt van Huyssteen, Uitvoerende Bedryfshoof van die Universiteit Stellenbosch en voormalige dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, het die Suid-Afrikaanse sagtevrugtebedryf se Voorloper-toekenning ontvang. Hierdeur word sy leierskaprol in die landbousektor erken.

Die OSH Reinecke-toekenning is aan hom gemaak by die Suid-Afrikaanse Sagtevrugtebedryf se 42ste jaarlikse gala-aand, waartydens uitsonderlike prestasie binne dié sektor beloon word.

"Ek het ongelooflike werksbevrediging ervaar tydens my loopbaan in die landbou. Die honger en ontvanklikheid van die Vrugtebedryf vir nuwe tegnologie en vir oplossings vir hul uitdagings was baie stimulerend," het Prof Van Huyssteen gesê.  "ʼn Mens werk uiteraard nie vir toekennings of verering nie; daarom toe hierdie besondere toekenning aan my gemaak is, het dit my opnuut ʼn diepe waardering gegee vir ʼn wonderlike bedryf en vir die uitsonderlike mense daarin," het hy bygevoeg.​

Prof Van Huyssteen het al sy kwalifikasies aan die US behaal, insluitend sy PhD in Grondkunde. Hy is sedert Januarie 1999 in diens van die US. Hy is aanvanklik aangestel as hoof van die destydse Departement Grond- en Landbouwaterkunde en was tussen Oktober 1999 tot 2007 voltyds in die stoel as dekaan. Daarna het hy verskeie posisies binne die US-topstruktuur gevul. In September 2013 is prof Van Huyssteen aangestel as die eerste Uitvoerende Bedryfshoof van die US.

Hy het sy loopbaan begin by die Nasionale Departement van Landbou en die Landbounavorsingsraad (LNR). Hier was sy werk hoofsaaklik gerig op grondkompaksie, grondbewerkingspraktyke vir wingerde en die implemente wat daarvoor gebruik word.  Prof Van Huyssteen is die skrywer of medeskrywer van verskeie wetenskaplike publikasies, ʼn aantal hoofstukke in boeke, referate by internasionale kongresse en ook van verskeie populêre publikasies.

Sedert 1993 was hy direkteur van die LNR-Instituut vir Wingerd- en Wynkunde, waar hy ʼn deurslaggewende rol gespeel het in die kommersialisering van navorsing toe die entiteit uit die staatsdiens beweeg het.  Later was hy die direkteur van die nuutgevormde LNR-Instituut vir Vrugte, Wingerd en Wyn nadat twee voormalige LNR-institute, Infruitec en Nietvoorbij, onder sy leiding saamgesmelt het. 

In sy loopbaan van meer as 40 jaar het prof Van Huyssteen aan verskeie professionele verenigings, rade en komitees diens gelewer. Hy was onder meer raadslid en president van die Grondkundevereniging van Suid-Afrika, ʼn raadslid van die Landbounavorsingsraad (LNR) en lid van die Kollegeraad van Elsenburg Landboukollege.  Daarby was hy ook raadslid en ondervoorsitter van Winetech se Adviesraad. Prof van Huyssteen is voorsitter van Agribusiness in Sustainable Natural African Plant Products (ASNAPP South Africa), ʼn maatskappy wat fokus op die produksie van natuurlike plantprodukte deur hulpbronarm produsente in Afrika.

Hy het onder meer reeds toekennings van die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging, die Grondkundevereniging van Suid-Afrika en die Wes-Kaapse Landbouskrywersvereniging ontvang. Twee videofilms oor grondbestuur wat grootliks op sy navorsing gebaseer is, het in 1992 die internasionale prys van die OIV (Office Internationale de la Vigne et du Vin) vir die beste oudiovisuele produksie vir tegnologie-oordrag gewen.  Hy is ʼn erelid van die Suid-Afrikaanse Wingerd- en Wynkundevereniging en die Misstofvereniging van Suid-Afrika.

  • In 2016 het die sagtevrugtebedryf 2 252 produsente ingesluit met 'n totale omset van R13,63 biljoen per jaar. Uit die oogpunt van wêreldproduksie, val Suid-Afrika onder die top tien vir pere, die top twintig vir appels, appelkose, perskes, nektariens en pruime, en 64ste vir kersies. In Suid-Afrika word sagtevrugte hoofsaaklik in die Wes-Kaap verbou.