Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
'Verlange' - ’n video oor Stellenbossers se erfenis
Outeur: Frieda le Roux
Gepubliseer: 28/09/2017

Daar is gemene grond in mense se verlange.

Met hierdie sin as wegspringpunt het die Universiteit Stellenbosch (US) se verantwoordelikheidsentrum vir Sosiale Impak en Transformasie 'n video gemaak oor Stellenbossers ter viering van Erfenisdag.

In die video, Verlange, reflekteer nege vroue, almal woonagting in een van die dorpies wat deel vorm van die groter Stellenbosch Munispaliteit, oor wat die woord “verlange" by hulle wakker maak.

Volgens Dr Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie, het ons meer in gemeen as wat ons dink. “Die video  help ons om te verstaan dat, wanneer ons ons stories deel, ons hierdie gedeelde stories en erfenis raaksien en daaruit kan leer."

Saartjie Botha, Direkteur: US Woordfees, sê met die deel van hul stories, het die deelnemers gewys daar is raakpunte tussen hul ervarings. Só word mense nader aan mekaar gebring en kan gemeenskaplikhede gesoek en ondersoek word. Die Woordfees en Transformasiekantoor was die drywers van dié projek, wat in samewerking met die Stellenbosch eBosch-erfenisprojek geskiet is.

Die vroue in die video, wat in Vrouemaand gemaak is, vertel van die plekke waar hulle woon, maar deel ook hul verlanges. En, uit verlange kom hoop. Elkeen van die vroue – hulle wissel in ouderdom van vroeg in die 20 tot 70 en ouer – is hoopvol vir die toekoms, as Stellenbossers en as Suid-Afrikaners.

“My verlange vir Stellenbosch is groter integrasie, ook met al die dorpies," sê Jennifer Saunders van Idasvallei. “Ons is geografies naby aan mekaar, maar die bevolking het so baie gegroei – die intimiteit van sosialisering wat ons eens geken het, is nie meer daar nie."

Jennifer onderskei tussen intellektuele verlange en 'n meer emosionele ervaring. In haar eie lewe is dit haar man, kort oorlede, na wie sy verlang.

Meeste van die deelnemers het vertel van hul kinderdae – sorgeloos, onskuldig, veilig – en hoe hulle graag die sterk waardes wat hulle met daardie tyd assosieer, sal wil oorhê. Vir Janine Mybugh van Pniël verteenwoordig haar jongdae ook 'n sterker “sense of community" as vandag. “Mense het so besig geword."

Verlange kan moontlik die eerste in 'n reeks videos word waar Stellenbossers, deur iets van hul eie belewenis te deel, saam kan bou aan 'n sinvolle, gedeelde erfenis en 'n hoopvolle toekoms.

Ander deelnemers is Leatitia Solomons Manuel (Vlottenburg en Cloetsville), Benita Cyster (Johannesdal), Ngabakazi Mpemnyama (Kayamandi), Mineke Toerien (Stellenbosch), Siena Charles (Kylemore), Cathy MacLaren (Raithby) en Vivian Kleiynhans (Stellenbosch).

Die video is te sien by http://woordfees.co.za/inhoud/inhoud/verlange/

Die video vorm deel van 'n gesamentlike projek deur die US Woordfees, die Afdeling Sosiale Impak, die Transformasiekantoor en die US Museum. Hierdie afdelings vorm deel van die Kantoor van die senior direkteur van Sosiale Impak en Transformasie. 

By die bekendstelling van die video was van links agter Prof Nico Koopman, Chimeney van Graan, Dr Leslie van Rooi, Saartjie Botha, Anthony Penderis, Johan Murry  en Monica du Toit. Voor staan Jennifer Saunders en Leatitia Solomons.