Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US student finalis in internasionale lesingskompetisie
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 22/09/2017

Matthew Mayne, 'n PhD student in aardwetenskappe aan Stellenbosch Universiteit (SU), sal Suid-Afrika verteenwoordig in die Young Persons' World Lecture Competition wat later vanjaar in Perth, Australië, aangebied word.

Met sy lesing, “How do rocks melt? A question requiring both chemistry and thermodynamics", het Mayne onlangs die nasionale uitdunne van die kompetisie gewen. Dié uitdunne het op 27 Junie 2017 by die St George's Klub in Port Elizabeth plaasgevind.

Hierdie jaarlikse kompetisie word deur die Institute of Materials, Minerals and Mining (IOM3) Suider-Afrika aangebied en studente en graduandi jonger as 28 jaar kan deelneem. Deelnemers kry 15 minute om hul navorsing vir 'n algemene gehoor aan te bied, gevolg deur vrae uit die gehoor en 'n beoordelingspaneel.

Mayne se lesing beskryf 'n katastrofale wêreld wat deur eenvoudige prosesse beheer word. Maar dan stel hy 'n sagteware pakket voor wat geoloë sal help om die prosesse wat ons planeet gevorm het, te ondersoek. Mayne het dié sagteware pakket, genaam Rcrust, vir sy MSc in geologie ontwikkel. (https://tinyurl.com/Rcrust)

Mayne is tans ingeskryf vir 'n gesamentlike PhD program tussen die US en die Université Jean Monnet (UJM) in Frankryk. Sy navorsing fokus op die ontwikkeling van 'n nuwe sagteware pakket wat die stabiliteit van minerale in rotse sal kan modelleer. Sy navorsing word geldelik ondersteun deur die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel inisiatief (SARChI) en die Franse Ambassade in Suid-Afrika.

Op die foto bo, van links na regs, die US se Matthew Mayne saam met naaswenners Oscar Tarique van die Universiteit van Pretoria (tweede) en Bridget Nomshado Zuma van die Universiteit van die Witwatersrand (derde).