Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Quo Vadis demokrasie?
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 18/09/2017

In 1994 het Suid-Afrikaners demokrasie met ope arms verwelkom. Maar vandag blyk die omhelsing nie so styf te wees soos ons dit graag sou wou hê nie.

“Dit wil voorkom asof ons nie heeltemal seker is hoe ons oor ons demokrasie moet dink nie," sê dr Cindy Steenekamp, 'n senior lektor in die Departement Politieke Wetenskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Steenekamp het in 'n onlangse studie vir die eerste keer die kenmerke van ʼn demokratiese samelewing in Suid-Afrika beskryf deur te kyk na mense se verbintenis tot demokratiese waardes, en hul ondersteuning vir die land se demokratiese bestel en politieke owerhede. Haar navorsingsvraag het spesifiek verband gehou met die voortbestaan van demokrasie en hoe dit sedert 1994 deur Suid-Afrikaners se politieke houdings en gedrag beïnvloed is.

Die bevindinge van Steenekamp se studie is in die Taiwan Journal of Democracy gepubliseer.

Sy het data van die laaste vier periodes van die World Values Survey (WVS) wat tussen 1995 en 2013 in Suid-Afrika gedoen is ontleed. Dié opnames het die vlak van politieke kultuur, die steun vir die demokratiese bestel en die politieke proses, asook die vlak van vertroue in politieke partye, die regering en die parlement gemeet. Die WVS is 'n waardevolle wêreldwye netwerk van sosiale wetenskaplikes wat kyk hoe waardes verander en wat hul impak op die sosiale en politieke lewe oor die tyd heen is. Gedurende elk van die vier periodes is persoonlike onderhoude met volwasse stedelike en landelike Suid-Afrikaners uit verteenwoordigende steekproewe in hul voorkeurtaal gevoer.

Steenekamp sê die ontleding van die WVS-data het getoon dat hoewel daar steun is vir die demokratiese regering en die huidige politieke stelsel, steun vir outoritarisme toegeneem het en vertroue in regeringsinstellings afgeneem het.

“Enersyds is die steun vir die demokratiese regering redelik hoog, ondanks 'n skerp daling tussen 2006 en 2013, en hoër as die steun vir ʼn outoritêre regering. Steun vir die huidige politieke stelsel styg steeds."

“Terselfdertyd het ondersteuning vir outoritarisme egter meer as verdubbel sedert 1995 en is dit nader aan die drempel van 50%. Vertroue in regeringsinstellings neem af en in 2013 was dit vir die eerste keer sedert die oorgang onder 50%."

“Die feit dat die gaping tussen steun vir demokratiese regering en outokratiese regering van 71.3% in 1995 tot 25.2% in 2013 verklein het, hou niks goed vir die voortbestaan van ʼn demokratiese samelewing in Suid-Afrika in nie."

Steenekamp voeg by dat vertroue in verskeie regeringsinstellings, soos politieke partye, die parlement en die regerings met meer as 20% tussen 1995 en 2013 afgeneem het.

Sy wys daarop dat die data 'n afname in Suid-Afrikaners se positiewe houding teenoor wetsgehoorsaamheid toon, ondanks die feit dat hulle oor die algemeen onkonvensionele  politieke gedrag, soos protesaksie en die gebruik van geweld vir politieke gewin, veroordeel.

Steenekamp sê daar kan verskillende redes vir hierdie teenstrydige resultate wees.

“ʼn Mens kan argumenteer dat die verbintenis tot demokrasie weens die sosio-ekonomiese realiteit van die meerderheid nie ten volle deel ons waardesisteem geword het nie.  Hoewel die swart middelklas sedert 1994 gegroei het, is daar nog steeds die uitdagings van armoede, werkloosheid en ongelykheid."

“Ten spyte van die voorsiening van basiese infrastruktuur en maatskaplike welsyn, moet die meerderheid Suid Afrikaners nog hul lewenstandaarde aansienlik verbeter."

“Ook die veranderende aard van partypolitiek, veral binne die ANC, en onstuimige politieke korrupsie is waarskynlik daarvoor verantwoordelik dat Suid-Afrikaners hul vertroue in die staat en politieke leiers verloor het. Die toename in onkonvensionele politieke gedrag  (protesoptrede in reaksie op swak dienslewering) is ʼn direkte resultaat van burgers se ontevredenheid met die staat."

Steenekamp meen die vlakke van ontevredenheid en burgerlike ongehoorsaamheid kan die dominante politieke instrument word wat mense gebruik om die openbare mening te mobiliseer en beleidmakers te beïnvloed.

“Sodra protesoptrede gewelddadig geraak het, het dit 'n negatiewe uitwerking op die voortbestaan van 'n demokratiese samelewing en kultuur."

Sy voeg by dat ons nie moet vergeet nie dat, in teenstelling met 'n outoritêre regering, 'n demokratiese regering soos ons s'n die ondersteuning van sy burgers nodig het om sy legitimiteit te handhaaf.

Steenekamp beklemtoon die belangrikheid van 'n politieke kultuur wat demokrasie bevorder en sê “demokratiese instellings alleen sal nie ons demokrasie stabiel en effektief laat funksioneer nie."

Bron: Steenekamp, C (2013). Democratic Political Community in South Africa Elusive or Not? Taiwan Journal of Democracy. Volume 13, No. 1, July 2017.

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Cindy Steenekamp

Departement Politieke Wetenskap

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 2115

E-pos: cindylee@sun.ac.za

                OF

Martin Viljoen

Bestuurder: Media

Korporatiewe Kommunikasie

Universiteit Stellenbosch

Tel: 021 808 4921

E-pos: viljoenm@sun.ac.za