Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-student en bekroonde pianis Kyle Shepherd by Africa Open op 19 September
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 14/09/2017

Die bekroonde pianis en improviseerder Kyle Shepherd gee op 19 September 'n openbare praatjie en uitvoering as deel van die IfPop Conversations-reeks, georganiseer deur die Interdissiplinêre Forum vir Populêre Musiek (IfPop) by Africa Open aan die Universiteit Stellenbosch (US).

Die IfPop is deel van Africa Open, 'n nuwe navorsingsinstituut vir musiek, navorsing en innovering in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskap aan die US.

Shepherd, wat tans 'n meestersgraad student aan die US is, sal in gesprek wees met Dr Stephanie Vos van Africa Open oor jazz praktyk as navorsing, die ontikkeling van 'n eie stem as kunstenaar, en twee vormende figure in Shepherd se kunstenaarspraktyk, Abdullah Ibrahim en Zim Ngqawana.

Die praatjie en uitvoering sal vanaf 18:00 tot 20:00 by die Galery Universiteit Stellenbosch (GUS)  plaasvind.

“Die verband tussen musiekpraktyk en navorsing is 'n onderwerp wat die akademie toenemend interesseer aangesien dit raakpunte het met vraagstukke oor alternatiewe kennissisteme en hoe kunsnavorsing kan skakel met nie-geskrewe vorme van kennis," sê  Vos, 'n jazz navorser en die projekleier van die IfPop.

“Soveel kennis oor jazz is steeds nie teenwoordig in akademiese bronne nie. Jazz musikante bly die grootste kennisdraers van jazz en sy geskiedenis. Studies soos dié van Kyle Shepherd is om hierdie rede van besondere waarde."

Shepherd se uitvoering en gesprek is die tweede geleentheid in IfPop Conversations, 'n reeks openbare praatjies gemik op akademici sowel as op die breër publiek, ten eind 'n platform te skep vir verskeie perspektiewe oor populêre musiek.

Die geleentheid is gratis en oop vir die publiek. Geen bespreking is nodig nie.

Vir meer inligting, sien Africa Open se Facebook-blad

Foto: Kyle Shepherd tydens een van sy konserte. (Fotograaf Gregory Franz)