Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meisies hoor ingenieurswese is veeleisend, uitdagend en OPWINDEND
Outeur: Liesel Koch
Gepubliseer: 12/09/2017

"Mense het baie respek en bewondering vir meisies wat 'braaf' genoeg is om die uitdaging te aanvaar om ingenieurswese te studeer," sê Larissa Tredoux, 'n eerstejaar Matie ingenieurstudent. Sy was een van die sprekers by die Fakulteit Ingenieurswese se jaarlikse Vroue in Ingenieurswese middag op 6 September 2017.

Hierdie geleentheid is in 2003 ingestel om ingenieurswese onder dogters te bevorder en om die mite te verdryf dat ingenieurswese slegs vir mans is. Sowat 250 Graad 10 tot 12-dogters, wat uitblink in Wiskunde en Fisiese Wetenskappe, is toegespreek deur 'n vrouespan bestaande uit 'n student, 'n dosent, 'n kundige op die gebied van gemengde leer, en 'n alumna wat 'n siviele ingenieur is. Hul boodskap was duidelik: Ingenieurswese is veeleisend, uitdagend, opwindend en lonend - en vroue is meer as bevoeg om dié uitdaging te takel én sukses te behaal.

Larissa het verder gesê: "My eerste jaar as 'n ingenieurstudent was een van die beste in my lewe. Dis was ook die moeilikste. Stellenbosch is 'n hele nuwe wêreld waarby aangepas moet word, maar dit is 'n goeie wêreld. Hierdie jaar het ek harder as ooit gewerk, ek het meer as ooit geleer, ek is meer as ooit uitgedaag. Maar, omdat ek so lief is vir ingenieurswese, was elke minuut die moeite werd. Ek het al die uitdagings omhels en elkeen daarvan geniet.

"Soms voel ek tog dat ek 'n nadeel het omdat ek 'n meisie is. Ek voel ek moet myself bewys om te toon dat ek alles so goed soos die manne kan doen, en selfs nog beter as hulle. Ek werk besonder hard, want een van my grootste vrese is dat ek 'n swak punt vir iets sal kry en dat mense dan sal sê 'Ag, dis in die haak, dis omdat sy 'n meisie is'. Dít sal vir my seker die grootste belediging wees wat enigiemand my kan gee."

Sy het met die boodskap afgesluit: "Vandag wil ek julle aanmoedig. Moenie dat enigiets die pad na jou drome versper nie. Laat die feit dat jy 'n vrou is jou grootste voordeel wees. Laat jou vasberadenheid om sukses te behaal, jou onstuitbaar maak!"

Dr Margreth Tadie, 'n dosent in die Departement Prosesingenieurswese, het die dogters betower met die entoesiastiese wyse waarop sy haar inspirerende boodskap oorgedra het. Sy het die skerpsinnige jong dames aangemoedig om te mik vir die onmoontlike. Sy het gesê: "Dis nodig dat vroue ingenieurswese studeer, nie ter wille van geslagsgelykheid nie, maar omdat Suid-Afrika ingenieurs benodig!"

Dr Moira Bladergroen, koördineerder vir gemengde leer in die Fakulteit Ingenieurswese, het die gehoor 'n vlugtige blik gegee op sommige van die moderne onderrigmetodes wat in die Fakulteit toegepas word, soos video's, opnames van lesings en ander aanlyn metodes.

Tracy Wehr, wat haar BIng-graad (Siviel) in 2011 by Stellenbosch behaal het, het haar aandoenlike verhaal vertel van die struikelblokke wat sy moes oorkom om 'n siviele ingenieur te word. Sy het die dogters aangemoedig om beheer oor hul eie lewe te neem en om vooruit te dink. Hulle is huis toe met die woorde: "Julle sal Suid-Afrika 'n beter plek maak as julle ingenieurs word."

Vier gelukkige dogters het 'n opwindende prys ontvang wat deur Sakhikamva se The Sky's the Limit-program​ geborg is. Dit behels 'n dag wat volgeprop is met lugvaart-verwante aktiwiteite en die kans om 'n vlug vir die eerste maal te beleef.

Reutech Radar Systems het geskenke vir die sprekers geborg.

Hooffoto:

Van links: Dr Margreth Tadie, Tracy Wehr, dr Moira Bladergroen en Larissa Tredoux.

Collage:

Van die dogters wat die geleentheid bygewoon het.