Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verbeter sy posisie op Times Higher Education ranglys
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 05/09/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het sy posisie op die Times Higher Education (THE) World University Rankings verbeter. In die 2018-weergawe, wat vandag (5 September 2017) bekendgestel word, word die US in die kategorie 351 – 400 geplaas.

Meer as ʼn 1000 instellings van 77 lande verskyn op die lys. Verlede jaar was die US in die kategorie 401-500.

“Ons is natuurlik ingenome met ons nuwe posisie op die spesifieke ranglys, maar handhaaf steeds ʼn genuanseerde benadering tot universiteitsranglyste – gegewe die huidige realiteite van die instelling, ons land en ons vasteland, sowel as die metodologie van die verskillende ranglyste waaroor daar goed-gedokumenteerde meningsverskille is," sê prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies.

“Die feit dat Stellenbosch ingesluit word in van die mees bekende ranglyste die afgelope paar jaar, is egter ʼn sterk aanduiding van die instelling wat internasionale erkenning geniet vir sy gehalte onderrig en navorsing.

“Ons is ook ingenome met ons verbetering op die navorsings-'pilaar' van die ranglys van die THE World University 2018 Rankings. Dit is ʼn weerspieëling van die Universiteit se navorsingsstatus in Suid-Afrika en op die vasteland."

Volgens die Suid-Afrikaanse Departement van Hoëronderwys en Opleiding, handhaaf die US die hoogste geweegde navorsingsuitset per voltydse personeellid van alle universiteite in die land oor die laaste sewe jaar.

“Ons duidelike uitgangspunt is steeds dat ons nie te veel klem op ranglyste plaas nie, dat akademiese uitnemendheid nie onderhandelbaar is nie, dat kwaliteit altyd eerste kom en dat daar nie gepoog word om enige ranglys kunsmatig te probeer beïnvloed nie," voeg hy by.

Volgens die THE World University Rankings, word navorsingsintensiewe universiteite volgens kernfunksies soos onderrig, navorsing, kennisoordrag en internasionale uitkyk beoordeel. 13 gekalibreerde prestasie indikatore word gebruik om vergelykings te doen.