Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
#VrouevanUS: Kampvegter vir bewysgebaseerde gesondheidsorg
Outeur: Jorisna Bonthuys
Gepubliseer: 16/08/2017

​Mediese studente wat in bewysgebaseerde gesondheidsorg (BGGS) onderrig word, is beter toegerus om gehaltesorg aan pasiënte te verskaf.

Só meen prof Taryn Young, Hoof van die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. “Met bewysgebaseerde gesondheidsorg word kliniese kundigheid wat in die praktyk en deur middel van ervaring verwerf word, geïntegreer met pasiënte se waardes en die beste beskikbare bewyse in die groter konteks van gesondheidsorg."

Sy beskryf BGGS as “'n benadering wat die gesondheidswerker se vermoë ontwikkel om die gehalte van navorsingsbewyse te ontleed voor dit op daaglikse kliniese probleme toegepas word". Hierdie vaardigheid is veral relevant ten opsigte van die hulpbronbeperkings oor die vasteland heen, sê sy.

Beste antwoorde

Young het haar PhD oor dié onderwerp voltooi en glo hierdie benadering voeg “ongelooflik baie waarde" tot die ontwikkeling van gesondheidsberoepslui toe. Sy verduidelik dit soos volg: Met BGGS word verseker dat behandeling of sorg – watter sort ook al aangebied word – op die beste navorsingsbewyse gegrond is. Dít geld van 'n keuse wat uitgeoefen moet word oor watter medikasie voorgeskryf moet word, tot 'n besluit oor voorkomende strategieë op bevolkingsvlak.

“Met hierdie benadering word student met die toepaslike hulpmiddels toegerus sodat hulle die beste antwoorde kan vind. In wese behels BGGS die ontleding van nuwe navorsing wat dan in die praktyk toegepas word."

Sy brei uit: “Dit begin vanuit die posisie waar gesondheidsberoepslui erken dat hulle nie alles weet nie. Dat jy 'n graad verwerf, beteken nie dat jy altyd weet wat die beste praktyk is nie, veral nie in die tempo waarteen die wetenskap tans ontwikkel nie."

Young het ondersoek ingestel na hoe hierdie benadering ten opsigte van onderrig en leer by die Fakulteit se voorgraadse mediese opleiding ingeskakel kan word, asook elders op die vasteland. Haar navorsing het ook gefokus op die beste wyse waarop voorgraadse mediese studente bygestaan kan word sodat hulle as praktiserende dokters 'n bewysgebaseerde benadering kan volg.

“BGGS moet dus aan die kern wees van die leerplan van alle gesondheidsberoepslui ten einde studente se kennis, benadering en vaardighede te bevorder," sê sy. “Dit strek tot voordeel van die hele gesondheidspan en maak 'n meer holistiese, doeltreffende benadering tot die lewering van gesondheidsorg moontlik."

Hierdie benadering is veral nuttig gegewe die noodsaaklikheid dat gesondheidsberoepslui op die hoogte van nuwe ontwikkelings moet bly om doeltreffende sorg te bied. Hulle moet ook in staat wees om skadelike of ondoeltreffende intervensies uit te skakel.

Goeie versus swak wetenskap

“Gesondheidsberoepslui moet op die hoogte kan bly van nuwe wetenskaplike bewyse en kan bepaal wat as goeie wetenskap beskou kan word al dan nie. Gegradueerdes moet toepaslike publikasies kan opspoor en krities daarmee kan omgaan. Dit is hierdie tipe vaardighede wat ons by ons gegradueerdes en gesondheidsberoepslui wil kweek," sê sy.

Young het 'n oorsig gedoen van sistematiese oorsigte wat die uitwerking van BGGS-onderrig ontleed. Dit het daarop gedui dat klinies geïntegreerde strategieë ten opsigte van assessering doeltreffender is as enkel- of geen intervensies nie. Sy sê: “'n Kombinasie van metodes, insluitende lesings, rekenaarlaboratoriumsessies, besprekings in klein groepe, joernaalklubs, die gebruik van werklike kliniese kwessies asook portefeuljes en werkopdragte, sal meer waarskynlik kennis, vaardighede en benaderings bevorder."

Young het ook studies onderneem om die geleenthede en struikelblokke ten opsigte van die implementering van hierdie benadering by die Fakulteit te bepaal. Dit het ingesluit 'n leerplandokument-oorsig, onderhoude met akademiese sameroepers, asook 'n peiling van onlangse gegradueerdes se sienings en ervarings.

Oorkoming van struikelblokke

Struikelblokke vir die implementering daarvan op voorgraadse vlak sluit in die kliniese werkslading en die teenstrydige prioriteite van studente en dosente. “Verreweg die algemeenste uitdagings vir BGGS-onderrig is die persepsie dat daar nie ruimte daarvoor in die leerplan is nie, wanvoorstellings daaroor, teenstand van personeelkant, tutors se gebrek aan selfvertroue, tydbeperkings en negatiewe rolmodelle."

Haar resultate toon dat BGGS die maklikste geleer kan word wanneer dit by 'n kliniese omgewing ingeskakel word. Sy verduidelik dit soos volg: “Dit help om onderrig op werklike kliniese besluite en optredes te grond en op studente se werklike leerbehoeftes te fokus.

“BGGS moet deel van die leerplan wees en daar moet 'n duidelike steierwerk van kennis wees – die fondament moet in die pre-kliniese jare gelê en in die kliniese jare verstewig word."

Young glo dit is belangrik dat student die toepaslikheid van BGGS besef en dit met kliniese werklikhede verbind. “Ons vertel studente dikwels dat hulle goeie gebruikers van navorsing moet wees. Hulle moet weet wat om te doen wanneer hulle voor onsekerhede te staan kom terwyl hulle geneeskunde beoefen. Hulle moet navorsingsbewyse kan bekyk, bevraagteken en gebruik. BGGS is relevant in alle dissiplines, ongeag waar jy werk."

Die Fakulteit is in talle opsigte aan die voorpunt wat betref die implementering van hierdie benadering op voorgraadse vlak, sê Young. “Wêreldwyd worstel instellings wat met mediese opleiding gemoeid is, met maniere om dit suksesvol in hul leerplan te implementeer. Groot belangstelling is al getoon in die werk wat hieroor aan die FGGW gedoen word, onder meer deur tersiêre instellings in Namibië, Uganda, Ethiopië en Rwanda.

Om sodanige leerplan in te stel, verg volgens Young institusionele steun, die regte aantal geskikte opvoeders en rolmodelle in 'n kliniese opset, maar veral geduld, deursettingsvermoë en pragmatisme.

“Net soos hul stetoskope, mmoet BGGS 'n nuttige hulpmiddel vir studente word."

Onderskrif: Prof Taryn Young.

Foto: Damien Schumann