Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ervaar anatomie soos nooit tevore
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 29/06/2017

​ʼn Opwindende nuwe aanlyninstrument wat ʼn algehele omwenteling in die leer en onderrig van anatomie en fisiologie teweeg gaan bring, is onlangs deur die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) bekom.

“Hierdie interaktiewe onderwyshulpbron gaan aan studente en akademici toegang tot die menslike anatomie verleen op maniere wat nie voorheen moontlik was nie," sê prof Julia Blitz, Visedekaan: Leer en Onderwys.

Hierdie aanlynplatform, bekend as Primal Pictures, is vir alle studente en personeel via die biblioteek-webwerf toeganklik of deur die skakel na www.anatomy.tv te volg. Toegang tot die portaal kan via rekenaars, slimfone en tablettoestelle bekom word.

Hierdie voorpunt-tegnologie bied aan gebruikers toegang tot duisende interaktiewe beelde van anatomiese strukture en stelsels wat gemanipuleer kan word om in 3D sigbaar te wees. Die beelde gaan met multimedia-tutoriale gepaard, wat met die kliek van ʼn knoppie beskikbaar is.

Pasgemaakte beelde en teks kan ook op PDF afgelaai word, wat gebêre en waartoe toegang sonder ʼn internetkonneksie bekom kan word, of wat uitgedruk kan word.

Ander inhoud sluit foto's, radiologiese skanderings, teks, videos, vraagsessies, inkleurbeelde en meer in.

“Die beskikbare modules dek nie net anatomie nie, maar ook fisiologie. Hierdie hulpbron is ʼn studiehulpmiddel vir voor- en nagraadse studente in alle gesondheidsprofessies en ook ʼn onderwyshulpmiddel vir lektore," het Blitz verduidelik.

Lektore kan al die multimedia-inhoud van Primal Pictures gebruik om met onderrig te help en van die inhoud kan ook vir toetse aangepas word.

Volgens mnr Tim Smith, Direkteur van Learning Curve, die verskaffer van Primal Pictures, is hierdie onderwysinstrument na agt ander universiteite in Suid-Afrika uitgerol en het dit reeds ʼn aansienlike verskil aan studente se begrip van anatomie gemaak.

 

Onderskrif: Me Ilana van Niekerk, voorsitter van die Tygerberg Akademiese Belangeraad, mnr Tim Smit, Besigheidontwikkelingsdirekteur van Learning Curve, mnr Jaydon Foiret, 'n nagraadse student aan die FGGW, mnr Eben Mouton, Direkteur: Besigheidsbestuur by die FGGW, mnr Daniel Smith van Learning Curve, prof Jimmy Volmink, Dekaan: FGGW, en prof Julia Blitz, Visedekaan: Leer en Onderrig by die FGGW.