Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die gesondheid van grond in organiese vrugteboorde in die Wes-Kaap van nader bekyk
Outeur: Janina von Diest, Annika Pieterse
Gepubliseer: 15/05/2017

Boerdery in die Wes-Kaap vervul nognie die groot aanvraag vir organies geproduseerde produkte nie, al is Suid-Afrika een van die grootste uitvoerders van organiese produkte. Meeste plase in die Wes-Kaap maak gebruik van tradisionele boerdery metodes wat die gebruik van chemiese plaagdoders behels. Die gebruik van hierdie plaagdoders het 'n groter negatiewe ekologiese impak as organiese boerdery. Organiese boere maak staat op die samewerking van menige ekosisteemdienste wat natuurlike regulatoriese prosesse bied soos biologiese beheer deur natuurlike predatore. Hierdie laat boere toe om die gebruik van chemiese plaagdoders te vermy, alhoewel bestuur intensiteit hoër is in terme van besluitneming om die landbou-ekosisteem gesondheid van die oes stelsel te ondersteun. Bestuursbesluite oor plaagbeheer en die bestuur van voedingstowwe in hierdie oes sisteme kan beïnvloed word deur navorsing oor organiese vrugte produksie, aangesien dit onbekend is tot watter mate individuele bestuurspraktyke die verhouding tussen veelvuldige bo- en ondergrondse ekosisteemdienste beïnvloed.

'n Internasionale span van navorsings-entomoloë, nematoloë en plant patoloë het in Stellenbosch bymekaar gekom van 12 tot 16 September 2016 om 'n gesamentlike projek te inisieer met die titel: "Ground cover management in organic orchards in South Africa: Trade-offs between above- and belowground ecosystem services". Die projek hoop om die onderliggende ekologiese meganismes te verstaan van gelyktydige bo- en ondergrondse ekologiese prosesse. Organiese boere moet staat maak op veelvuldige ekosisteemdienste omdat hul nie hierdie prosesse kan vervang met sintetiese insette nie. In Suid-Afrika is daar baie min wetenskaplike inligting oor die effektiewe organiese produksie van vrugte. Gevolglik het die land baie min gesertifiseerde organiese vrugte produsente, veral in die Wes-Kaap.

Hierdie projek word befonds deur die Ekhaga Foundation in Swede en bestuur deur Dr Klaus Birkhofer, Lund Universiteit, Swede. Medewerkers sluit in Drs. Pia Addison, Antoinette Malan, Nomakholwa Stokwe, Corinna Bazelet, Fisayo Daramola, Matthew Addison en Caro Kapp (almal van die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie, SU); Profs Wijnand Swart en Schalk Louw (Universiteit van die Vrystaat); Sheila Storey (Nemlab); Prof Des Conlong (Suid-Afrikaanse Suikerriet Navorsingsinstituut en ConsEnt); asook Drs. Jan Bengtsson (SLU, Swede) en Regina Lindborg (Lund Universiteit, Swede).

Die eerste vergadering het bestaan uit 'n besoek aan sommige van die studie areas asook 'n werkswinkel waar die uitleg van die proewe, die protokol van die steekproefneming en die bydrae van die verskeie navorsers bespreek was. Gesertifiseerde organiese of intensief bestuurde volhoubare vrugte boorde was besoek in Stellenbosch, Ceres en Robertson in die Wes-Kaap. Gespreksessies met die produsente en plaasbestuurders op hul plase het waardevolle insette en inligting gelewer oor die tegnieke, uitdagings en suksesse van die boerdery. Gedurende die drie dae van intensiewe gesprekke en voorleggings by STIAS het die navorsingspan die behoeftes van die produsente bespreek asook die studie ontwerp en navorsingsvrae verfyn sodat dit die huidige bestuurspraktyke kan komplimenteer in so 'n manier dat dit die produsente asook die algehele volhoubaarheid van organiese vrugteboerdery praktyke in Suid Afrika sal bevoordeel.

Tierhoek, 'n organiese boerdery in Robertson wat spesialiseer in die produksie van pruime, appelkose, perskes en kwepers, was gekies as die studie area. Die studie sal gewone grondbedekking metodes met 'n alternatiewe intensiewe grondbedekking vergelyk deur te kyk na hul effek op 'n verskeidenheid bo- en ondergrondse organismes, vrug skade en opbrengs. Die hipotese is dat grondbedekking die verdamping van water vanaf boom stelsels verminder en terselfdertyd detritus en organiese materiaal verskaf wat die gesondheid van grond bevorder en gevolglik lei tot gesonder bome en ekosisteme.

Veldwerk het begin in November 2016 toe 'n groot span van personeel en studente van die Departement van Bewaringsekologie en Entomologie op Tierhoek toegesak het om die eksperiment op te stel (m.a.w. om gras te hark). Dit was 'n dag van groot pret en harde fisiese arbeid. Twee weke nadat die eksperiment opgestel is, het die verskeie navorsers elkeen Tierhoek gaan besoek en hul eerste rondte van data versamel. Elke navorser het gefokus op die organisme waarop hul spesialiseer. Vir party navorsers het hierdie data insameling beteken dat hul grond monsters moes neem om te ontleed in die laboratorium vir die aanwesigheid en samestelling van bakterieë, swamme en voedingstowwe. Ander het weer gate gegrawe in die grond om detritivore en ontbinders te vang, of gesoek onder en tussen die bome vir spinnekoppe en sprinkane of strikke gehang in die bome om vlieënde insekte te vang.

Die projek sal 18 maande lank duur. Gedurende hierdie tyd sal daar vele geleenthede wees vir die medewerkers om te ontmoet en saam te werk om data te versamel. Een laaste sessie van data insameling is beplan vir Maart 2017, waarna alle data ontleed en gepubliseer sal word in 'n wetenskaplike joernaal. Die gesamentlike navorsingsprojek sal afgesluit word met 'n finale vergadering in Robertson om te bespreek hoe die resultate versprei sal word aan die mense wat dit gaan implementeer – die produsente.

Die landbou industrie in die Wes-Kaap kan net baat by 'n groter kennis basis van organiese produsente. Met 'n groter kennis basis en met meer ingeligte bedryfsadviseurs kom ondersteuning vir produsente wat wil oorskakel vanaf tradisionele boerdery metodes tot organiese boerdery, met die minste moontlike risiko.