Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Woordelose prentboeke help ouers en kinders lees
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 02/05/2017

In Suid-Afrika onderskat ons dikwels die potensiaal van woordelose prenteboeke om veral by ouers en hul voorskoolse kinders in arm gemeenskappe 'n kultuur van lees te help bevorder en geletterdheid te verbeter.

"Dit is ten spyte van internasionale studies wat getoon het dat woordelose prenteboeke ideaal is om 'n liefde vir lees by volwassenes en kinders te kweek en geletterdheidsontwikkeling op 'n vroeë ouderdom te bevorder," sê dr Adrie le Roux, 'n illustreerder van Pretoria.

Le Roux het onlangs haar doktorsgraad in Visuele Kunste aan die Universiteit Stellenbosch verwerf. Sy wou kultureel relevante en ekonomies lewensvatbare woordelose prenteboeke skep om 'n liefde vir lees in die huis aan te moedig, ongeag die ouer se geletterdheidsvlakke.

Le Roux sê haar navorsing het gewys dat woordelose prenteboeke die potensiaal het om die leesverhouding tussen ouers en kinders in arm gemeenskappe te verbeter en om kinders te help lees en te verstaan wat hulle lees.

As deel van haar navorsing het Le Roux 'n vier tot ses weke lees- en boekskeppingsprojek vir 42 ouers/primêre versorgers en hul kinders (3-6 jaar) by drie kleuterskole in Mamelodi, Shoshanguve en Melutsi in Gauteng aangebied. Sy sê baie mense in dié areas het nie geld om boeke te koop nie en baie kinders word nie aan boeke blootgestel voordat hulle skool toe gaan nie.Adrie_1.jpg

Le Roux het vóór die projek 'n werkswinkel by die eerste twee kleuterskole in Mamelodi en Shoshanguve  gehou waar sy en twee fasiliteerders van Nali'Bali, 'n nasionale lees-vir-genot veldtog, deelnemers se stories oor hul daaglikse lewens versamel het. By hierdie kleuterskole het sy bestaande woordelose prenteboeke vir lees gebruik.

Le Roux sê die deelnemers is gevra om hul stories te dokumenteer deur dit te teken of te skryf.

"Terwyl die kinders besig was om illustrasies te skep, het hul ouers of primêre versorgers vir hulle vrae gevra en hierdie stories gedokumenteer. Die ouers het dan uitgebrei op wat hul kind gesê het en in sommige gevalle ook bygevoegings tot die tekeninge gemaak om die storie te help beskryf."

Saam het Le Roux, die ouers en hul kinders, sowel as vyf illustreerders, 18 prototipe woordelose prenteboeke by die twee werkswinkels die lig laat sien. Ouers kon kopieë hiervan huis toe te neem om saam met hul kinders te lees.

Sy noem dat die boeke as proefneming by die derde kleuterskool gebruik is om te sien hoe hulle  in 'n ander omgewing sou werk. By dié kleuterskool het Le Roux hierdie boeke vir lees gebruik en nie bestaande woordelose prenteboeke soos by die eerste twee kleuterskole nie.

Le Roux sê deur ouers toe te laat om die boeke huis toe te neem kon sy die persepsies van die ouers of primêre versorgers en die kinders rakende die waarde daarvan om die boeke te gebruik bepaal.

Volgens Le Roux was daar as gevolg van die visuele aard van woordelose prenteboeke 'n transformasie in die leesverhouding tussen ouers en kinders en in die wyse waarop ouers lees met hul kinders beskou het.

"Ouers wat aan die studie deelgeneem het, het deurgaans gerapporteer dat hulle meer met hul kinders lees as voor die projek omdat dit makliker was om woordelose prenteboeke by die huis te gebruik."

"In sommige gevalle is daar in plaas van drie keer per week tot soveel as drie keer per dag oor 'n vyf-weke periode gelees. In sommige gevalle het lees 'n familie-aktiwiteit geword, met ouer kinders in die gesin wat ook stories vertel het."

"Baie ouers het genoem dat nadat hulle die boek een of twee keer vir hul kind gelees het hy/sy  begin om vir hulle te lees. Beide ouer en kind het aktief aan die leesproses begin deelneem."

Volgens Le Roux het ouers die opvoedingswaarde van die boeke beklemtoon en gesê hul kinders het vaardighede – insluitend woordeskat en visuele geletterdheidsvaardighede – ontwikkel en hul kennis vermeerdeer.

"Hulle het ook genoem dat hul kinders beter  gekonsentreer het wanneer woordelose prenteboeke gebruik is in teenstelling met die lees van die Bybel, tydskrifte, skoolboeke of, in sommige gevalle, ander prenteboeke met woorde."

"Met woordelose prenteboeke verstaan kinders die boek en die storie beter en is hulle dus aktief betrokke by die 'lees'. Dit maak die aktiwiteit meer sinvol nie."

Le Roux voeg by dat ouers en primêre versorgers ook gesê het hul eie kennis  en vertroue in lees het as gevolg van die boeke toegeneem.

Sy sê haar navorsing bevestig ander studies wat getoon het dat die afwesigheid van gedrukte teks beteken 'n storie kan geskep word deur illustrasies te 'lees' met behulp van 'n taal wat die leser verkies . Ook is die teks nie 'n hindernis tot lees vir individue wat nog nie die lees van tekste onder die knie het nie.

Le Roux meen woordelose prenteboeke kan deur lesers van alle agtergronde geniet word ongeag hul geletterdheidsvlakke.

  • Foto 1: Pixabay
  • Foto 2: Dr Adrie le Roux

SLEGS VIR MEDIANAVRAE

Dr Adrie le Roux

Selfwerksaam

Sel: 082 496 6122

E-pos: adrie.leroux@gmail.com

Webwerf: www.adrieleroux.com