Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student stoei met buffels, kamp, om graad te kry
Outeur: Wilma Stassen
Gepubliseer: 15/03/2017

​Bykans 230 studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het hul grade by vandeesweek se gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch ontvang.  

Vir die meeste van hierdie studente verteenwoordig dit die hoogtepunt van jare van harde werk en ontelbare ure agter ʼn lessenaar. Vir Charlene Clarke, wat vandeesweek haar MSc in Molekulêre Biologie ontvang het, het voorbereiding vir haar graad 12 weke van kampeerdery in die Hluhluwe-iMfolozi-wildreservaat in KwaZulu-Natal ingesluit. Daar het sy die Afrika-buffel en Afrika se grootste roofdiere, wat gelukkig onder narkose was, van aangesig tot aangesig teëgekom.

Clarke se navorsing vir haar MSc het die uitwerking van die tuberkulose-veltoets (TVT) op ʼn groep proteïene (interferon-gamma) in buffels en beeste ondersoek. Dit het die insameling van bloed- en ander monsters van hierdie diere behels. Haar werk maak deel uit van die FGGW se Diere-TB-navorsingsgroep, wat omvattende navorsing oor beestuberkulose en die uitwerking daarvan op wilde diere doen.

Rekordgetal PhD's

Onder die gegradueerdes was daar 14 nuwe PhD-kandidate wat vandeesweek hul doktorate ontvang het. Saam met die 21 PhD-kandidate wat in Desember verlede jaar gegradueer het, is dit die meeste PhD's wat die Fakulteit nog in een jaar opgelewer het.  

Onder die groep nuwe PhD-gegradueerdes is drie akademici van die FGGW – twee pediaters van die Departement Pediatrie en Kindergesondheid en ʼn senior lektor van die Afdeling Fisioterapie.

Dr Angela Dramowski se PhD-navorsing het die koers van gesondheidsorg-geassosieerde infeksies (GGI's) van gehospitaliseerde kinders ondersoek. Sy het bevind die Suid-Afrikaanse koers is veel hoër as dié van ander hoë- en middelinkomste-omgewings, hoofsaaklik weens oorbevolking, ʼn tekort aan personeel en die voorkoms van MIV. Haar studie het ook die bydrae van GGI's tot kindersterftes en die gepaardgaande bykomende kostes bekyk. Dit bied voorts metodes om GGI's te beperk en is die eerste omvattende padkaart om GGI in Afrika te pak.

Vir haar PhD het dr Dawn Ernstzen kliniese praktykriglyne vir die behandeling van chroniese spier-skeletstelselpyn spesifiek vir die Suid-Afrikaanse konteks ontwikkel. Haar bevindings toon dat aanpassings in huidige praktykpatrone, asook die organisasie en bestuur van gesondheidsorgstelsels, tot die inwerkingstelling van hierdie riglyne sal bydra.

Dr Pren Naidoo se PhD-navorsing het die impak van ʼn nuwe diagnostiese TB-instrument, bekend as die Gene Xpert, in 142 Kaapstadse klinieke geëvalueer. Sy het bevind dat ofskoon dié instrument die diagnose van veelvoudige middelweerstandigheid drasties versnel en behandeling derhalwe vinniger kan begin, daar ook talle probleme met die Xpert is. Dit bring byvoorbeeld nie die diagnose van meer TB-gevalle of beter behandelingsuitkomste mee nie, en het die koste per diagnose met 150% verhoog. Die gevolgtrekking van haar studie is dat sommige gebreke in die gesondheidstelsel die volle potensiaal van Xpert verlaag en dat dit dringend verbeter moet word om die voordele van hierdie duur belegging ten volle te benut.

Ander grade

Uit die Fakulteit se bykans 230 gegradueerdes het 14 kandidate hul MMed-grade voltooi om mediese spesialiste te word; 14 pas gekwalifiseerde dokters het MB,ChB-grade en 34 studente MSc-grade ontvang; 5 Honneurs- en 39 Meestersgrade is toegeken; terwyl 104 studente nagraadse diplomas ontvang het.

Onderskrif: Graduandi Trisha Parbhoo, Alma Polson, Ncite Da Camara en Charlene Clarke.