Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US stel twee nuwe dekane aan
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 20/01/2017

Die Universiteit Stellenbosch (US) het twee nuwe dekane aangestel: Prof Nicola Smit word die Dekaan van Regsgeleerdheid, terwyl prof Wikus van Niekerk die Dekaan van die Fakulteit van Ingenieurswese word.

Prof Smit (44), wat prof Sonia Human opvolg, het haar voorgraadse studies in die Regte aan die Universiteit van Pretoria voltooi, en het ʼn doktorsgraad in die Regte van die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (nou die Universiteit van Johannesburg) in 2002 verwerf.

Haar studieveld is Arbeidsreg, en sy het op hierdie gebied doseer aan die Universiteite van Pretoria en Johannesburg, asook aan UNISA.

Van 2010 tot 2012 was prof Smit die Visedekaan van die Fakulteit Regsgeleerdheid van die Universiteit van Johannesburg, en in Januarie 2013 is sy aangestel as Uitvoerende Dekaan van die Regsfakulteit van die Noordwes-universiteit se Potchefstroom-kampus.

Sy sal op 1 Augustus 2017 in haar nuwe pos aan die US begin.

Prof Van Niekerk (54), wat sy voorgraadse studies in Ingenieurwese aan die US voltooi het, volg prof Hansie Knoetze op. Hy het sy PhD in Meganiese Ingenieurswese van die Universiteit van Kalifornië, Berkeley in 1994 verwerf, en is tans besig met ʼn MBA by die Nagraadse Bestuurskool van die Universiteit van Kaapstad.

In Januarie 2000 is prof Van Niekerk, ʼn geregistreerde professionele ingenieur by die Ingenieursraad van Suid-Afrika, as professor by die US aangestel. Sy navorsingsgebied is hernubare energie en die bydrae daarvan om klimaatsverandering te verminder.

Sedert Augustus 2006 is hy die Direkteur van die US se Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudies, asook ʼn stigtersdirekteur en aandeelhouer van drie maatskappye wat spesialiseer in dié veld, naamlik Sound Research Laboratories South Africa, GeoSUN Africa, en Stelenergy (2013 tot 2016).

Prof Van Niekerk begin op 1 Julie 2017 in sy nuwe pos.