Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Is Posttraumatiese stressteurnis in jou gene?
Outeur: Mandi Barnard
Gepubliseer: 15/11/2016

Kan posttraumatiese stressteurnis (PTSS) deur gedeelde familiegene aan generasies oorgedra word? Kan ʼn eenvoudige bloedtoets aandui of jy geneties ontvanklik daarvoor is?

Dit is vrae wat ʼn navorser by die Universiteit Stellenbosch (US) hoop om te beantwoord deur bloedmonsters van verkragtingslagoffers in KwaZulu-Natal te ontleed om vas te stel of daar epigenetiese merkers voorkom wat aan PTSS gekoppel is. Epigenetika is die studie van veranderings in organismes wat veroorsaak word deur die verandering in geenuitdrukking sonder om die genetiese struktuur self te verander.

Me Jani Nothling het ʼn beurs van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (SAMNR) ontvang om navorsing vir ʼn PhD-graad te doen. Sy is ʼn PhD-kandidaat en navorsingsassistent in die span wat navorsing oor PTSS doen by die Departement Psigiatrie van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

Die span doen hoofsaaklik navorsing oor die molekulêre etiologie of oorsake van PTSS. Dit is ʼn ernstige, chroniese en verswakkende psigiatriese steuring wat kan voorkom nadat ʼn persoon aan ʼn traumatiese voorval blootgestel is. Dit is ʼn geval waar intense vrees, hulpeloosheid en angs voorkom, wat insluit – maar nie beperk is tot nie – verkragting, fisieke aanranding, kaping, motorongelukke en blootstelling aan oorlogsituasies.

Sy stel profiele saam deur deoksiribonukleïensuur (DNS)-metilering toe te pas om die verskille in die epigenetiese profiel van slagoffers wat PTSS ontwikkel te vergelyk met dié wat dit nie ontwikkel nie. Wisselings of veranderings in DNS-metilering kom voor wanneer ʼn metielgroep by ʼn deel van ʼn geen gevoeg of weggeneem word. DNS-metilering of -demetilering verhoog of verlaag geenuitdrukking, wat kan lei tot verskille in proteïenvlakke.

Sekere gene wat verskillend gemetileer is en verband hou met PTSV is reeds gevind. Dit sluit in neurochemikalieë (byvoorbeeld gene wat serotonien en dopamien vervoer), sowel as gene wat verbind word met brein- en neurale ontwikkeling, die immuunsisteem en die hipotalamiese-pituïtêre-adrenale-as (laasgenoemde staan algemeen bekend as die stelsel wat verantwoordelik is vir die veg-of-vlug reaksie).

Gene wat verskillend gemetileer is, kan spesifieke simptome wat met PTSV verband hou veroorsaak, soos die herlewing van die trauma, vermyding van situasies wat ʼn mens aan die trauma kan herinner en oorstimulering. "Epigenetika is ʼn relatiewe nuwe veld in psigiatrie, veral die bestudering van metilering in ʼn groot getal gene in vergelyking met spesifieke gene wat voorheen met PTSS verbind is," het Nothling gesê. "Trauma is ʼn omgewingsfaktor wat kan lei tot ʼn verandering in die epigenetiese profiel van verkragtingslagoffers."

Sy hoop om met hierdie studie ʼn profiel van DNS-metileringsmerkers saam te stel om die molekulêre oorsaak te verduidelik van PTSS onder verkragtingslagoffers wat die steurnis ontwikkel.

Die SAMNR se doel met die PhD-beursprogram is om die tekort aan graduandi met PhD-navorsingsgrade in Suid-Afrika aan te spreek. Die doel, soos voorgestel deur die Nasionale Gesondheidsnavorsingskomitee in 2011, is om die onderrig en opleiding van 1 000 PhD-kandidate in gesondheidswetenskappe te finansier oor ʼn tydperk van 10 jaar met ʼn grootskaalse PhD-program vir kandidate in alle kategorieë in gesondheidsorg met graadgebaseerde kwalifikasies.