Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Priya Pillay
Ontmoet Priya Pillay: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 18/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Priya Pillay.

As dit nie vir haar ouers en grootouers se harde werk was nie, sou Priya Pillay nie vandag ’n eerstejaar Mb,ChB-student aan die Unversiteit Stellenbosch kon wees nie. 

“Hulle moes deur moeilike tye gaan om na hulself om te sien en hulself op te voed. My grootouers het met niks begin nie, maar tog die belangrikheid van opvoeding besef en as gevolg daarvan vir my ouers ’n toekoms kon gee, wat nou na my toe oorgedra is.” 

Hulle werksetiek is ook oorgeërf en Pillay, wat met ses onderskeidings matrikuleer het van St. Dunstan’s College in Benoni, sê sy studeer elke dag tussen vyf en sewe ure. “Moenie die dae tel nie, maar laat die dae tel,” is haar lewensleuse.

Pillay is geïnteresseerd daarin om die menslike liggaam te kan behandel  en “reg te maak”, maar hoop om eendag nie net fisieke wonde te kan genees nie, maar ook die wonde in die samelewing te help genees.

Sy beskryf haarself as ’n “oopkop siele-soeker”, op die pad na geluk en sê sy is geïnspireerd deur die menigte geleenthede wat in die moderne wêreld beskikbaar is, gretig om daarvan gebruik te maak. 

“Die doel van die lewe is om dit te vind waarvoor jy lief is en dit dan goed te doen sodat jy ander mense se lewes positief kan beïnvloed.”

Vinnige vrae:
  • Beste tydsbestuurwenk? “Beperk sosiale media- en selfoongebruik en skakel jou data af as jy besig is om ’n taak te probeer voltooi.”
  • Kan jy bak of kook? “Ja (beide).”
  • Wat is jou spesialiteitsgereg(te)? “Gevulde marinara mozzarella en spinasiehoender, en rooswater roomskuimkoek.”
  • Boodskap vir die kampus? “In moeilike tye moet ons saamstaan en mekaar ondersteun.”