Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Cathanja Slabbert
Ontmoet Cathanja Slabbert: #MyTygerMaties60
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 14/11/2016

As deel van ons 60ste vieringe, stel die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe 60 toekomstige gesondheidsorgwerkers bekend wat tans eerstejaars is. Ontmoet Cathanja Slabbert.

Cathanja Slabbert glo meer mense moet met energie lewe en waarsku volwassenes om nie die jeug se lus vir die lewe te blus nie. “As hulle opgewonde is oor iets, laat hulle opgewonde wees. Moet hulle ook nie negatief maak oor ons land se toekoms nie – negatiewe mense gaan nie ’n verskil maak nie.”

Slabbert, ’n eerstejaar MB,ChB-student aan die Universiteit Stellenbosch, sien haarself as iemand met hope energie en glo nie daarin om ongelukkig of ondankbaar te wees nie. “Glimlag, want die lewe is lekker,” is een van haar lewensleuses. 

Slabbert was hoofmeisie van Bloemhof Hoërskool in Stellenbosch en het ook Westelike Provinsie-kleure in atletiek verower tydens haar skoolloopbaan. Sy is steeds baie aktief en vertel dat sy amper elke dag oefen. “As jy eers jou ritme vind is dit maklik om daarby te hou.” 

Haar sport het haar ook die waarde van toewyding geleer: “Harde werk wen talent elke keer.”

Het jy geweet…
  • Sy sal graag eendag op ’n plesierboot wil werk as ’n skeepsdokter sodat sy die wêreld kan verken terywl sy haar passie uitleef. “Ná dit sal ek vir ’n jaar in Afrika wil gaan werk en dan terugkeer Suid-Afrika toe.”
  • Sy is mal oor roomys en biltong.
  • Taylor Swift en Justin Bieber is haar gunsteling kunstenaars.
  • Sy het by haar pa, ook ’n oud-Matie en dokter, geleer dat goeie beplanning goud werd is. Sy glo daarin om elke dag ook ’n tydjie uit te sit vir onbeplande gebeure soos iemand wat kom inloer vir ’n koppie tee.