Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie en Fakuldades Est, Brasilië versterk vennootskap
Outeur: Dion Forster
Gepubliseer: 16/09/2016

Die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie in die Faulteit Teologie by Universiteit Stellenbosch is sedert 2007 betrokke by ʼn ryk en vrugbare vennootskap met kollegas van Faculdades EST. Faculdades EST is ʼn Brasiliaanse navorsings- en akademiese opleidingsinstituut in die menslike wetenskappe, toegepaste sosiale wetenskappe, linguistiek, tale, kunste en gesondheid. Die vennootskap fokus hoofsaaklik op temas in Publieke Teologie in die onderskeie kontekste. Prof Dr Rudolf von Sinner van Faculdades EST en Dr Dion Forster van die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie is die koordineerders van 'n voortgesette navorsingsprojek oor die aard en inhoud van Publieke Teologieë in Brasilië en Suid-Afrika. Deur die jare was dit 'n baie vrugbare samewerking wat uitruil van studente en personeel ingesluit het, asook deelname aan konferensies in Sao Leopoldo en Stellenbosch en gesamentlike publikasies.

Op 14 September 2016 het die Fakulteit Teologie (Universiteit Stellenbosch) en die Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie 'n kunswerk aan Prof Dr Rudolf von Sinner vir die Sentrum vir Etiek by Faculdades EST oorhandig. Die kunswerk, geskep deur Prof Daniel Louw (Emeritus Professor – en voormalige Dekaan – van die Fakulteit Teologie, Stellenbsoch) se titel is 'The Cursed and Wounded Healer'. Dit simboliseer die broosheid en gebrokenheid van mense en die gemeenskap as 'n gevolg van sonde. Tog dui dit op die hoop van heling en restorasie wat Christus se kruis bring, wat in Paulus se terminologie as heelheid (parrhesia) uitgedruk word.

Ons sien uit na baie vrugbare jare van Suid-Suid samewerking tussen hierdie twee Suidelike hemisferiese instellings. In die foto oorhandig Dr Donald Katts, Stellenbosch (links) die kunswerk aan Prof Dr Rudolf von Sinner (regs) tydens 'n spesiale seremonie by Faculdades EST.