Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Viserektor wil bou aan US se reputasie
Outeur: Corporate Marketing/ Korporatiewe Bemarking
Gepubliseer: 05/08/2016

"Aan die begin is dit belangrik om te luister na wat mense sê, die instansie te leer ken en ʼn goeie begrip van almal se behoeftes en verwagtinge te vorm."

So sê prof Hester Klopper wat vandeesweek by die Universiteit Stellenbosch (US) as Viserektor: Strategiese Inisiatiewe en Internasionalisering ingeval het. Klopper is 'n internasionaal-gerekende akademikus en professionele leier met uitgebreide netwerke op die gebied van gesondheid, verpleegkunde, en gesondheidsorg.

Sy is op 9 Mei vanjaar tydens 'n Raadsvergadering in dié posisie aangestel.

Prof Nico Koopman, wat as Viserektor in die portefeuljes Sosiale Impak, Transformasie en Personeel waargeneem het, is ook tydens dié Raadsvergadering permanent aangestel in dié posisie.

"Ek is baie opgewonde en dit is vir my 'n eer en voorreg om aangestel te word in die posisie en meer so by die Universiteit Stellenbosch. Ek sien uit na die geleentheid om saam met 'n uitstekende bestuurspan te kan werk en om verder uit te bou aan die reputasie en die geskiedenis van die Universiteit," sê Klopper.

"Verder is die uitdaging om vergestalting te gee aan die nuwe portefeulje van strategiese inisiatiewe en internasionalisering. Van belang sal wees om die strategiese intensie tot op departementele vlak te operasionaliseer met gepaardgaande indikatore vir deurlopende monitering en evaluering."

Dié voormalige Hoof Uitvoerende Beampte van FUNDISA (Forum for University Nursing Deans of SA) en voormalige President van Sigma Theta Tau Internasionaal (STTI) van 2013 – 2015 is ook ʼn buitengewone professor in die INSINQ navorsingseenheid verbonde aan die Noordwes-Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland waar sy voorheen die Dekaan van die Fakulteit Gemeenskaps- en Gesondheidswetenskappe was. Hester is die enigste Suid-Afrikaner wat ingehuldig is in die American Academy of Nursing (FAAN) en is ook op 23 Julie vanjaar ingehuldig in die International Hall of Fame for Research Excellence van STTI vir haar internasionale bydrae in navorsing. September vanjaar sal sy vereer word met ʼn eredoktorsgraad van Oxford Brookes Universiteit in die VK vir haar bydrae tot verpleegopleiding en -navorsing wêreldwyd.