Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Doktorale kandidaat se eerste digbundel gepubliseer
Outeur: Lynne Rippenaar-Moses
Gepubliseer: 26/07/2016

Die eerste digbundel uit die pen van me Sindiswa Busuku-Mathese, ʼn doktorale kandidaat van die Nagraadse Skool van die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe aan die  Universiteit Stellenbosch, is deur Botsotso gepubliseer.

Busuku-Mathese, oorspronklik van Durban-Noord, is tans besig met die eerste jaar van haar doktorale studies in die Departement Engels en voltooi haar studies deur middel van ʼn drie jaar lange voltydse beurs wat deur die Nagraadse Skool aangebied word. Haar promotor is prof Sally-Ann Murray, ʼn akademikus en digter vir wie se werk Busuku-Mathese baie bewondering het.

Loud and Yellow Laughter, sê Busuku-Mathese, is ʼn persoonlike besinning oor kindwees.

"In die gedigte bestaan daar spanning tussen die praat van die waarheid en die toets van die waarheid."

Die gedigte in die bundel is verweef met argiefmateriaal soos briewe, foto's, stukkies van gesprekke wat verbatim opgeneem is en notas wat gevind is. Busuku-Mathese gebruik ook dramatiese tegnieke soos rolverdeling en regie-aanwysings om die tekste se heropvoering van reeds bestaande gebeure tussen die hoofkarakters – Die Moeder, Die Vader en Die Dogter – te beklemtoon.

As die aangenome dogter van ʼn man van Yorkshire, Brittanje en die biologiese dogter van ʼn vrou van Mount Fletcher, Oos-Kaap, het sy aan tradisionele standaarde gemeet alles behalwe ʼn normale kindwees gehad. Volgens haar is haar digbundel ook ʼn skeppende gedenkskrif aan haar aangenome pa, wat oorlede is toe sy maar 13 jaar oud was.  

"Die digbundel ondersoek familie en intergenerasionele gesprekke oor ouerskap en kindwees in Suid-Afrika, asook onderwerpe soos aanneming en (be)hoort, en generasiegapings wat binne families ontstaan," verduidelik sy.

"Dit hou verband met my eie agtergrond en is baie persoonlik."

Deur in haar ma en pa se verledes en die ontwikkeling van hul verhouding – ʼn ouerskapsverhouding tussen twee vriende – te delf, verken Busuku-Mathese deur middel van haar skryfwerk haar identiteit as ʼn Suid-Afrikaner deur outo/biografie, elegie en dokumentêre collage te vermeng om die kruispunte tussen geskiedenis en fiksie te verken.

"My ouers was twee vriende wat besluit het om ʼn kind saam groot te maak. Dit het beslis nie die verhoudings weerspieël wat ek tussen my vriende se ouers, wat in romantiese verhoudings betrokke was en hul kinders in daardie verhoudings grootgemaak het, waargeneem het nie. Ek skryf egter oor fragmente van verskeie lewens oor vier generasielyne; dit is ʼn veelstemmige meditasie oor verlies en hoop – ʼn heronderhandeling en somtyds selfs ʼn herskrywing van die verlede. Daar is ʼn glibberigheid aan die bundel, ʼn soort heen-en-weer tussen die persoon en die persona, ʼn samesmelting tussen verlede, geheue, mite en dokumentêr, alles in die gedigte verweef, waarvan mens deurentyd bewus moet wees," sê sy.

Die manuskrip vir haar bundel, so verduidelik sy, het ontwikkel uit die digwerk wat deel uitgemaak het van haar magistertesis in Skeppende Skryfwerk, onder studieleiding van die bekroonde Suid-Afrikaanse digter prof Kobus Moolman, aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Voordat dit gepubliseer is, het haar werk ook in plaaslike vaktydskrifte vir die digkuns soos New Coin, New Contrast, Prufrock, Ons Klyntji en Aerodrome verskyn. In 2015 is dit op die kortlys geplaas vir die toonaangewende Sol Plaatje Europese Unie-digkunsprys, waar sy die tweede plek behaal het.  

In 2016 het Botsotso besluit om haar digkuns te publiseer – ʼn merkwaardige prestasie, aangesien ongevraagde voorleggings deur onbekende digters en skrywers dikwels geïgnoreer word.  

"Ek sal jok as ek sê dit was maklik. Ek het sterk teenstand teen nuwe digters ervaar en jy sal heel dikwels van die meeste digkunsuitgewers hoor dat ongevraagde manuskripte nie verwelkom word nie. Dit is ʼn algemene reaksie en dit kan frustrerend wees wanneer die paar digkunsuitgewers in die land nie nuwe materiaal van nuwe digters wil oorweeg nie, so dit was baie opwindend toe Botsotso my ongevraagde manuskrip aanvaar het. Alhoewel dit moeiliker is om digkuns gepubliseer te kry, glo ek hoe meer ongevraagde werk ter oorweging aanvaar word, hoe meer sal uitgewers interessante digkuns begin ontdek wat hulle dalk as gevolg van uitsluitende denke kon misgekyk het."

Sy hoop dat haar werk tot gesprekke oor verskillende vorms van identiteit in Suid-Afrika sal bydra en sal help om alternatiewe verhale en stemme na daardie ruimte te bring, en dit sodoende meer sigbaar sal maak.

"Kwessies van identiteit is werklik en persoonlik. Ek dink dit is ʼn belangrike gesprek om in hierdie land te hê, veral in die lig van hoe divers ons land is en hoe ons ervarings van wat dit beteken om Suid-Afrikaans te wees, verskil. Dit is ʼn gesprek waarmee ek glo ons steeds worstel en wat ons sien ontvou terwyl ons as Suid-Afrikaners in verskillende rigtings getrek word. My digkuns verken wat dit beteken om groot te word in ʼn huis wat nie stereotipies is nie en om jonk te wees en om te worstel met die liminale ruimte tussen twee ouers wat radikaal uiteenlopende wêrelde verteenwoordig."

Die digbundel sien egter nie die alternatief tot tradisionele gesinstrukture as abnormaal of as ʼn spektakel nie.

"Dit was nog altyd my bedoeling om ʼn alternatief tot die tradisionele en ʼn blik op ʼn ander vorm van ouerskap voor te hou sonder om dit anders te laat lyk. Die bundel bevestig dat normaal nie altyd tradisioneel is nie en dat daar verskillende onderskeidings is. Uiteindelik is dit my hoop dat my digbundel bydra tot gesprekke oor ons verskeie vorms van Suid-Afrikaans wees."

Indien u daarin belangstel om ʼn eksemplaar van Loud and Yellow Laughter teen R80 aan te koop, kan u met Botsotso in verbinding tree by botsotso@artslink.co.za of met Busuku-Mathese by sindi.busuku@gmail.com.

Foto: Me Sindi Busuku-Mathese met haar eerste digbundel, Loud and Yellow Laughter, wat onlangs deur Botsotso gepubliseer is. (Anton Jordaan, SSFD)