Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Suid-Afrika se grootwithaaie stuur af op uitsterwing
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 19/07/2016

Terwyl sommige glo dat grootwithaaie se getalle in ons oseane aan die toeneem is, skets die resultate van 'n nuut gepubliseerde wetenskaplike studie van die Universiteit Stellenbosch (US) 'n somber prentjie.  Die Suid-Afrikaanse withaaibevolking het die laagste genetiese diversiteit van alle withaaibevolkings ter wêreld en boonop is daar slegs tussen 353 tot 522 individue oor.

"Die getalle is uiters laag. Indien die situasie nie gaan verander nie, stuur Suid-Afrika se grootwithaaie af op moontlike uitsterwing," sê dr. Sara Andreotti van die Departement Plant- en Dierkunde aan die US en hoofouteur van die studie wat in die vaktydskrif Marine Ecology Progress Series gepubliseer is.

Hierdie bevindings is gebaseer op ses jaar se veldwerk in Suid-Afrika se haaimekka, Gansbaai en langs die res van die Suid-Afrikaanse kuslyn. Dit verteenwoordig die grootste navorsingsstudie wat tot nog toe met behulp van veldwerk onderneem is om die Suid-Afrikaanse grootwithaaie te ondersoek.

 


Hoe tel 'n mens grootwithaaie?

Om hierdie misterieuse diere op te spoor is alreeds nie 'n maklike taak nie, wat nog te sê tél. Andreotti moes op die spesialiskennis en logistieke ondersteuning van die bekende haaikenner, Michael Rutzen van Shark Diving Unlimited staatmaak om hierdie ontwykende roofdiere op te spoor. Rutzen bedryf al vir die afgelope 15 jaar 'n maatskappy wat toeriste op hokduike neem om grootwithaaie in hul natuurlike omgewing waar te neem. Rutzen is ook een van slegs 'n paar mense wat gereeld vryduik saam met grootwithaaie om sodoende die mite dat hierdie diere wreedaardige mensvreters is, hok te slaan.

"Wanneer jy grootwithaaie wil tel, het jy 'n boot met bemanning nodig, sowel as iemand wat weet waar en hoe om hulle te vind," verduidelik Andreotti.

Hulle moes seker maak dat die haaie naby genoeg aan die boot kom om 'n duidelike foto van die dorsale vin te kan neem én weefsel deur middel van 'n biopsie in te samel ten einde genetiese analise hiervan te kan doen. Die biopsies is uitgevoer deur die haaie met 'n klein gesteriliseerde biopsie-instrument te steek ‒ iets waarvan die haaie skaars bewus was.

Die veldwerk het Andreotti en Rutzen ses jaar lank besig gehou en met tye was hulle tot twee maande aaneen ter see.

Tussen 2009 en 2011 het hulle byna 5 000 foto's geneem van die dorsale vinne van withaaie in Gansbaai. Die dorsale vin van die grootwithaai is soos sy unieke vingerafdruk, met 'n spesifieke getal kepies wat op die agterrand van die vin voorkom.  Andreotti het op 'n sistematiese wyse die foto's volgens elke individu se unieke vinkepiekode in 'n databasis georganiseer en spesifiek aangeteken wanneer dieselfde individu weer raakgesien is. Dit het haar in staat gestel om agter te kom indien 'n individue meer as een maal waargeneem is. 'n Totaal van 58% van die haaie in die databasis se data is wéér vasgelê by twee tot 18 daaropvolgende geleenthede. Sewe-en-veertig haaie wat in 2009 geïdentifiseer is, se data is in 2010 wéér vasgelê, en 128 haaie wie se data in vorige jare vasgelê is, is wéér in 2011 verkry.

Teen die tyd dat hulle 400 individue geïdentifiseer het, was hulle verbaas om agter te kom dat hulle nie meer geredelik op nuwe haaie afkom wat nog nie op die databasis is nie.

Op grond van hierdie merk-en-hervasleggingstegniek wat hul gebruik het om die haaie te tel, toon die resultate van hierdie gedeelte van die studie met 95% sekerheid dat daar 'n haaibevolking van tussen 353 en 522 individue is. Volgens Andreotti is dit 52% minder as die hoeveelheid wat in vorige merk-en-hervasleggingstudies geskat is.

Hulle moes egter seker maak dat die Suid-Afrikaanse bevolking van grootwithaaie wat hulle in Gansbaai geïdentifiseer en getel het, verteenwoordigend van die hele withaaibevolking langs die Suid-Afrikaanse kus is. Dus het hulle teruggekeer see toe en nóg vier jaar gewy aan veldwerk om weefselbiopsies te neem, asook foto's van die haaie se dorsale vinne. Die genetiese analise van die weefsel wat hierop gevolg het, het toe bewys dat daar slegs een haaibevolking is en dat dieselfde haaie op en af langs die kus beweeg.

Die resultate van die genetiese studie het getoon dat die Suid-Afrikaanse grootwithaaibevolking se effektiewe bevolkingsgrootte slegs uit 333 individue bestaan. Die effektiewe bevolkingsgrootte dui op die getal individue in 'n bevolking wat bydra tot die ontwikkeling van die volgende generasie, hulle verteenwoordig dus die teeldiere.

Andreotti verduidelik: "Die genetiese analise is nie dieselfde as om die haaie te tel nie. Met die analise probeer ons vasstel hoeveel individue suksesvol gepaar het om die huidige steekproefbevolking te kon voortbring. Die resultate kan ook gebruik word om die oorlewingspotensiaal van 'n bevolking te bepaal. Alhoewel ons nog nie weet of dit ook van toepassing is op grootwithaaie nie, het vorige navorsingstudies oor ander spesies getoon dat 'n minimum van 500 teeldiere nodig is vir 'n spesie om inteling te voorkom en op die lang termyn evolusionêre potensiaal te behou.

"Na aanleiding van die getal volwassenes wat ons met behulp van die foto's geïdentifiseer het, maak ons die gevolgtrekking dat daar 'n skerp afname in die Suid-Afrikaanse grootwithaaibevolking was oor die laaste generasie heen en dat hulle getalle alreeds moontlik te laag kan wees om hulle oorlewing te verseker.

"Die withaai se huidige kans op oorlewing is selfs skraler as wat ons voorheen gedink het," waarsku sy.

Redes vir die skerp daling in getalle

Dr. Andreotti sê een van die hoof redes vir die skerp afname in withaaigetalle, is die impak van haainette en "haaistrikke," bestaande uit lyne met hoeke en aas wat spesifiek vir haaie gestel word en praktyk aan die ooskus van Suid-Afrika is. Ander faktore is oorbevissing van hulle voedselbronne, vernietiging van hulle natuurlike habitat, stroping en besoedeling. 

"Byvoorbeeld: tussen 1956 en 1976 het die getal groot haaie wat deur middel van Kwa-Zulu Natal se haainetprogram gevang is met 99% afgeneem. Tussen 1978 en 2008 is ongeveer    1 063 withaaie gedood as deel van haaibeskermingsmaatreëls," sê sy.

Volgens haar is dit 'n algemene wanopvatting dat withaaie hoofsaaklik op seesoogdiere soos robbe jag maak: "Jong withaaie leef spesifiek op benige visse en kleiner, kommersiële vissoorte, wat ook kleiner haaie en pylsterte insluit. Maar ons weet steeds nie wat die minimum hoeveelheid kos is wat ons withaaibevolking benodig nie, dus kan visserybestuur dit nie in aanmerking neem nie."

Die voortbestaan van withaaie in Suid-Afrikaanse waters word ook bedreig deur die onwettige stroping vir trofeë (haaikakebene) en vinne.

Waarom is grootwithaaie so belangrik?

Benewens die ikoniese status van hierdie grootse diere staan hulle ook aan die bopunt van die roofdierpiramide, wat beteken dat die volwasse individu nie baie natuurlike vyande het nie. Die verlies van so 'n top roofdier sal 'n golf van nadelige gevolge op die ekologiese stabiliteit van die mariene omgewing van Gansbaai en omliggende gebiede hê.

Grootwithaaie is een van die min haaispesies wat op Kaapse pelsrobbe jag maak. 'n Afname in withaaigetalle sal lei tot 'n toename in die robbevolking, wat op sy beurt weer 'n negatiewe impak op visbevolkings en visserye sal hê.

"Die oorlewing van Suid-Afrika se withaaibevolking en die ekologiese interaksies van die kuslyn sal ernstig gekompromitteer word indien bestuursmaatreëls wat daarop gemik is om bevolkingsafnames te stuit, nie ingestel word nie, waarsku Andreotti.

Toekomstige aksies vir die bewaring van withaaie

Andreotti sê dat hulle studie die eerste van sy soort is wat op withaaie uitgevoer is: "Ons het nie slegs vryswemmende withaaie as studiesteekproefmateriaal gebruik nie, maar ons het ook 'n databasis opgestel wat elke individuele haai se genetiese profiel verbind met sy of haar individuele fotografiese identifikasie. Die inherente gebruikersvriendelikheid en die akkuraatheid geassosieer met die metode wat ons gebruik het; tesame met die vermoë om vinning agter te kom of individue se identifikasiebesonderhede reeds op die fotografiese databasis vasgelê is, maak dat ons nie-ingrypende tegniek 'n geldige en prakties uitvoerbare alternatief is vir toekomstige withaaifoto-identifikasiestudies.

"Ons hoop dat withaaie van nou af noukeurig gemonitor sal word en dat meer effektiewe beskermingsmaatreëls ingestel sal word. Ons hoop ook dat netelige kwessies soos die skatting van die grootte van 'n kwesbare bevolking voortaan gebaseer sal wees op uitgebreide ingesamelde datastelle en waarnemings," sluit sy af.

Rutzen stem saam: "Selfs op internasionale vlak weet niemand regtig hoeveel grootwithaaie daar oor is in die oseane van die wêreld nie. Baie spekuleer dat bevolkingsgetalle aan die toeneem is, maar hulle aannames word nie deur navorsing of 'n uitgebreide databasis gesteun soos dié wat deur dr. Andreotti en haar medewerkers saamgestel is nie.

"Ons moet die studie herhaal op internasionale vlak en die data-insamelingstegnieke standaardiseer wat gebruik word vir die verkryging van bevolkingsgetalle van kwesbare spesies soos die grootwithaaie. Terwyl almal op hul eie aan die werk is, kan die koning van die see uitsterwing in die gesig staar," waarsku hy.

  • Die mede-outeurs van die navorsingsartikel is: Michael Rutzen (Shark Diving Unlimited), Dr. Stéfan van der Walt (Afdeling: Toegepaste Wiskunde, Departement Wiskundige Wetenskappe, US), Dr. Sophie von der Heyden en Dr. Romina Henriques (Departement Plant- en Dierkunde, US), Michael Meyer en Herman Oosthuizen (Departement van Omgewingsake, Oseane- en Kustak) en Prof. Conrad Matthee (Hoof: Departement Plant- en Dierkunde, US).
  • Die navorsing is gefinansier deur die Departement Plant- en Dierkunde, US, asook Michael Rutzen en sy maatskappy Shark Diving Unlimited, wat boonop logistieke ondersteuning gebied het.

Foto: Stefan Els

Media-onderhoude

Dr Sara Andreotti

Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

T: +27 21 808 3229

M: +27 72 321 9198

E: andreottisara@gmail.com

 

Michael Rutzen

Shark Diving Unlimited

T: +27 82 441 4555 of +258849364918

E: info@sharkdivingunlimited.com

 

Prof. Conrad Matthee

Hoof: Departement Plant- en Dierkunde, Universiteit Stellenbosch

T: +27 21 808 3957

M: +27 84 453 4344

E: cam@sun.ac.za

 

Medianavrae

Wiida Fourie-Basson

Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

T. +27 21 808 2684

M: +27 71 099 5721

E: science@sun.ac.za

 

Martin Viljoen

Hoof: Mediaskakeling, Universiteit Stellenbosch

T. +27 21 808 4921

M: +27 82 775 2396

E: viljoenm@sun.ac.za