Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Martin Butler aangewys as nuwe MBA-hoof vir die USB
Outeur: Amber Kriel
Gepubliseer: 07/06/2016

Martin Butler het Maandag, 6 Junie met sy termyn as nuwe hoof van die USB se MBA-program begin. Butler was voorheen die hoof van die Nagraadse Diploma in Besigheidsbestuur en -Administrasie.

"Dit is ʼn ware voorreg om toegelaat te word om voort te bou op die grondslag wat my voorgangers met die USB se MBA neergelê het. Ek is veral opgewonde oor die uitsonderlike nuwe personeel by die USB, sowel as diegene wat binne die volgende paar maande by ons sal aansluit.

"Dit is opwindende tye wat voorlê met interessante uitdagings in opvoeding en die bekendstelling van die baanbreker 'glocal'-klaskamer vir die USB se MBA vanaf 2017. Ons het ook ʼn paar opwindende nuwe internasionale bestemmings vir 2017 vir die internasionale studiemodule, sowel as innoverende keusevakke om ons program vars en relevant te hou.

"Ek is dankbaar vir die geleentheid om in ʼn klaskamer te wees met kwaliteit-studente wat ons van regoor die wêreld lok, om debatte te voer en  bestuursuitdagings in ons land, kontinent en verder aan te spreek," sê hy.


Prof Nicolene Wesson, medeprofessor in rekeningkunde en belasting, neem die verantwoordelikhede by Butler oor as die nuwe hoof van die Nagraadse Diploma in Besigheidsbestuur en –-Administrasie.

"Ek is entoesiasties oor die nuwe rol wat aan my toegewys is as programhoof van hierdie internasionaal geakkrediteerde program. Ek sien uit daarna om ons studente wat tans ingeskryf is te dien en alle voornemende studente te verwelkom. Ek is ook dankbaar om deel te wees van die USB se deurlopende strewe om belanghebbendes se verwagtinge te oorskry!" sê sy.