Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
FGGW akademikus kry erkenning vir uitnemendheid in gesondheidsberoepe-onderwys
Outeur: FMHS Marketing & Communications
Gepubliseer: 06/06/2016

​Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Gesondheidsopvoedkundiges (SAAHE) het onlangs die gesaghebbende 2016 Vername Opvoeder-prys aan prof Marietjie de Villiers toegeken.

De Villiers is die voormalige Visedekaan: Onderrig aan die Fakulteit van Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch, en is nou betrokke by die Afdeling Huisartskunde en Primêre Sorg, ook by die fakulteit.

"Gedurende haar loopbaan wat oor meer as 35 jaar strek, was De Villiers die katalisator vir 'n hele reeks innovasies in onderrig en leer, en projekte wat deur die jare die FGGW gevestig het as 'n baanbreker in die veld van mediese- en gesondheidsberoepe onderrig," het SAAHE in die verklaring geskryf waarin De Villiers se toekenning aangekondig is.

Sy het ook internasionaal, nasionaal en in Afrika naam gemaak as 'n leier in gesondheidsberoepe onderrig. Sy het al 172 praatjies by internasionale en nasionale konferensies gelewer, 89 artikels gepubliseer waarvan 40 oorspronklike navorsingsartikels was, asook 12 boek-hoofstukke geskryf.

"De Villiers is iemand wat glo  – sy glo in mense, sy glo in die mag van onderrig om gesondheidsuitkomste te beïnvloed, en sy glo in Suid-Afrika… sy het voordurend daarna gestreef om die veranderinge mee te bring wat nodig is in gesondheidsberoepe onderrig op die Afrika-kontinent, en sy het praktyk in die FGGW en wyer beïnvloed. Boonop het sy dit op 'n voorbrengende en betekenisvolle manier gedoen, terwyl sy ander saam met haar geneem het," het SAAHE geskryf.

Prof Jimmy Volmink, dekaan van die FGGW, het De Villiers met die "welverdiende" eerbetoon gelukgewens. "Dit was 'n plesier om vir vyf jaar te kon voordeel trek uit prof De Villiers se insette in my bestuurspan. Ons fakulteit is bevoorreg om voordeel te kon trek uit haar onwrikbare toewyding tot deurlopende verbetering van leer en onderrig en ons wens haar alles van die beste toe vir die werk waarby sy nou betrokke is."