Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sonderlinge musiek by SIKMF
Outeur: Wayne Muller
Gepubliseer: 20/05/2016

Die musiekprogramme van die 13de Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees (SIKMF) se tien aandkonserte is pas bekend gestel. Musiekliefhebbers sal die geleentheid hê om sonderlinge musiek te hoor – van 18de-eeuse werke tot eietydse komposisies.

Die fees – die grootste van sy soort in Afrika – word van 1 tot 10 Julie by die Universiteit Stellenbosch Konservatorium aangebied. Dit spog met 'n unieke konsertreeks wat musiek insluit wat nog nooit in Suid-Afrika uitgevoer is nie. Benewens kamermusiek, is daar ook drie simfonie-konserte.

Ongeveer 300 musiekstudente sal die 2016-fees bywoon waar hulle meesterklasse, lesings en afrigting sal ontvang van die 30 fakulteitslede, wat internasionaal gerekende musici insluit.

Die program het ses Suid-Afrikaanse premières, asook die wêreldpremière van die plaaslike komponis Matthijs van Dijk se opdragwerk, Moments in a Life. Dit is gebaseer op die lewe van die anti-apartheidsaktivis Denis Goldberg, wat op die verhoog as verteller sal optree.

In Moments in a Life vertel Goldberg van verskeie deurslaggewende oomblikke in sy lewe – van sy kinderjare, sy tyd by Umkhonto we Sizwe, die Rivonia-verhoor, sy ervarings in die tronk tot oudpresident Nelson Mandela se inhuldiging.

Onder die ander interessante premières is Techno Parade deur die Franse komponis Guillaume Connesson (gebore 1970) waarin Paolo Barros (fluit), Ferdinand Steiner (klarinet) en Pieter Grobler (klavier) sal optree.

Ook op die program is Distant Light, 'n concerto vir viool en strykorkes geskryf deur Pēteris Vasks, wat in 1946 in Letland gebore is. Die violis Daniel Rowland sal die solis wees, begelei deur onder andere Suzanne Martens en Farida Bacharova (viole), Tobias Breider (altviool) en Alexander Buzlov (tjello).

Ander werke sluit in die Stryk-sekstet in A majeur, Op.48, deur Dvořák; Mendelssohn se Strykkwartet No.6 in F mineur, Op.80; asook die Stryk-oktet, Op.7, deur George Enescu.

Op Vrydag 8 Julie sal die Amerikaanse dirigent Kazem Abdullah die Fees Simfonies Orkes lei in 'n uitvoering van musiek deur Saint-Saëns, Debussy en Bartók. Die bekroonde Franse violis Nicolas Dautricourt sal die solis wees in Saint-Saëns se Vioolconcerto No.3.

Die SIKMF se ander orkes, die Fees Konsert Orkes (bestaande uit 180 jong musici) onder leiding van Daniel Boico, sal op Saterdag 9 Julie optree. Op hul program is Tsjaikowski se Tweede Simfonie, asook bekende orkestrale werke soos die "Mars"- en "Jupiter"-bewegings uit Gustav Holst se Die Planete, en die gewilde "Pomp and Circumstance" van Edward Elgar.

Vir die finale konsert op Sondag 10 Julie sal die Fees Simfonie Orkes weer op die verhoog wees, hierdie keer begelei hulle die Oostenrykse klarinetspeler Ferdinand Steiner in Mozart se welbekende Klarinetconcerto in A majeur.

  • Kaartjies is by Computicket beskikbaar, of skakel ( 021 808 2358 om 'n feespas te koop. Besoek www.sicmf.co.za vir meer inligting.