Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Genetiese studie werp lig op hoe om haaispesies beter te beskerm
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 17/03/2016

Die eerste streekswye studie is voltooi oor die populasiegenetika van die vaalhaai, bronshaai en 'n endemiese sandhaai wat langs die Suid-Afrikaanse kus voorkom. Dit werp lig op hoe hierdie spesies in plaaslike waters beter bestuur en volhoubaar benut kan word. Vaalhaai (bekend as die "soupfin shark") word byvoorbeeld na Australië uitgevoer vir gebruik in vis-en-skyfiewinkels, terwyl gedroogte vinne na Asië verskeep word.

Die navorsing is uitgevoer deur dr Daphne Bitalo, wat op Woensdag 16 Maart haar doktorsgraad in Genetika van die Universiteit Stellenbosch ontvang het. Dr Bitalo, oorspronklik van Uganda, het al van haar bevindings in die vaktydskrif Fisheries Research gepubliseer en ook voorgelê aan haaideskundiges by nasionale en internasionale kongresse. Haar studieleiers was dr Aletta Bester-Van der Merwe en prof Rouvay Roodt-Wilding van die Molekulêre Teel- en Biodiversiteitsgroep van die Departement Genetika aan die Universiteit Stellenbosch. Die groep bestudeer mariene spesies wat kommersieel benut word, soos perlemoen, kabeljou en geelstert.

Hierdie studie is gedoen in samewerking met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye asook die South African Shark Conservancy.Dr Bitalo het gefokus op die vaalhaai (Galeorhinus galeus), die bronshaai (Carcharhinus brachyurus) en ʼn tipe sandhaai wat net in suidelike Afrika voorkom, Rhinobatos annulatus. Min is bekend oor die plaaslike genetiese diversiteit van hierdie populasies. Al drie is sogenaamde bodemvisse wat naby aan die seebodem voed. In die proses kan hulle maklik gevang word as by-vangs in die langlyn-visbedryf, deur kommersiële lynvissers, in kieu-nette of deur vistreilers. Hulle teel ook nie vinnig aan nie, aangesien dit lank duur voordat hulle volwassenheid bereik, en hulle is nie baie vrugbaar nie. Hulle kan dus maklik oorbenut word indien die dinamiek van hul populasiegroei en teelpatrone nie in ag geneem word nie.

Vaal- en bronshaaie geniet reeds kwesbare bewaringstatus in die Suidelike Halfrond, terwyl te min tans bekend is oor die populasie van kleiner sandhaaie om hulle akkuraat te klassifiseer.

"Aangesien dit die eerste streeksassessering is van al drie hierdie spesies, kan die bevindings daarvan bydra tot die bestuur en bewaring van kommersiële en hengel-spesies langs ons kus," sê dr Bitalo. "Inligting oor hoe elke haaipopulasie se genetiese samestelling van streek tot streek verskil, sal help om unieke geenpoele waarvolgens beter vismonitering en spesifieke bewaringspogings kan plaasvind, te identifiseer."

"Sulke inligting is belangrik indien ʼn mens uiteindelik ingeligte en geïntegreerde besluite wil neem om volhoubare haaivissery in Suid-Afrika te verseker," voeg dr Bester-Van der Merwe by. Tans is daar geen spesifieke visvangregulasies vir hierdie spesies nie.

Vaalhaaie

Vaalhaaie (in Engels bekend as "tope" of "soupfin sharks") is die tweede belangrikste kommersiële haaispesie in Suid-Afrika. Dit was een van die eerste haaispesies wat sedert die 1930's deur die Wes-Kaapse kommersiële visbedryf ontgin is. Tot 5000 ton is in 2013 aan die westelike en suidelike kus van Suid-Afrika gevang. In die 1930's en 1940's het vaalhaai- lewer wêreldwyd gedien as ʼn waardevolle bron van Vitamien A. Die meeste vaalhaaie wat plaaslik gevang word, word deesdae uitgevoer na Australië waar die filette in die vis-en-skyfiebedryf verbruik word.

Vaalhaaie het ʼn lang geskiedenis van teenwoordigheid in die Suidelike Halfrond. Dr Bitalo se studie bevestig drie histories verwante maar geneties baie verskillende populasies oor die uitgestrekte ruimtes van die Suidelike Stille Oseaan, die Suidelike Atlantiese Oseaan, en die Indiese Oseaan.

Dr Bitalo het opmerklike verskille tussen die plaaslike populasies wat op verskillende plekke aan die Suid-Afrikaanse kuslyn gevang word, aangeteken. "Ten minste twee, en moontlik selfs drie verskillende genetiese groepe bestaan langs die kuslyn, met die Oos-Kaapse  populasie(s) die uniekste,"sê sy.

Die US-genetici glo dat plek-spesifieke lisensiëring ingestel moet word om die uitputting van genetiese diversiteit en gevolglik 'n afname in hul voortplantingspotensiaal te verhoed.

"Hierdie bestuursbenadering behoort onmiddellik toegepas te word in streke met hoër genetiese uniekheid, soos byvoorbeeld die Oos-Kaapse streek wat moontlik die bron van genetiese variasie in vaalhaaie aan die Suid-Afrikaanse kuslyn kan wees," voeg dr Bester-Van der Merwe by.

In die praktyk sou dit die beperking van die getal visvangpermitte wat tans uitgereik word en die implementering van beperkings op die grootte van vaalhaaie wat gevang word, kon beteken. Dit sal ideaal ook daartoe lei dat vaalhaaie beskerm word in dieselfde mariene bewaringsgebiede wat reeds opsy gesit is vir kommersiële haaispesies soos die algemene hond-haai.

 

Bronshaaie

 

Die bronshaai (in Engels ook bekend as die "bronze whaler") is ook ʼn spesie wat wydverspreid voorkom. Dit is die vyfde belangrikste kommersiële haaispesie in Suid-Afrika en word hoofsaaklik gevang deur lynvissers van die Wes-Kaap tot in KwaZulu-Natal, of as by-vangs deur garnaaltreilers.

 

Volgens dr Bitalo se bevindings lyk dit asof alle bronshaaie langs die Suid-Afrikaanse kusstreek geneties dieselfde is. Duidelike teelgebiede0 bestaan waarskynlik ook vir hierdie tipe haai langs die Suid-Kaapse kus. Dus is baaigebiede soos dié rondom Mosselbaai van besondere belang vir die spesie se genetiese toekoms en voortbestaan.

 

Sandhaaie

 

Min is bekend oor die verspreiding en populasiedinamika van Suid-Afrika se endemiese sandhaai (in Engels ook bekend as die "lesser guitarfish"). Dit word aangetref van suidelike Angola tot by KwaZulu-Natal. Omdat dit voorkom in vlak water naby aan sandstrande, word dit veral deur sportvissermanne gevang en word dit geraak deur die invloed van menslike nedersettings.

 

Gebaseer op haar bevindings, glo dr Bitalo dat sandhaaigetalle nie so oorvloedig is soos wat algemeen aanvaar word nie. Die getal individue wat kan teel en voortplant kan effektief krities  minder as 500 wees.  

 

Dr Bitalo het betekenisvolle vlakke van genetiese verskille tussen onderskeiesandhaai-populasies gevind. Dit beteken dat hoewel hulle van dieselfde spesie is, die presiese genetiese samestelling van sandhaaie wat aan die kus by Jeffreysbaai gevang word, byvoorbeeld verskil van dié wat op die Plaat by Struisbaai uitgetrek word.

 

Dit is interessant dat hierdie genetiese verskille aangetref word, ondanks die feit dat die verskillende gebiede nie baie ver van mekaar is nie. Dit impliseer dat die spesie hoogs gefragmenteer mag wees met unieke geenpoele wat almal verskillende genetiese samestellings het, dwarsoor hul geografiese verspreiding.

 

Dit is die eerste keer dat enige genetiese inligting oor hierdie sandhaai ingesamel is.

 

"Dr Bitalo se studie maak gevolglik ʼn belangrike bydrae tot ons kennis van hierdie spesie, en kan gebruik word om voorkomende maatreëls saam te stel om die toekomstige volhoubare vangste en bewaring van die biodiversiteit van hierdie endemiese spesie te verseker," sê dr Bester-Van der Merwe.

 

Medianavrae:

Dr Aletta Bester-Van der Merwe
Departement Genetika
Universtieit Stellenbosch
aeb@sun.ac.za

021 8085835