Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldgesondheidsdag: Besnoeiings in begroting bedreig reg op gesondheid
Outeur: Bob Mash
Gepubliseer: 08/04/2024

Wêreldgesondheidsdag  is op 7 April gevier. In ʼn meningsartikel vir die Mail & Guardian skryf prof Bob Mash van die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde dat enorme begrotingsbesnoeiings in die openbare gesondheidsektor Suid-Afrikaners se reg op gesondheid en gesondheidsorg bedreig.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Bob Mash*

Die tema van vanjaar se Wêreldgesondheidsdag (7 April) is “My gesondheid, my reg" en beklemtoon hierdie reg op gesondheid en gesondheidsorg. Die Suid-Afrikaanse Grondwet eggo hierdie tema dat almal die reg op toegang tot gesondheidsorgdienste het, insluitende reproduktiewe gesondheidsorg, en dat niemand noodbehandeling geweier mag word nie. Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls met die hulpbronne tot sy beskikking tref om die progressiewe verwesenliking van elkeen van hierdie regte te bewerkstellig.

Ongeveer 83 uit elke 100 mense in ons land is afhanklik van die openbare sektor vir hul gesondheidsorg. Soos wat ons die nuwe boekjaar in Suid-Afrika binnegaan, maak die enorme begrotingsbesnoeiings in die openbare gesondheidsektor ʼn mens ietwat sinies oor die progressiewe verwesenliking van hierdie regte. Terwyl die gesondheidsektor van die krisis van Covid-19 probeer herstel, word dit met ʼn nuwe finansieringskrisis gekonfronteer. Ek is vertroud met die impak op die Wes-Kaap, maar soortgelyke beperkings staar al die provinsies in die gesig.

Wat is die implikasies hiervan vir gesondheidsorg? Een van die onmiddellike gevolge is ʼn moratorium op die vul van poste. As gesondheidswerkers hul poste ontruim, mag hulle nie vervang word nie. Net in die Wes-Kaap is 1 958 poste tans nie gefinansier nie en kan dit nie gevul word nie. Dit het ʼn direkte uitwerking op die vermoë om dienste te lewer. Hierbenewens is fondse vir plaasvervangende personeel nie beskikbaar nie en talle fasiliteite is van sulke personeel afhanklik om 24 uur per dag dekking te verskaf. By sommige fasiliteite word hospitaalbeddens verminder. Minder hospitaalbeddens beteken nie ʼn kleiner aanvraag nie, maar wel dat pasiënte meer tyd op trollies of vloere in die noodsentrum sal deurbring en nie opgeneem sal word nie. Elektiewe chirurgiese dienste word verminder, veral in ortopedie, wat beteken dat mense selfs langer vir sulke bystand sal wag.

Die Suid-Afrikaanse Akademie van Huisartse voer aan “ons personeel, ons dienste, ons gemeenskappe en die bestaan van die mediese beroep loop die risiko van aansienlike en langdurige skade. Is dit ʼn regverdige prys om te betaal vir hierdie poging om die nasionale fiskus te balanseer?" Die erosie van gesondheidsorgdienste sal ongetwyfeld ʼn buitensporige uitwerking op arm en kwesbare gemeenskappe hê.

In 2023 het die Departement van Gesondheid en Welstand in die Wes-Kaap ons ingelig dat grootskaalse besnoeiings in hul begroting vir die boekjaar hulle in die gesig staar. Dit was die gevolg van besnoeiings van voorwaardelike toelaes (R718 miljoen), herformulering van die toekennings tussen provinsies (R594 miljoen) en ʼn onbefondsde salarisrekening (R1,1 miljard). Dit het gespruit uit ʼn salarisverhoging vir die openbare sektor wat deur die regering goedgekeur, maar nie deur die tesourie gefinansier is nie. Die verhoging moes dus deur die bestaande begroting geabsorbeer word. In die nuwe 2024/25-boekjaar word verdere besnoeiings verwag, aangesien die toewysingsverhoging van 2,5% deur inflasie van 6,5% in die mediese sektor oorskadu word. ʼn Verdere tekort van R807 miljoen word vir 2024/25 voorspel en hierdie neiging sal na verwagting vir die volgende drie tot vyf jaar voortduur.

Hoe het ons in hierdie penarie beland? Baie verduidelikings word voorgehou en talle faktore sal waarskynlik belangrik wees. Die Tesourie sal sê inkomste in Suid-Afrika het afgeneem en ons het bo ons vermoë bestee. Ander sal wys op staatskaping en korrupsie, lenings tydens die Covid-19-pandemie, die onbefondsde salarisrekening, die fondse wat nodig is om die energiekrisis op te los of te versag, en ons groot finansiële verbintenis tot die voortgesette basiese inkomstetoelaag.

ʼn Mens moet ook ʼn oomblik dink aan die sielkundige impak op die oorblywende gesondheidsorgwerkers. Nadat hulle die pandemie oorleef en begin terugveg het teen van die veld wat verloor is met ander siektes soos MIV, tuberkulose (TB) en diabetes, word daar van gesondheidsorgwerkers verwag om die uitdaging van die verskaffing van gesondheidsorg met nog minder hulpbronne aan te pak. Talle bestuurders is radeloos en gedemoraliseer omdat hul planne vir gehalteverbetering op die rotse van fiskale beperkings skipbreuk ly. Die gesondheidsorgwerkers wat agterbly wanneer hul kollegas bedank, word deur dieselfde eise en werkslading van die publiek in die gesig gestaar, maar met minder hulpbronne. Uitbranding en depressie vier hoogty, veral onder junior gesondheidswerkers.

Talle dokters wat pas hul gemeenskapsdiens voltooi het, is trouens werkloos. Ironies genoeg was daar oor die afgelope twee dekades ʼn drastiese toename in opleiding van dokters by ons mediese skole in reaksie op die regering se beroep vir meer dokters, maar nou is die regering nie in staat om voordeel te trek uit die groter aanbod nie. Sulke dokters kan hulle moontlik tot die private sektor wend, of emigreer om beter geleenthede in ander lande te benut.

In die Wes-Kaap was daar ʼn verbintenis om primêre gesondheidsorgdienste so veel as moontlik te beskerm. Hierdie dienste is die een deel van die gesondheidstelsel wat gesondheid kan verbeter terwyl koste bespaar word. Dit is meestal danksy die vermoë om gesondheid te bevorder en siektes te voorkom in die gemeenskappe wat bedien word. Sulke gemeenskapsgerigte primêre sorg is ʼn ligstraaltjie in die donker wolk van begrotingsbesnoeiings.

Gemeenskapsgesondheidswerkerspanne en hul primêre sorgfasiliteite bied steeds inentings, gesinsbeplanning, voorgeboortelike en nageboortesorg, sowel as dienste vir TB, MIV, diabetes en vele ander aan. Maar selfs hier sal dienste gerasionaliseer en sommige inisiatiewe, soos mobiele welstandsentrums, beëindig moet word. Dit is moeilik om jou in te dink dat innovasies om die gehalte van sorg te verbeter in so ʼn klimaat kan posvat.

Op hierdie Wêreldgesondheidsdag 2024 lyk dit of die tema van “my gesondheid, my reg" in ons land deur probleme en uitdagings beleër word. Dit is nodig dat die publiek en die burgerlike samelewing eis dat aan hul reg op gesondheid en gesondheidsorg voldoen word.

*Prof Bob Mash is die Uitvoerende en Afdelingshoof van die Departement Huisarts- en Noodgeneeskunde in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die menings is dié van die skrywer en weerspieël nie noodwendig dié van die US nie.