Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Stephen Matope help om die toekoms te bou deur additiewe vervaardiging
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 05/04/2024

​Prof Stephen Matope van die Departement Bedryfsingenieurswese in die Fakulteit Ingenieurswese aan die Universiteit Stellenbosch het Donderdag 4 April 2024 sy intreerede gelewer. Die titel van sy lesing was “Additiewe vervaarding 'n deurbraak in gevorderde vervaardigingsingenieurswese".

Matope het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe sy navorsing oor additiewe vervaardiging of 3D-drukwerk help om gevorderde instrumente te vervaardig wat in die produksie van ingenieurskomponente vir die vervaardigingsbedryf gebruik word.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

My navorsing fokus op die prosesse en stelsels wat in gevorderde vervaardiging gebruik word. Ek stel baie belang in gevorderde vervaardigingsingenieurswese, veral additiewe vervaardiging, omdat dit help met pasmaking in die vervaardiging van ingewikkelde en komplekse geometrie van ingenieursprodukte en ook die aanlooptyd verkort. Prof Dimitri Dimitrov, 'n ghoeroe op die gebied van additiewe vervaardiging, het terwyl ek saam met hom mede-studieleier vir PhD-studente was, my belangstelling in dié veld verder geprikkel.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

My werk in additiewe vervaardiging is baie toepaslik in die vervaardigingsbedryf aangesien dit gevorderde gereedskap vervaardig wat in die produksie van ingenieurskomponente gebruik word, byvoorbeeld in die geval van plastiekvormwerk en metaalvormingsbedrywighede.

Jou werk fokus op additiewe vervaardiging of 3D-drukwerk. Hoe word jou navorsing prakties in die bedryf toegepas?

Dit word in die vervaardiging van gereedskap toegepas, byvoorbeeld vir ponse (puntige staalgereedskap wat gebruik word om 'n gat of 'n holte in 'n harde oppervlak te maak). Dit word in die hittevorming van motoronderdele en gietvorms (gereedskap of toestelle om 'n gewenste vorm of afwerking aan 'n materiaal te gee) en ponse wat gebruik word in die vorming van plastiek.

Dit word ook in die vervaardiging van lugvaartkomponente soos byvoorbeeld brandstofspuitpunte en propellerblaaie gebruik.

Jy is reeds baie jare in die uitdagende hoëronderwysomgewing. Hoe bly jy gemotiveerd wanneer dinge moeilik raak?

My liefde vir navorsing en om my studente in vervaardigingsingenieursmodules te onderrig, hou my aan die gang. Dit is vir my 'n groot vreugde wanneer my studente vir wie ek klas gegee het, hulle voorgraadse studie slaag, of wanneer ek as studieleier vir nagraadse studente opgetree het. Ek was al die studieleier vir een nadoktorale genoot, tien PhD-studente en meer as 70 MIng- en BIng-studente in hulle maatskappygebaseerde bedryfsingenieurswese-projekte. Ek het saam met my studente al meer as 60 bedryfsgebaseerde ingenieursprojekte by Suid-Afrikaanse vervaardigingsmaatskappye uitgevoer.

Watter aspekte van jou werk is vir jou die lekkerste?

Ek geniet dit om van aangesig tot aangesig klas te gee.

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

Ek is ook 'n prediker en 'n huweliksbevestiger.

Wat doen jy in jou vrye tyd?

Om saam met my gesin dinge en plekke te besigtig.

  • ​Klik hier vir meer oor prof Stephen Matope se akademiese reis​

Foto deur Ignus Dreyer (Die Stellenbosch-sentrum vir Fotografiese Dienste).