Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldwaterdag: Reaksies op SA se waterkrisis teleurstellend
Outeur: Jo Barnes
Gepubliseer: 25/03/2024

Wêreldwaterdag is op 22 Maart gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Argus besin dr Jo Barnes van die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid oor die stand van ons munisipale waterstelsel en beklemtoon sy die behoefte aan dringende optrede om Suid-Afrika se waterkrisis aan te spreek.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

​Jo Barnes*

Ons hoor gereeld dat Suid-Afrika ʼn “waterskaars" land is omdat baie dele ʼn droë klimaat het of semi-droog is. Maar dit is nie net ʼn ongelyke verspreiding wat waterskaarste meebring nie; die groot impak van menslike aktiwiteite soos nywerheid, landbou en huishoudelike gebruik van water moenie onderskat word nie.

Waterskaarste, droogtes en wydverspreide swak dienslewering hou ons kollektiewe gedagtes nou al geruime tyd besig. Daar gaan skaars ʼn week verby sonder brekende nuus oor waterdiensleweringsonderbrekings of diensleweringsbetogings oor al die aspekte van gewone lewens wat deur ʼn gebrek aan water of swak watergehalte geraak word. Die onlangse enorme ontwrigting van watertoevoer na groot dele van Johannesburg is ʼn goeie voorbeeld.

Dit is te verstane dat beskikbaarheid van water die middelpunt van die meeste gesprekke is. Toegang tot water is ʼn mensereg – daarsonder is geen volhoubare lewe moontlik nie. Waterbronne kom nie eweredig oor die wêreld voor nie. Maar vir ʼn “waterskaars" land is ons owerhede ontstellend roekeloos oor waterbronne en veral waterstelsels. Ek sal so ver gaan as om te sê dat baie van wat as waterskaarste geklassifiseer word, eintlik ʼn ingewortelde waterbestuursprobleem is.

Op Wêreldwaterdag (22 Maart) moet ons ook kyk na die verdoemende bevindings van die jongste amptelike oudits van die stand van ons munisipale waterstelsels — die Blou-, Groen- en Geendruppelverslae. Die gehalte van die munisipale drinkwater wat in hierdie land voorsien word, word geleidelik swakker, en 46% van die voorsieningstelsels wat water lewer hou menslike gesondheidsrisiko's in omdat die vlakke van organismes wat siektes veroorsaak, te hoog vir menslike gebruik is.

Meer as twee derdes van afvalwaterbehandelingswerke het ʼn hoë of kritiek hoë risiko van mislukking. Dit beteken dat hierdie werke swak behandelde of heeltemal onbehandelde riool in ons riviere en die omgewing stort. Dit word vererger deur die inligting vervat in die Geendruppelverslag wat aangedui het dat sowat 45% van die munisipaliteite in die land nie eens die mees basiese bestuursinligting insamel wat hulle kan help om hul water- en sanitasiedienste veilig te bestuur nie.

Meer as die helfte van die munisipaliteite in die land stel nie hul eindgebruikers in kennis wanneer water besmet is en nie veilig is om te gebruik nie. Dit is onaanvaarbaar, omdat dit hoogs oneties is en selfs onwettig kan wees om mense nie in te lig dat hulle die risiko van gesondheidsgevolge kan loop deur besoedelde drinkwater te gebruik nie. Om sodanige optrede as onwettig te bestempel is nie baie konstruktief in hierdie land nie, omdat die owerhede so duidelik huiwerig is om op te tree teen munisipaliteite wat hul plig jeens hul publiek versuim.

Dit is duidelik dat die algehele situasie rakende water in Suid-Afrika op ʼn kantelpunt en op pad na ʼn ramp is.

Daar is nog ʼn aspek van die waterkrisis in hierdie land wat nie naastenby die aandag gekry het wat dit verdien nie, ten spyte daarvan dat wetenskaplikes en bekommerde landsburgers ʼn beroep vir onmiddellike optrede gedoen het. Dit behels die besoedeling van ons waterbronne deur mikroplastiek en nanoplastiekdeeltjies, sowel as die sogenaamde “forever chemichals" (onvernietigbare chemikalieë) en is ʼn direkte gevolg van die swak toestand van afvalwaterbehandeling in die land. Slegs die afvalwaterbehandelingstelsels in ons grootste stede kan sommige van hierdie komponente verwyder. Afgesien van direkte gesondheidsgevolge vir verbruikers van water wat met hierdie verbindings besmet is, veroorsaak die teenwoordigheid van hierdie chemikalieë die ontwikkeling van ʼn ander ramp, naamlik antibiotikaweerstandigheid in die organismes wat in sulke water voorkom.

Die mees alomteenwoordige van hierdie besoedelingstowwe wat al hoe meer kommer wek, word PFAS genoem. Dit staan vir per- en poliflurosuur-stowwe. Dit is ʼn groot, komplekse groep sintetiese chemikalieë wat sedert die 1950's in verbruikersprodukte regoor die wêreld gebruik is.

PFAS is nie net teenwoordig in ons drinkwater nie, maar word nou na berig word in menseliggame oor die wêreld heen aangetref. Die teenwoordigheid van hierdie chemikalieë en die mikroplastiekdeeltjies beïnvloed die siekteveroorsakende organismes wat in die omgewing voorkom en diegene wat meer weerstand bied, sal langer kan oorleef. Antibiotiese weerstand kan natuurlik in organismes ontwikkel, maar hierdie proses word nou heelwat versterk deur die teenwoordigheid van sulke kontaminante.

Antibiotiese weerstand is deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as een van die toptien bedreigings vir globale gesondheid geklassifiseer. Mense wat met weerstandbiedende organismes besmet is, is moeiliker om met geredelik beskikbare antibiotika te behandel en hul siektes kan baie langer duur of die uitkoms daarvan kan ernstiger wees. Ons oorbelaste gesondheidsdienste wat reeds onder die pasiëntlas steier, kan nie nog ʼn potensieel vermybare krisis hanteer nie.

Die gesondheid van mense, diere, plante en die omgewing is ingewikkeld en interafhanklik. Hierdie aspekte kan nie geskei word nie. Deur ons water te besoedel en te versuim om die afvalwater wat onvermydelik uit watergebruik voortspruit, behoorlik en veilig te behandel, skep ons ʼn besoedelingshoofweg wat ons binnekort nie sal kan beheer nie.

Alle aspekte van die mislukking van ons waterstelsels geniet baie aandag, van die voorsiening en behandeling daarvan tot die uiteindelike dekontaminering van gebruikte water. Daar word in baie publikasies en wyd in die media oor die ekonomiese impak, menslike gesondheidsgevolge, toekomstige risiko's en omgewingsgevolge uigewei. Een van die mees tragiese en dikwels vernietigende aksies wanneer aandag op die probleme gevestig word, is die byna daaglikse diensleweringsbetogings in hoofsaaklik lae-inkomste-gemeenskappe waar die oortuiging nou stewig gevestig is dat as hulle nie wydverspreide ontwrigting en skade veroorsaak nie, die owerhede nie eens kennis sal neem nie.

Die reaksie van diegene wat in staat is om hierdie krisis aan te pak is teleurstellend, om die minste te sê. Die reaksie bestaan dikwels uit ʼn lys van die begrotingsitems wat gebruik sal word om die probleem aan te pak en beloftes van reëlings om die probleem op te los, ensovoorts. Hierdie beloftes realiseer bykans nooit voldoende nie, of as dit wel gebeur, word die begroting verreweg oorskry of is hulle jare laat.

As die publiek, die land se wetenskaplikes, talle nywerhede en ander rolspelers nie tot nou toe ʼn gesamentlike en doeltreffende poging kon mobiliseer om hierdie onderling verwante uitdagings aan te pak nie, wie sal dan?

*Dr Jo Barnes is ʼn emeritus-senior lektor in die Afdeling Gesondheidstelsels en Openbare Gesondheid in die Departement Globale Gesondheid aan die Universiteit Stellenbosch.