Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Multifunksionele KUZE hou talle voordele vir leerders in
Outeur: FMHS Marketing & Communication / FGGW Bemarking & Kommunikasie - Edna Ellman
Gepubliseer: 29/02/2024

“Sit is die nuwe rook" – dié gonsfrase, wat langdurige sitgewoontes met die skadelike langtermyngevolge van 'n strawwe rookgewoonte vergelyk – is geensins 'n oordrywing nie. Om dié probleem aan te spreek, het staanlessenaars die afgelope paar jaar al hoe gewilder in die werkplek en tuiskantore geword.

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) het gewerk aan hul eie baanbrekende oplossing om die sitprobleem aan te spreek – 'n aanpasbare, liggewig stoel wat sy gebruikers in staat stel om dit maklik van stoel na staanlessenaar te omskep deur dit op 'n bestaande tafel te plaas.

Die KUZE, 'n multifunksionele innovasie, is ontwerp om beweging in die klaskamer aan te moedig na 10 jaar se navorsing oor ruggesondheid en sittende gedrag deur Prof Quinette Louw, Uitvoerende Hoof van die Departement Gesondheid en Rehabilitasiewetenskappe en US-navorser Dr Dominic Fisher van die Afdeling Fisioterapie.

Ná 'n uitvoerbaarheidstudie by skole in die Wes-Kaap, is die terugvoer gebruik om die produk verder na te vors en te verbeter. “Die bevindings het ons geïnspireer om beduidende veranderinge aan die KUZE aan te bring, wat dit konteksvriendelik sal maak," sê Louw.

Louw sê langdurige sitgewoontes word verbind met verworwe rugpyn, en met sittende fisiologie wat lei tot langtermyn nie-oordraagbare toestande soos oorgewig en diabetes. “Aangesien beide rugpyn en sittende gedrag tydens die kinderjare tot in volwassenheid kan oorspoel, het navorsers ingrypings ontwikkel wat daarop gemik is om sittyd by skoolkinders te verminder as 'n manier om goeie ruggesondheid te bevorder en die aanvang van voorkombare gesondheidsprobleme te voorkom.

“Verandering van die fisiese omgewing van die klas, insluitend die vervanging van tradisionele, statiese klaskamermeubels vir innoverende, dinamiese klaskamermeubels, het doeltreffende resultate in Europa, die VSA, Kanada en die Verenigde Koninkryk gelewer. Daar is geen plaaslik beskikbare staanlessenaars vir skoolgaande kinders nie. Aangesien die Suid-Afrikaanse konteks uniek is, is 'n unieke Suid-Afrikaanse oplossing ontwikkel om klein klaskamers in verhouding tot die aantal leerders te akkommodeer."

Fisher, wie se navorsing fokus op ruggraatgesondheid en sittende gedrag by skoolkinders, sê die primêre voordeel van die KUZE is dat dit leerders toelaat om aan klaskameraktiwiteite deel te neem sonder om gedwing te word om vir lang tye van die dag te bly sit. “Ons navorsing toon dat skoolleerders hul sittyd met 10% verminder het een jaar nadat hulle die KUZE begin gebruik het en daar was 'n 20% toename in die aantal kere wat hulle in en uit sitposisies beweeg het."

Verbeterings aan die KUZE

Verskeie funksionele en estetiese verbeterings is sedert die vroeë weergawes van die KUZE aangebring in reaksie op terugvoer van gebruikers, sê Fisher.

Die veranderinge sluit in:

  • Die hoogteverstelmeganisme is verfyn om te verhoed dat die boonste komponent afgly terwyl gebruikers die hoogte verstel.
  • Die hoogtegleuwe is verander van 'n vertikale rangskikking na 'n meer laterale posisie om te verhoed dat die boonste komponent heeltemal afgly – wat dit makliker en veiliger maak om te verstel.
  • Klankdempende materiale is aan die dwarsbalke aangebring om die klank te verminder terwyl die gewig aangepas is.
  • Dis aangepas om ligter te voel, en dus makliker om te dra.
  • Die gleuwe is herontwerp sodat gebruikers dit nou met een hand kan dra, wat  draagbaarheid verbeter en dit meer gebruikersvriendelik maak.

Voordele sterk verder as klaskamers

Daar is al hoe meer bewyse dat langdurige sitgewoontes verbind word met verhoogde konsentrasie-intervalle, so die idee dat 'n mens moet sit om optimaal te konsentreer, moet bevraagteken word, sê Fisher.

“Daar is toenemende bewyse dat die onderbreking van langdurige sit leerders se konsentrasie en betrokkenheid by kognitiewe take kan verbeter. Hierdie bewyse moet in ag geneem word in onderrigpraktyke om die voordele van verminderde sittyd in die klaskamer en verhoogde beweging gedurende klastyd te benut.

“Gegewe dat onderwysers met talle botsende eise gekonfronteer word, moet ons (rehabilitasiepraktisyns) maniere ontwikkel om onderwysers te ondersteun in die verandering van hul oortuigings en onderrigpraktyke as ons die regering se strategie wil vervul van interdepartementele samewerking tussen onderwys- en gesondheidsdepartemente om gesondheidskwessies aan te spreek."

Daar word gewerk aan die bevordering van vennootskappe met spesiale skole sowel as privaat- en openbare skole, en tussendeur het daar 'n behoefte aan verskeie onbedoelde gebruike en toepassings vir die KUZE ontstaan.

“Daar is 'n groeiende aanvraag van US-personeel na KUZE's as sit/staanlessenaaroplossings. Ouers het KUZE's vir kinders met aandagafleibaarheid aangevra, om hulle te help om beter op skool te fokus en klaskamerontwrigting te verminder," sê Fisher.

En weg van die formele klaskamers kan kleuters dit as tafel gebruik en die hoogteverstelling akkommodeer gebruikers van tot 1,8 m as staanlessenaar (sowat 1,6 m om dit as 'n stoel te gebruik).​