Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Pasgegradueerde ingenieur wil US-vaardighede oordra
Outeur: Corporate Communications and Marketing (Hannelie Booyens)
Gepubliseer: 21/12/2023

Wanneer Kabelo Tlhabadira in Januarie na die dorp Kathu in die Noord-Kaap verhuis om sy loopbaan as siviele ingenieur-in-opleiding by die Sishen-myn te begin, sal hy deur sy jonger broer Onalenna vergesel word. Die hoofrede vir die ontworteling van die graad 10-leerling uit die broers se tuisdorp, Thabazimbi in Limpopo, is om die waardevolle akademiese vaardighede wat Tlhabadira die afgelope vyf jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) – waar hy pas sy B-graad in Siviele Ingenieurswese (BIng) voltooi het – geleer het, oor te dra na die jonger generasie.

“Die meeste jong mense in Thabazimbi gaan werk ná skool in die myne. Die ekonomie is baie sleg by die huis en daar is min inspirasie om iets van jou lewe te maak," verduidelik Tlhabadira. “Ek wil seker maak my broer kry 'n voorsprong. Hy begin graad 11 aan die Hoërskool Curro Kathu en ek sal hom oor die volgende twee jaar ondersteun om die beste moontlike matriekpunte te behaal."

Tlhabadira het groot drome vir sy kleinboet en hoop dat hy 'n regsgraad aan die US sal behaal en eendag by een van die wêreld se topuniversiteite soos Harvard of Yale aanvaar sal word.

Die selfversekerde jong man, wat op 13 Desember met vlieënde vaandels gegradueer het, is 'n heel ander mens as die onseker tiener wat in 2019 op Stellenbosch aangekom het om by die US se SciMathUS-program aan te sluit. Hierdie program bied aan leerders wat reeds graad 12 geslaag het, 'n tweede geleentheid om hulle matriekuitslae in spesifieke vakke te verbeter sodat hulle weer vir universiteitsprogramme kan aansoek doen.

Tlhabadira se ma, Maria, het van die SciMathUS-program te hore gekom toe hy reeds geregistreer het om beroepshigiëne aan die Noordwes-Universiteit (NWU) te studeer. Sy swak matriekpunte het sy universiteitsopsies beperk. “Hoewel ek nooit 'n vak gedruip het nie, was ek altyd 'n gemiddelde leerder. Ek het matriek met 45% vir fisika en 54% vir wiskunde geslaag. Ek het toe nog nie besef wat my potensiaal is nie," sê hy.

'n Beurs van die Sishen Ystererts-gemeenskapsontwikkelingstrust (SIOC-CDT) het Tlhabadira in staat gestel om op Stellenbosch by SciMathUS aan te sluit. Aanvanklik was Tlhabadira nie gaande oor die idee nie. “Ek het gevoel ek gaan agter raak in vergelyking met my maats. My ouers het my egter daaraan herinner dat my punte nie goed genoeg was vir die ingenieurskursusse waarvoor ek aansoek gedoen het nie en dat ek besluit het om 'n studierigting by NWU te volg waaroor ek nie passievol is nie. Hulle het my aangemoedig om die US 'n kans te gee, ook omdat dit sou beteken dat ek finansiering vir my studie kon kry."

Radikale verbetering

Nadat hy die SciMathUS-program voltooi het, het Tlhabadira se fantastiese potensiaal duidelik geword. Toe hy aan die einde van 2019 sy matriekeksamen herhaal, het hy 90% vir wiskunde en 85% vir fisika gekry. Die jaar by SciMathUS was 'n lewensveranderende ervaring, sê Tlhabadira. “SciMathUS het my oë en soveel deure vir my oopgemaak. Ek het 'n dieper besef ontwikkel van wie ek is en wat ek kan bereik as ek myself op iets toespits. Dit het my laat besef dat ek nie op skool die regte vaardighede gehad het om te studeer nie. Ek het besef wat dit verg om die punte te behaal wat nodig is om sukses op universiteit te behaal."

Tlhabadira se eerste jaar as ingenieurstudent het saamgeval met die Covid-19-pandemie en die inperkingsmaatreëls het nuwe uitdagings meegebring. Hy het die moeilik gevind om aanlyn te studeer, maar nadat hy na Stellenbosch teruggekeer het, het dinge begin verbeter. "Gelukkig het ek die tweede geleentheid van die eerstejaarseksamen wat ek gedruip het, geslaag en uiteindelik het ek die regte balans begin vind. Ek het besef ek is 'n stadige leerder en ek moes dubbel soveel tyd en moeite as die topstudente insit om dieselfde uitslae te kry. Ek het opgehou om saam met vriende uit te gaan. Saans het ek die werk wat ons in die klas gedoen het, hersien om seker te maak ek bly by." Met die verloop van tyd het eksamens ook minder stresvol geword. “Ek het nie meer paniekerig geraak nie. Ek het geweet ek hard gewerk en gedoen wat nodig is."

Dit was ook vir hom 'n uitdaging om die koshuislewe gewoond te raak, maar Tlhabadira het uiteindelik goeie vriende geword met mede-ingenieurstudente in die Eendrag-koshuis. “Aanvanklik was dit baie moeilik. Maar met verloop van tyd, het ek gemaklik begin raak en ek het by almal ingeskakel. Ek was daartoe verbind om die meeste van my universiteitservaring te maak. Om te misluk was nooit 'n opsie nie, want ek kon nie bekostig om my beurs te verloor nie. Daar was steeds dae van selftwyfel en tye wat ek emosioneel gesukkel het, maar ek het aangehou, want ek het geweet as ek slaag, kan ek my gesin help. Dit was nog altyd die grootste dryfveer in my lewe."

Tlhabadira sê hy sal altyd dankbaar wees vir die impak wat die SciMathUS-program op sy lewe gehad het. “Ek was by my aankoms op Stellenbosch vol selftwyfel. Ek het akademies na die minimum gemik. Die leiding wat ek van dosente soos dr Elza Lourens ontvang het, het my lewe vir altyd verander. Sy het ons gemotiveer en haar entoesiasme wanneer ons die antwoorde reg gehad het, was so bemoedigend. Ek het by SciMathUS studietegnieke en lewensvaardighede aangeleer wat my selfvertroue gegee het. Dit het my van 'n gemiddelde student in iemand uitsonderlik omskep."

Tlhabadira is opgewonde oor die vooruitsig om sy ingenieursvaardighede vir die volgende drie jaar in Kathu toe te pas terwyl hy ook praktiese ondervinding in die mynbedryf opdoen as praktisyn-in-opleiding in die projekdepartement . Ná die voltooiing van sy werkskontrak hoop hy om na die US terug te keer om met 'n MBA-graad te begin. As alles goed gaan, sal albei Tlhabadira-broers kort voor lank trotse US-gegradueerdes wees.

FOTO: Stefan Els