Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-gegradueerde ruil hardloop vir rugby en verteenwoordig SA binne die eerste jaar
Outeur: Corporate Communication and Marketing/Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Anel Lewis]
Gepubliseer: 19/12/2023

Elitha Sylvester van Bellville in Kaapstad, wat op Vrydag 15 Desember aan die Universiteit Stellenbosch (US) met ʼn Baccalaureus-graad in Opvoedkunde gegradueer het, kan nie ʼn tyd onthou toe sy nie aan die een of ander vorm van sport deelgeneem het nie. Sy het sedert die ouderdom van sewe in atletiek, gimnastiek, swem, landloop en netbal uitgeblink.


Maar sy sou nooit kon dink dat sy binne minder as ʼn jaar nadat sy vrouerugby begin speel het, haar land by die Dubai Sewes se Internasionale Uitnodigingstoernooi vir Vroue sou verteenwoordig nie. 

Sylvester het eers einde 2022 besluit om haar hardloopskoene op te hang omdat sy gevoel het sy het atletiek “ontgroei”. 
Ná ʼn paar weke van besluiteloosheid het dié Maties-atleet vir Johann Zeier, Maties-vrouerugbyafrigter, gevra of sy by die groep kon aansluit. “Elitha het ʼn multisport-agtergrond en dit het gehelp met ʼn gladde oorgang na rugby. Sy het ʼn natuurlike sportvermoë wat vinnige groei in ʼn sport met talle fasette moontlik gemaak het. Sy is maklik om af te rig en gewillig om te leer, wat haar ontwikkeling in rugby versnel het,” sê Zeier.

Dit het Sylvester nie lank geneem om haar voete op die veld te vind nie en sy het ʼn plek in die Maties-vrouespan verseker wat die eerste Varsitybeker vir Vroue gewen het. Sy het ook hierdie seisoen vir die DHL Westelike Provinsie-vrouespan uitgedraf, in die voetspore van haar pa wat ook vir sy provinsie gespeel het. Maar die hoogtepunt was die geleentheid om vir die Suid-Afrikaanse Vroueakademie-span in die toernooi in Dubai te speel.

Sy beskryf haar eerste internasionale rugbytoernooi as ʼn “ongelooflike ervaring” en sê dit was ʼn “onvergeetlike oomblik” om rugbyspelers te ontmoet wat sy nog net op televisie gesien het. Sylvester het ongelukkig in die derde wedstryd harsingskudding opgedoen en kon nie verder deelneem nie. “Maar ek kon steeds die meisies van die kantlyn af ondersteun.” 

Afrigter Zeier het groot verwagtinge vir Sylvester se ontluikende rugbyloopbaan. “Sy het baie vinnig ʼn uitblinker in meer as een span geword. Elitha het baie potensiaal en ons is almal opgewonde om te sien hoe ver sy gaan vorder. Ons hoop sy sal binnekort haar debuut vir die Springbokke maak!”

Nuwe uitdagings wink en Sylvester vertrek vandeesmaand na Hong Kong om onderwys te gee en vir die plaaslike rugbyklub, HKU Sandy Bay RFC, te speel. 

Sy gee toe dat sy tydens haar hoërskooljare nie regtig geweet het wat om te studeer nie, maar sê sy is nie spyt dat sy gehoor gegee het aan haar ma se raad dat “jy nooit met onderwys verkeerd kan gaan nie”. Sy het haar studies met dieselfde fokus en toewyding aangepak wat haar gehelp het om as ʼn atleet uit te blink. 

“Sport het my waardevolle lesse oor dissipline, spanwerk en deursettingsvermoë geleer, wat ek op my studies toepas. In die lewe help hierdie lesse my om uitdagings met veerkragtigheid en ʼn positiewe ingesteldheid aan te pak.”