Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Vergroot Afrika se teenwoordigheid in wêreldwye navorsingsarena — Prof Wim de Villiers
Outeur: Wim De Villiers
Gepubliseer: 20/11/2023

​Afrika-universiteitedag is onlangs (12 November) gevier. In ʼn meningsartikel vir die Cape Times skryf die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch, Prof Wim de Villiers, dat doelgerigte navorsingsamewerkings sal help om die ontsaglike uitdaging om aan Westerse navorsing gelyk te word en Afrika se regmatige plek in wêreldwye vakkundigheid en navorsingsuitnemendheid te herstel, die hoof te bied.

  • ​Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder of klik hier vir die stuk soos geplaas.

Wim De Villiers*

“Om die uitdagings van ons tyd anders en meer doelgerig die hoof te bied." Met hierdie gepaste uitdrukking het prof Ernest Aryeetey van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA) by die bekendstelling van die Afrika-Europa-klusters van navorsingsuitnemendheid (Africa-Europe Clusters of Research Excellence – CoRE) die taak opgesom wat op hande is om te verseker dat navorsers en vakkundiges in Afrika die vasteland se bydrae tot die skepping van wetenskaplike kennis in die wêreld handhaaf en bevorder.

Ondanks aansienlike groei die afgelope paar dekades, staan Afrika se aandeel in globale wetenskapproduksie tans op agt persent. Dit is duidelik onvoldoende vir 'n vasteland met 1,3 miljard mense wie se bevolking na verwagting teen 2050 byna sal verdubbel.

Op vanjaar se Afrika-universiteitedag, wat elke 12de November regoor ons vasteland gevier word, staan ons vir 'n wyle stil om na te dink oor die merkwaardige vordering wat op die gebied van hoër onderwys gemaak is.

Die 20 klusters van navorsingsuitnemendheid (CoRE), 'n inisiatief van ARUA en die Gilde van Europese Universiteite, is daarop gefokus om die beste ondersoekende verstande oor wetenskaplike vakgebiede en vastelande se grense heen bymekaar te bring om sommige van die ondraaglikste uitdagings van ons tyd aan te spreek – van die voorbereiding van die wêreld om toekomstige pandemies beter te beveg, tot die verligting van die verwoestende gevolge van klimaatsverandering.

Hierdie samewerkende benadering vir groter maatskaplike invloed is verder uitgedra by die Times Higher Education se Wêreld Akademiese Beraad wat onlangs in Sydney, Australië gehou is, met die tema, “Om saam te werk vir grootsheid in 'n multidissiplinêre wêreld" (Collaborating for greatness in a multi-disciplinary world).

Afgevaardigdes uit 50 lande het ondersoek ingestel na hoe instellings die beste intern (oor departemente heen om transformerende en verplasende navorsing te versnel) en ekstern (om streeks-, nasionale en wêreldwye samewerking te versterk) kan saamwerk om universiteite se rol as sleutelaandrywers van verandering binne die samelewing kan vergroot.

Een van die treffende kenmerke van die besprekings by die beraad met verwysing na navorsingsamewerking was die uitdaging om billike vennootskappe in 'n uiters ongelyke wêreld te vestig. Transformerende navorsing en 'n wyer onderskrywing van die Afrika-handves vir transformerende navorsingsamewerkings het dus baie aandag geniet as 'n manier om praktiese oplossings vir die wetenskaplike uitdagings van ons tyd te vind en die kapasiteit van die volgende geslag navorsers in Afrika en die wêreld te bou.

By die Universiteit Stellenbosch (US) het navorsing wat oor streeks- en kontinentale grense heen “anders en meer doelgerig" is, 'n institusionele etos geword – ondersteun deur innoverende denke en beduidende belegging om die vaardigheidskapasiteit van ons vasteland te versnel.

Die bekendstelling van die moderne Biomediese Navorsingsinstituut (BMRI) van 'n miljard rand op ons Tygerberg-kampus vroeër vanjaar is gemik op samewerkende navorsing wat die navorsingskapasiteit in biomediese wetenskappe eksponensieel sal versterk en die belofte inhou om 'n omwenteling in gesondheidsorg op ons vasteland mee te bring.

Genomiese waarneming om patogeeninfeksies in Suid-Afrika, Mosambiek, Kenia, België en Duitsland te beheer, is goed op dreef en ons Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (SERI) help 44 Afrikalande met opleiding en kapasiteitsbou met behulp van hulle Genomikadiens en Landondersteuning.

Ons navorsers het kragte saamgesnoer met Europese en streeksgenote om op pandemiese en epidemiese patogene soos Covid-19, MIV, griep, tuberkulose, malaria en cholera te reageer.

Die strewe om Afrika se teenwoordigheid in die wêreldwye navorsingsarena te vergroot, word verder ondersteun deur die Nobel in Afrika-simposia, waar die US met die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (STIAS) saamwerk in 'n inisiatief wat 'n spesiale fokus op Afrika het en toekomstige geslagte vakkundiges en intellektuele leiers op die vasteland kweek.

Die Nobel in Afrika-simposia bring van die wêreld se voorste wetenskaplikes byeen om oor nuwe navorsingsontdekkings en ontwikkelings op hulle gebied te beraadslaag. Die eerste simposium oor Fisika is in Oktober verlede jaar gehou, gevolg deur nog 'n formidabele simposium oor Chemie aan die einde van verlede maand. Die simposia, met 'n sterk uitreikelement, is doelbewus gemik op akademiese personeel en studente van die Universiteit met die doel om die volgende geslag vakkundiges op die vasteland te inspireer.

Daar bestaan geen twyfel daaraan dat doelgerigte navorsingsamewerkings kragtige instrumente is om 'n groter, skaalbare uitwerking op die gemeenskappe – plaaslik, op streeksvlak en wêreldwyd – wat ons bedien, te hê nie. Dit sal baie help om die ontsaglike uitdaging om aan Westerse navorsing gelyk te word en Afrika se regmatige plek in wêreldwye vakkundigheid en navorsingsuitnemendheid te herstel, die hoof te bied.

*Prof Wim De Villiers is die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch. ​