Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
EBW-student en span verower eerste prys in invloedryke datawetenskaptegnothon
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 05/10/2023

In 'n merkwaardige demonstrasie van datagedrewe vindingrykheid en probleemoplossingsvaardighede het ​drie studente van die Universiteit Stellenbosch, insluitend een van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe (EBW) onlangs as die wenners in die gesogte Standard Bank Korporatiewe en Beleggingsbankdienste tegnothon (hackathon) uit die stryd getree.

Die tegnothon, wat in samewerking met Mobalyz (SA Taxi), die US Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Standard Bank Groep gehou is, het deelnemers uitgedaag om gedragsprofiele vir verskillende taxibestuurders op te stel deur van vier maande se taxidata gebruik te maak.

Die US-span van Christiaan Hildebrand (EBW)​, Wicus van der Linden en Daniel van Zyl het gebruik gemaak van 'n datastel wat meer as drie miljoen individuele taxitelematrie-datawaarnemings bevat wat oor vier maande strek. Hierdie data het veranderlikes soos spoed, g-kraggraderings en -versnelling ingesluit. Hulle is ook voorsien van die versekeringseisdata van die verskillende taxi's. Die span moes hierdie inligting gebruik om gedragsprofiele vir hierdie taxibestuurders op te stel – en dit sonder die presiese inligting oor die verskillende bestuurders van elke taxi.

Met behulp van 'n Markov-geïnspireerde benadering en eksterne datastelle soos Uber-data en geïntegreerde weerdata, het die span met 'n model vorendag gekom wat die risikobeskrywing van 'n bestuurder na elke reis voorspel op grond van die data van daardie reis. Die model bied ook aan die bestuurders en taxi-eienaars onmiddellike terugvoering en nuttige inligting wat hulle baie geld sal bespaar. Hierdie inligting bemagtig nie net bestuurders en gee terugvoering aan die taxi-eienaars nie, maar dra ook by tot veiliger paaie.

Hildebrand, 'n Baccalaureus in Datawetenskap (BDatSci)-student wat in die fokusarea van Statistiese Leer studeer, het gesê die span het dit vreeslik geniet om aan die tegnothon deel te neem.

“Ons was vreeslik opgewonde dat ons met werklike data kon werk, iets wat ons nie dikwels die geleentheid kry om te doen nie. Ons hou ook van 'n uitdaging en ons het geweet dat hierdie tegnothon ons vaardighede as datawetenskaplikes sou verbreed.”

Die trio het met R22 000 se prysgeld weggestap, maar Hildebrand sê hulle beskou dit as net 'n bonus.

“Die ware prys was die konneksies en ervaring wat ons opgedoen het. Voor en nadat ons ons bevindings voorgelê het, het ons verskillende mense van Standard Bank en Mobalyz ontmoet, asook verskeie datawetenskaplikes en mense in belangrike posisies in die bedryf. Hierdie netwerke is vir ons baie meer werd as die prysgeld. Die ervaring wat ons opgedoen het deur met werklike data te werk om 'n werklike probleem op te los, was ook baie belangrik.”

Prof Paul Mostert, BDatSci-programleier, het gesê die geïntegreerde vaardighede wat die trio deur die verskillende modules in hul onderskeie grade opgedoen het, het 'n deurslaggewende rol in hul oorwinning gespeel. Hildebrand het saam met van der Linden en van Zyl, beide HonneursBSc-studente, dieselfde modules in Wiskundige Statistiek en Rekenaarwetenskap gevolg en is tot en met hul derde jaar vir al die Datawetenskapmodules geregistreer.

“Dit is bevredigend om te sien hoe studente tegnieke toepas wat hulle deur hul studies bemeester het, en dat die inhoud wat ons by die Universiteit Stellenbosch aanbied, relevant en toepaslik vir die bedryf is,” het Mostert gesê.

Hildebrand het met Mostert saamgestem.

“Ons sou nie hierdie prestasie kon behaal as dit nie was vir die kennis en probleemoplossingsvaardighede wat ons uit ons Datawetenskapmodules opgedoen het nie. BDatSci is werklik een van die beste en nuttigste grade in die moderne datawêreld. Ek is opreg dankbaar vir die wonderlike kennis wat ek tot dusver in my drie jaar van studie opgedoen het.”

Die B BDatSci-graad, wat in 2021 aan die US bekendgestel is, bied aan studente die geleentheid om kennis van grondslagmodules in die kerndissiplines van statistiek, rekenaarwetenskap, wiskunde en datawetenskap op te doen. Hulle sal ook blootgestel word aan die nuutste tegnologieë en konsepte op die gebied van datawetenskap.