Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Bewusmaking van Digitale Welwees

Die wêreldwye COVID-19-pandemie het ons werk-, sosiale en leeromgewings teen 'n onverwagte tempo gedigitaliseer. Sedert Maart 2020 is mense se vermoë om aan te pas by skielike veranderinge regoor die wêreld op die proef gestel. Heelwat geleenthede waar mense persoonlike interaksies kon hê is gekanselleer, ingeperk of alternatiewe virtuele aktiwiteite moes geskep word. 

Virtuele gesondheidstaptogte, fondsinsamelings en veldtogte is nou aan die orde van die dag. Toegang tot ‘n verskeidenheid aanlyngeleenthede, insluitend lesings, werksessies, seminare, vergaderings en selfs aanlyn sosiale geleenthede, kan op die internet en via sosiale media-platforms verkry word.

Die vinnige digitalisering van die wêreld hou baie voordele in. Dit is egter belangrik dat gebruikers van digitale toestelle bewus moet wees van die invloed - positief en negatief – wat dit op hul algemene welstand kan hê. Digitale welstand fokus op die impak wat digitalisering op mense se emosionele, fisiese, sosiale en beroepsgesondheid het. Dit het ten doel om mense meer bewus te maak van hul verhoudings met tegnologie en die invloed daarvan op hul lewens. Dit stel mense ook in staat om verantwoordelikheid te neem vir hul eie welstand wanneer hulle in ‘n gedigitaliseerde omgewing funksioneer.

Die Sentrum vir Leertegnologieë (SLT) en die Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling (SSVO) het saamgewerk en 'n interaktiewe ooptoegang aanlynpublikasie met die titel Enter the world of digital wellbeing ontwikkel. 

Die e-boek bestaan uit drie hoofafdelings, naamlik:
• 'n inleiding tot digitale welstand;
• selfbeeld, identiteite en aanlynverhoudings; en
• die bestuur van die rol van digitale tegnologie in jou lewe.

Hierdie e-boek bied lesers die geleentheid op 'n interaktiewe en ondersoekende reis en is daarop gemik om hulle toe te rus met kennis en vaardighede wat nodig is om verantwoordelikheid vir jou welstand in 'n gedigitaliseerde wêreld te neem.

U kan toegang kry tot 'n inleidende video op https://bit.ly/DWIntroVideo
Die aanlyn boekie is beskikbaar op https://bit.ly/DWeBook