Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onderrig- en Leerseminaar
Begin: 08/09/2022, 13:00
Einde: 08/09/2022, 14:00
Kontak:Lucy Lucks - (021) 808 3717
Plek: MS Teams

Die Afdeling Leer- en Onderrigverryking bied kwartaalliks 'n Onderrig- en Leerseminaar aan om die Akademieskap van Onderrig en Leer aan die US te bevorder. Die US Onderriggenote en nasionale “Teaching Advancement at Universities" (“TAU") genote deel hul navorsing oor, innoverings in en ervaring van onderrig en leer, gevolg deur bespreking en vrae.

Die volgende seminaar vind plaas op 8 September 2022, 13:00-14:00, op MS Teams. Prof. Faadiel Essop (Afdeling Mediese Fisiologie, Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe), 'n TAU genoot, praat oor “Introducing broader humanities and arts concepts into the biomedical science curriculum" (“Die insluiting van breër geesteswetenskaplike en kunskonsepte in die biomediese wetenskapskurrikulum").

Prof Essop se TAU-genootskapprojek het gefokus op die idee dat wetenskaplikes/ingenieurs dikwels hul dissipline as “neutraal" beskou, en dus sonder enige sosiopolitieke en historiese kontekste. Hierdie “wetenskaplike elitisme" kan dus skynbaar wetenskaplikes van sodanige kontekste vryspreek, bv. ongeregtighede wat tydens apartheid gepleeg is asook hedendaagse dringende kwessies soos die herstelling van billikheid en dekolonialisering. Met die Covid-19-pandemie is wetenskaplikes toenemend in die publieke domein inforseer en daar is dikwels van hulle verwag om op buitensporige aansprake/sameswerings te reageer en om die wetenskaplike bedryf te verdedig. Sodanige response vereis egter grondige en kritiese insigte in die aard van die wetenskaplike proses (bv. swak punte, sterk punte, filosofieë en sosiokulturele-politieke kontekste) en die ideaal van hierdie proses om tot samehangende waarhede te kom. Daar is dus ʼn gaping in die opleiding van wetenskaplikes ten einde beter toegerus te wees om in die “post-waarheid"-wêreld te werk.

Die doel van die TAU-genootskap was om ʼn nuwe honneursmodule in Geneeskundige Fisiologie te ontwikkel en om die opname daarvan deur studente en die moontlike impak daarvan te assesseer. Hier is die idee om ʼn geskikte pedagogiese raamwerk vir die bekendstelling van breër geesteswetenskappe- en kunskonsepte in die kurrikulum van die biomediese wetenskap te vestig. Dit behoort die skepping van ʼn transformatiewe onderrig- en leerervaring in die hand te werk, wat sal lei tot goed afgeronde graduandi (met versterkte graduandi-eienskappe) wat beter toegerus en opgelei is om sommige van die hedendaagse samelewingsuitdagings waarvoor ons te staan kom, te hanteer (en daarin leiding te gee).

Navrae en besprekings:  Lucy Lucks by llucks@sun.ac.za of (021) 808 3717