Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Mohammad Karaan – gedenkrede
Begin: 13/04/2022, 17:00
Einde: 13/04/2022, 18:00
Kontak:Karin Vergeer - 27 21 808 4792
Plek: Lanzerac Wine Estate in Stellenbosch

Prof Karaan, 'n gewese Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, wat ook as Waarnemende Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel aan die US gedien het, is op 13 Januarie 2021 oorlede. Met sy heengaan, was hy professor in Landbou-ekonomie aan die US, en President van die Maties Rugbyklub.

Die geleentheidspreker by die geleentheid is mnr Kuben Naidoo, 'n Adjunkgoewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank en 'n lid van die Monetêre Beleidskomitee. Die onderwerp van sy gedenkrede is: Die rol van finansies in die transformasie van die landbou.

 

Prof Karaan se invloed op die landbou en die breër omgewing

Emeritusprofessor Nick Vink van die Departement Landbou-ekonomie aan die US sê prof Karaan het die buitengewone vermoë gehad om die landbousektor binne die breër omgewing waar binne dit funksioneer, te plaas.

“'n Mens kon met hom praat oor grondhervorming, en hy sou onmiddellik die ekonomiese ongelykheid in ons land, en die oorsprong daarvan, ter sprake bring. Indien 'n mens met hom gesels het oor navorsing en ontwikkeling, het hy die kwessie summier binne die breër perspektief van die rol van tegnologie in ekonomiese groei geplaas. Het 'n mens aan hom gemeld dat navorsers in die Fakulteit AgriWetenskappe belangrike werk oor groot aangeleenthede doen, sou hy wil weet wat die impak op die voedselsekerheid van arm huishoudings gaan wees, ensovoorts, ensovoorts.

“Die hoofdoel van die jaarlikse Mohammad Karaan-gedenkrede is dus om diegene, wat gedenkredes lewer, te versoek om hierdie skakels tussen landbou en die breër ekonomiese, sosiale, politieke, natuurlike hulpbron- en tegnologie-omgewings duideliker te stel, om sodoende aan navorsers en studente, sowel as die breër publiek te toon waar hulle werk by die groter prentjie inpas," sê Vink.

Prof Danie Brink, Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe, het gesê die dood van prof Karaan was 'n “enorme verlies vir die Suid-Afrikaanse landbousektor as sulks, en veral ook vir ons fakulteit."

“Hy was 'n spesiale mens met die vermoë om mense uit verskillende sfere bymekaar te bring. Sy hart was in die landbou, en hy het geglo dit moet verstewig word," het Brink gesê.

Die fakulteit sal prof Karaan onthou vir sy empatie teenoor ander, vir die die wyse waarop hy kollegas en ander erken en ondersteun het, en vir sy insig en vermoë om komplekse kwessies te ontknoop.

 

Besonderhede oor die geleentheid

Die gedenkrede sal in hibriede formaat plaasvind. Vriende, kollegas, sakeleiers, en verteenwoordigers van verskeie landbou-ondernemings, asook Maties Sport en Maties Rugby, gaan die lesing by Lanzerac-wynlandgoed op Stellenbosch bywoon.

Die lesing sal ook regstreeks via MS Teams gestroom word. Stuur asseblief 'n e-pos aan me Karin Vergeer by ccav@sun.ac.za teen 12 April 2022 om 17:00 indien jy dié aanlyngeleentheid sou wil bywoon.

 

Meer oor prof Karaan

Prof Karaan het sy kwalifikasies aan die US behaal – die graad BScAgric in 1990, 'n MScAgric in 1994 en 'n PhD (Agric) in 2006.

Hy het sy loopbaan as ekonoom by die Ontwikkelingsbank van Suider-Afrika begin, voordat hy na Stellenbosch teruggekeer het as navorsingshoof van die destydse Landelike Stigting.

In 1996 het hy aan die US in Landbou-ekonomie begin doseer. In 2008 het hy Dekaan van die Fakulteit AgriWetenskappe geword, en in 2013 is hy vir 'n tweede termyn aangestel. In 2014/5 het hy gedien as waarnemende Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel, soos dié portefeulje van die Rektoraat destyds bekend gestaan het.

Prof Karaan het sedert 2010 twee termyne as lid vir landbousake in die Nasionale Beplanningskommissie gedien. Hy het deel gehad aan die opstel van 'n hoofstuk in Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan – Visie 2030, oor die vorming van 'n geïntegreerde en inklusiewe landelike ekonomie vir Suid-Afrika.

Voor sy heengaan, was hy ook lid van die presidensiële interministeriële kommissie oor grondhervorming, en sy termyn as bestuurskomiteelid van die Buro vir Ekonomiese Ondersoek is ook verleng.

Prof Karaan het tydens sy loopbaan gedien as voorsitter van onder meer die Nasionale Landboubemarkingsraad, die Ministeriële Komitee oor Landboubemarking in Suid-Afrika, en die Ministeriële Komitee wat die Suid-Afrikaanse Wynbedryftrust ondersoek het. Hy was ook 'n raadgewer van die Parlementêre Portefeuljekomitee oor Landbou.

Oor die jare is hy vir sy leiersrol deur onder meer Agbiz, Agri SA en Landbouskrywers SA vereer.

 

Meer oor die geleentheidspreker

Mnr Kuben Naidoo is 'n aktivis en 'n staatsamptenaar in Suid-Afrika wat verbind is tot die bereiking van 'n maatskaplik-regverdige wêreld. Hy beskik oor 'n BSc-graad en 'n Nagraadse Diploma in Openbare Bestuur van die Universiteit van die Witwatersrand en 'n MBA van die Universiteit van Birmingham in die Verenigde Koninkryk. Hy het aan die begin van 1998 by die Nasionale Tesourie aangesluit. Mnr Naidoo het van 2006 tot 2010 aan die hoof van die Begrotingskantoor gestaan en het 'n dienstydperk van twee jaar in die Begrotingsafdeling van die Britse Tesourie voltooi. Hy was daarna, tussen 2010 en 2013, hoof van die Nasionale Beplanningskommissie se Sekretariaat. Nadat hy twee jaar as adviseur van die Goewerneur van die Suid-Afrikaanse Reserwebank gedien het, is hy in April 2015 aangestel as Adjunkgoewerneur van dié bank en was hy in toesighoudende hoedanigheid belas met die instelling van die Omsigtigheidsgesag. In April 2018 is hy as Hoof- Uitvoerende Beampte van die Omsigtigheidsgesag aangestel. Mnr Naidoo is ook 'n lid van die Monetêre Beleidskomitee.

 

Navrae

Rig asseblief 'n e-pos aan me Karin Vergeer by ccav@sun.ac.za