Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-onderiggenoot 2022: Dr Marnel Mouton
Begin: 06/04/2022, 15:00
Einde: 06/05/2022, 15:00
Kontak:Dr Karin Cattell-Holden - 0218083717
Plek: Skuilhoek

Dr Marnel Mouton, Departement Plant- en Dierkunde (Fakulteit Natuurwetenskappe), het 'n US-onderriggenootskap vir die tydperk 2022–2024 ontvang.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het in 2009 die onderriggenootskapsprogram ingestel om uitgesoekte akademici 'n geleentheid te bied om hulle onderrigkennis uit te brei en die ontwikkeling van die akademieskap van onderrig en leer aan die Universiteit aan te moedig. Die genootskappe stel voortreflike opvoeders en navorsers op die gebied van onderrig en leer in staat om, met verskillende vorme van steun, vir 'n ononderbroke tydperk (een tot drie jaar) op enige aspek van kurrikulumvernuwing of onderrig en leer in die algemeen te konsentreer, en om goeie onderrig-en-leerpraktyk in hulle departemente en fakulteite sowel as sentraal aan die Universiteit te versprei.

Dr Marnel Mouton het 'n onderriggenootskap vir die tydperk 2022 tot 2024 ontvang. Dr Mouton is 'n senior dosent in die Departement Plant- en Dierkunde en is sedert Oktober 2006 aan die US verbonde. Sy het 'n PhD in Mikrobiologie aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Dr Mouton se wetenskaplike navorsingsuitsette sluit publikasies oor swamtaksonomie, mikrobiese ekologie en walvisvelsiektes in. Haar navorsingsbelangstellings en publikasies op die gebied van onderrig en leer handel in die algemeen oor wetenskaponderrig in die hoër onderwys, en in die besonder oor die gaping tussen sekondêre en tersiêre onderwys, die eerstejaar op universiteit, en die rol van die Verlengde Graadprogram (VGP) om billike toegang en sukses in die hoër onderwys teweeg te bring. Sy is 'n lid van die navorsingsgroep oor legitimasiekodeteorie in die US se Fakulteit Natuurwetenskappe en ondersoek die nut van hierdie raamwerk om 'n aantal verskynsels en vraagstukke in wetenskaponderrig te evalueer en te hanteer. Sy is ook die medesamesteller van 'n boek oor hierdie onderwerp, wat die werk van verskeie plaaslike en internasionale outeurs insluit.

Die oorhoofse doel van dr Mouton se genootskap sal wees om te bepaal in watter mate die VGP op die gebied van die wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde (WTIW) tot akademiese sukses bydra. Haar navorsing sal deur die volgende vrae gerig word:

1. In watter mate het hoëronderwystoegang deur die VGP tot sukses gelei? Hoe lyk hierdie data vergeleke met dié van hoofstroomstudente?

2. Hoe het voormalige VGP-studente die program ervaar?

3. In watter opsig het die VGP-grondslag daarin geslaag of misluk om hierdie voormalige studente vir hoëronderwysstudie voor te berei?

4. Watter faktore het die grootste aandeel aan studente se akademiese sukses/mislukking gehad?

Die genootskap beoog om die US beter daartoe in staat te stel om die slaagsyfer van VGP-studente te verbeter. Die VGP-slaagsyfer, sowel as dié van ander eerstejaarstudente, is sowel nasionaal as internasionaal 'n bron van kommer. Die navorsing behoort die US dieper insig te bied in moontlike aanwysers van studentesukses en/of -mislukking, wat die Universiteit boonop in die toekoms met studentekeuring en -werwing kan help. Uiteindelik kan hierdie insigte en inisiatiewe die US se jaarlikse VGP-gradueringsyfers op WTIW-gebied verbeter. 

Aangesien die onderriggenootskappe deur die Universiteitsvermoëboutoelaag gefinansier word, sal dr Mouton se genootskap boonop maniere ondersoek vir die ontwikkeling, versterking en handhawing van akademiese personeel se bevoegdheid om ontwikkelingsdoelwitte te stel en oor tyd te bereik.

Die US het sedert die aanvang van die program 12 jaar gelede altesaam 17 genootskappe toegeken: 

Prof Elmarie Costandius (2011)Departement Visuele Kunste Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Prof Dana Niehaus (2011)Departement PsigiatrieFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Prof Geo Quinot (2013)Departement PubliekregFakulteit Regsgeleerdheid
Prof Ian Nell (2015)Departement Praktiese Teologie en MissiologieFaculteit Teologie
Prof Nicola Plastow (2015)Afdeling Arbeidsterapie, Departement Gesondheids- en RehabilitasiewetenskappeFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Dr Berna Gerber (2016)Afdeling Spraak-Taal- en Gehoorterapie, Departement Gesondheids- en RehabilitasiewetenskappeFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Wyle dr Helena Wessels (2016)Departement KurrikulumstudieFakulteit Opvoedkunde
Prof Elize Archer (2017)Sentrum vir GesondheidsberoepsonderwysFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Prof Ingrid Rewitzky (2017)Visedekaan: Onderrig en LeerFakulteit Natuurwetenskappe
Dr Marianne McKay (2017)Departement Wingerd- en WynkundeFakulteit AgriWetenskappe
Dr Michael Schmeisser (2018)Departement HortologieFakulteit AgriWetenskappe
Prof Marianne Unger (2018)Afdeling Fisioterapie, Departement Gesondheids- en RehabilitasiewetenskappeFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
Dr Margaret Blackie (2020)Departement Chemie en PolimeerwetenskapFakulteit Natuurwetenskappe
Prof Debby Blaine (2021)Departement Meganiese en Megatroniese IngenieursweseFakulteit Ingenieurswese
Dr Taryn Bernard (2021)Verlengde GraadprogramFakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe
Dr Gretha Steenkamp (2021)Skool vir RekeningkundeFakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe
Prof Susan van Schalkwyk (2021/22)Direkteur: Sentrum vir GesondheidsberoepsonderwysFakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

Vir verdere inligting oor die onderriggenootskappe, kontak dr Karin Cattell-Holden by kcattell@sun.ac.za.