Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Om Afrika te verlig deur middel van sinkrotronlig
Begin: 07/08/2019, 18:00
Einde: 07/08/2019, 19:00
Kontak:Wiida Fourie-Basson - 021 808 2684
Plek: GUS Art Gallery, c/o Dorp and Bird Streets, Stellenbosch

​Wat is 'n sinkrotronligbron, en hoekom is Afrika - die enigste kontinent benewens Antarktika - sonder een? Dr Bjorn von der Heyden sal tydens die volgende Science Café Stellenbosch gesels oor die Afrika Ligbron-inisiatief en die belangrikheid van hierdie fasiliteit vir Afrika-wetenskap en ons tegnologiese mededingendheid op internasionale vlak.

Wat is 'n sinkrotronligbron?

'n Sinkrotronfasiliteit het bronne wat helder lig voortbring en wat X-strale, Ultraviolet- en Infrarooi-golflengtes  oorspan. Soortgelyk aan die lughawe se X-straalmasjien wat gebruik word om die inhoud van jou vakansiebagasie te ondersoek, word sinkrotronlig gebruik om inligting te ondersoek: van atoom- tot op partikelskaal. Hierdeur word waardevolle insigte (op waarnemings- en meganika-vlak) vir 'n wye spektrum wetenskaplike dissiplines verkry. Laasgenoemde sluit in (maar is nie beperk tot) biomediese navorsing, energie, voedsel- en watervoorraad, aardwetenskappe en geofisiese en forensiese wetenskap. 'n Toegewyde groep wetenskaplikes werk daaraan om sinkrotronlig na die Afrika-kontinent te bring.

​Meer oor die spreker

Nadat hy met 'n HonsBSc-graad in Aardwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US) gegradueer het, het Dr Bjorn von der Heyden die geleentheid gekry om as uitruilstudent aan die Princeton Universiteit (VSA) met die navorsing vir sy MSc te begin.  Gedurende hierdie tyd het hy bedrewe geraak in die gebruik van sinkrotronlig, veral in die bestudering van die struktuur en chemie van natuurlike akwatiese ysterryke nanopartikels en partikels kleiner as 'n submikron. Hierdie studie het uiteindelik in 2013 op die verwerwing van 'n PhD uitgeloop, waarna hy twee jaar in die Suid-Afrikaanse mynwese spandeer het voordat hy in 2015 as dosent in Ekonomiese Geologie by die US aangestel is. Sedert sy akademiese aanstelling het hy sterk bande met die Afrika Ligbron-inisiatief gesmee en het hy by die eerste, sowel as die tweede Pan-Afrikaanse konferensies wat deur bogenoemde sambreelliggaam gereël is, lesings gegee. Hy is steeds besig om nuwe en interessante maniere te ondersoek waarvolgens sinkrotronwetenskap in sy navorsingsveld, wat verwant is aan ertsmineralisasie, toegepas kan word.

Science Café Stellenbosch is 'n inisiatief van die US se Fakulteit Natuurwetenskappe om openbare gesprekke oor wetenskaplike kwessies aan te moedig, in 'n taal wat almal kan verstaan. Toegang is gratis en leerders is altyd welkom.

Volg ons op Facebook indien jy op datum wil bly met toekomstige gesprekke, of epos sciencecafe@sun.ac.za om jou naam op die eposlys te plaas.

Foto van synchroton fasiliteit in die VSA. Foto: Eric Gagneraud