Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kontemporêre drama by die Adam Small Teaterkompleks
Begin: 03/05/2019, 20:00
Einde: 11/05/2019, 20:00
Kontak:Mareli Pretorius - 021 8083089
Plek: The Lab, Adam Small Theatre Complex

Bryony Lavery se stimulerende en uitdagende kontemporêre Britse drama, Frozen, word binnekort deur senior studente van die Universiteit Stellenbosch se Dramadepartement op die planke gebring. Lavery is ʼn bekende en bekroonde dramaturg en herlewings van die toneelstuk het verlede jaar in Londen en ander stede die lig gesien.

Frozen ondersoek die verdwyning van Rhona, ʼn 9-jarige meisie, en die verwoestende gevolge van hierdie trauma op haar ma, Nancy, en haar familie oor ʼn tydperk van 15 jaar. Terselfdertyd volg ons die reis van Ralph, ʼn pedofiel-reeksmoordenaar, wat uiteindelik gevang en skuldig bevind word aan Rhona se moord. Die toneelstuk bied ʼn genuanseerde en sensitiewe siening van beide die moeder en die moordenaar se perspektief. Ons ontmoet ook ʼn derde karakter, Agnetha, wat ʼn Amerikaanse psigiater en akademikus is wat spesialiseer in navorsing oor die agtergronde van gewelddadige reeksmoordenaars. Sy word gevra om sielkundige evaluerings op Ralph te doen. Haar evaluerings onthul dat Ralph ʼn slagoffer van ernstige fisieke en emosionele mishandeling as ʼn jong kind was, met wesenlike skade as ʼn gevolg.

Die toneelstuk word op ʼn nie-tradisionele manier in ʼn intieme speelruimte aangebied en ondersoek die raakpunte tussen hierdie drie karakters se lewens. ʼn Vierde karakter, dié van ʼn geheimsinnige wag, is ook teenwoordig en lei die gehoor om die rol van geregtigheid in ons samelewing te oorweeg. Ongemaklike vrae word gevra, soos wie moet blameer word vir gewelddadige, kriminele gedrag van hierdie aard? Is dit moontlik in ons samelewing, waar daar toenemende vlakke van mishandeling en kindermoord voorkom, om ʼn persoons soos Ralph te vergewe? Word ons nie almal tot ʼn sekere mate aanspreeklik as ons nie ons kinders se veiligheid en liefdevolle opvoeding kan verseker nie?

Frozen staan onder die regie van Sukki Hofmeyr en speel in die Lab Studio van die Adam Small Teaterkompleks (voorheen die HB Thom-teater) op 3, 4 en 6, 7, 9, 10 en 11 Mei 2019 om 20:00.

Kaartjies kan aanlyn by Quicket of by die deure gekoop word. Let asseblief daarop dat sitplekke beperk is. R70 vir publiek en R60 vir studente. Daar is ʼn 14 ouderdomsbeperking vir hierdie toneelstuk. Kontak Mareli Pretorius vir verdere navrae: mareli@sun.ac.za.