Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Lesing deur Reserwebank-president
Begin: 06/03/2019, 18:00
Einde: 06/03/2019, 19:30
Kontak:Ronel Beukes - 021 808 3404
Plek: Ingang 1 / Entrance 1; Van der Sterr-kompleks / Complex

​Dr Lesetja Kganyago, president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB), sal in Maart op uitnodiging van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe en die Buro vir Ekonomiese Ondersoek 'n openbare lesing lewer.

Die lesing met die titel Waarom moet sentrale banke onafhanklik wees? vind op 6 Maart 2019 op die Stellenbosse kampus plaas.

As tiende president van die Suid-Afrikaanse Reserwebank, geniet dr Kganyago internasionale erkenning vir sy formidabele intellektuele leierskap op beleidsgebiede soos prys- en finansiële stabiliteit, en vir sy rol as een van die land se voorste openbarebeleidmakers, asook sy bydrae tot die geloofwaardigheid en deursigtigheid van Suid-Afrika se fiskale en monetêre beleid.​

Nadat hy die grade BCom (Rekeningkunde en Ekonomie) en MSc (Ontwikkelingsekonomie) verwerf het, lei verskeie poste in die bankbedryf hom uiteindelik na die Nasionale Tesourie. Hier het hy in verskillende ampte gedien, onder meer dié van direkteur-generaal van 2004 tot 2011. In dié tyd het hy 'n aantal hervormings in openbare finansies en finansiële markte suksesvol deurgevoer. Daarna sluit hy hom aan by die SARB, eers as visepresident en, sedert 2014, as president.

Toe die onafhanklikheid van die Reserwebank in gevaar was, het dr Kganyago die leiding geneem om dit met oorgawe te verdedig, en het hy pogings om die grondwetlike mandaat van die SARB te wysig met welslae afgeweer. Afgesien van sy voorsitterskap van die Komitee van Sentralebankpresidente van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, is hy in Januarie 2018 as voorsitter van die Internasionale Monetêre en Finansiële Komitee aangewys, die eerste sentralebankpresident van Afrika suid van die Sahara om hierdie amp te beklee.

Sy eerbewyse sluit in die GlobalMarkets se sentralebankpresident van die jaar vir Afrika suid van die Sahara (Oktober 2017), Sunday Times se sakeleier van die jaar (November 2017) en Central Banking se sentralebankpresident van die jaar (Maart 2018).

Die Universiteit Stellenbosch het hom in Desember 2018 met 'n eredoktorsgraad vereer vir sy onwrikbare leierskap en vergestalting van waardes soos integriteit, verantwoordbaarheid en uitnemendheid.

  • Die lesing is vol bespreek en geen sitplekke is meer beskikbaar nie.

LesetjaKganyago_webArticle.jpg