Die aansienlike afname in die COVID-19-infeksiekoers in die land stel ons in staat om die meeste aktiwiteite, insluitende onderrig en leer, te hervat. Prof Stan du Plessis het in sy hoedanigheid as die voorsitter van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) in sy skrywe van 26 Februarie 2021 aangedui dat die besluit geneem is om alle studente na die kampus te laat terugkeer vir die aanvang van die eerste semester. Hy het die aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering-model beklemtoon wat in ooreenstemming met die regulasiebeperkings op klasgroottes en aktiwiteite in werking gestel sal word.
Die leer- en onderrigmodel wat aanvaar is, sal die terugkeer van meer akademiese en professionele akademiese ondersteuningspersoneel na ons kampusse vereis. Lynbestuurders sal met personeel skakel oor hul terugkeer na die kampusse en hoe dit sal gebeur. Die terugkeer van personeel sal ingevolge gesondheids- en veiligheidsvoorskrifte geskied, soos uitgereik deur die regering om rigting aan werknemers te gee vir die herintegrasie van personeel in die werksplek. Hierdie voorskrifte sluit sosiale afstandskeppingsmaatreëls en spesiale maatreëls in om personeel met onderliggende siektetoestande te akkommodeer. Die voorskrifte sal ook ’n proses daarstel om situasies te hanteer waar personeel weier om na die werksplek terug te keer.
Ons moedig u aan om die Afdeling Menslike Hulpbronne se webwerf te besoek vir afskrifte van die volgende dokumente:
Die Die Beroepsgesondheid- en Veiligheidsvoorskrifte van Oktober 2020; en
die US se protokol wat die proses beskryf om ’n situasie te hanteer waar ’n werknemer weier om na die werksplek terug te keer.
Dit is belangrik om u van hierdie dokumente te vergewis, aangesien dit op gesondheid en veiligheid in die werksplek betrekking het. Moet asseblief nie huiwer om met lynbestuurders of ons kollegas by Menslike Hulpbronne en Kampusgesondheidsdienste in verbinding te tree indien u verder uitklaring nodig het nie.
(15 Maart 2021 opgedateer)