​​​​​

Brand by Huis ten Bosch

Op Maandag 12 Augustus 2019 het ’n brand omstreeks 19:00 by die Universiteit Stellenbosch se koshuis Huis ten Bosch uitgebreek. Die brand is teen 20:30 onder beheer gebring, en al 164 inwoners is veilig ontruim. Een student is vir brandwonde aan haar hande en nog een vir rookinaseming by die Stellenbosch-hospitaal behandel. Albei studente is in ’n bevredigende toestand. Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van Huis ten Bosch is beskadig. Die Universiteit se Sentrum vir Studentevoorligting en -ontwikkeling se 24-uur krisisdiens, in samewerking met ER24, is in werking gestel en kan by 010 205 3032 gekontak word.


Skenkings

Ons innige dank aan alle personeellede, studente en die groter Stellenbosse gemeenskap wat ondersteuning en hulp vir die inwoners van Huis ten Bosch aangebied het.

Mense wat goedere wil skenk of ’n finansiële bydrae wil maak, is welkom om dit te doen. Finansiële skenkings (om akademiese studiemateriaal, boeke, ens te vervang) kan in die Universiteit se bankrekening inbetaal word:

Rekeningnommer: 073 006 955
Bank: Standard Bank
Takkode: 051001
Verwysing: R8642

Vir meer inligting, tree met mnr Grant Williams by ons Sentrum vir Studentegemeenskappe (+27 21 808 3064/ssg@sun.ac.za) in verbinding.


Jongste nuus oor Huis ten Bosch: Verblyf

​’n Skadebepaling deur die US se Fasiliteitsbestuur, ingenieurskonsultante en die versekeraars het getoon dat die brand taamlike groot skade aan sommige dele van die koshuis aangerig het. Daar is ook waterskade in ’n groot gedeelte van die res van die gebou. Hoewel dit moontlik kan meebring dat Huis ten Bosch vir die res van die semester nie as ’n koshuis gebruik sal kan word nie, bied dit ons inwoners die vooruitsig van ‘n opgeknapte en doelgemaakte nuwe koshuis.

Ons Koshuisplasingsbeampte kon beddens in ander koshuise bekom vir studente wat die ergste deur die brandskade geraak is en studente wat van ver af kom. Hulle is gister na hierdie US-verblyf verskuif. Ongelukkig moes ons op talle studente staatmaak wat tydelik by familie of vriende kan tuisgaan totdat ons meer verblyf naby die US-kampus kan vind. Baie dankie aan almal wat op hierdie manier kon help

Klik hier​ vir volledige kommunikasie aan HTB studente en ouers.


Jongste nuus oor Huis ten Bosch: Akademie

Omdat hulle na alternatiewe verblyf moet trek en hul voete daar moet vind, is dit vir baie van die studente moeilike om tans akademies te funksioneer. Fakulteitpersoneel is versoek om inwoners van Huis ten Bosch vandag (14 Augustus) van klasse, toetse, tutoriale, praktiese sessies, ens te verskoon. Hopelik sal die meeste van die studente van Huis ten Bosch teen Donderdag (15 Augustus) tuis genoeg voel in hul nuwe omgewing om hul akademiese verpligtinge te hervat. Studente word aangemoedig om, indien moontlik, die assesseringsgeleenthede te gebruik sodat hulle nie teveel werk het om later in te haal nie. Studente wie se spesifieke omstandighede dit vir hulle onmoontlik maak om van Donderdag af assesserings te doen of leergeleenthede by te woon, word gevra om individueel met hul dosente in verbinding te tree om die nodige reëlings te tref wat prakties haalbaar is vir hulle en die fakulteite. Die fakulteite het almal die lys van name van die Huis ten Bosch-studente en hul akademiese programme ontvang sodat hulle kan bepaal vir watter modules die studente by elke fakulteit ingeskryf is.


Jongste Nuus

Herstelwerk aan Huis ten Bosch begin eersdaags

02 September 2019

Die proses om 'n beter Huis ten Bosch vir 2020 te herbou, sal vandeesweek begin. Hierdie vertroue is verlede week deur die Universiteit Stellenbosch (US) se...

Lees meer >

Huis ten Bosch-brand: Dak en agt kamers beskadig

13 Augustus 2019

Die dak bokant agt kamers op die derde vloer van die Huis ten Bosch-koshuis by die Universiteit Stellenbosch (US) is verwoes in die brand wat omstreek 19:00...

Lees meer >

Media: neem asseblief kennis – Huis ten Bosch nie toeganklik vir media tot verdere kennisgewing

12 Augustus 2019

Die assessor word vandag op die Huis ten Bosch terrein verwag. Om veiligheidsredes kan media nie tot die beskadigde dele van...

Lees meer >

Huis ten Bosch brand geblus, studente veilig

12 Augustus 2019

Al die inwoners van Huis ten Bosch het huisvesting vir die nag nadat ’n brand omstreeks 19:00 Maandagaand (12 Augustus 2019) in die koshuis uitgebreek...

Lees meer >