STUDENTE GEREELDE VRAE > PERSONEEL GEREELDE VRAE > INTERNASIONALE STUDENTE > NAGRAADSE STUDENTE > NAVORSERS > FAKULTEIT GENEESKUNDE EN GESONDHEIDSWETENSKAPPE >

PERSONEEL GEREELDE VRAE

WiFi-verbinding op US se kampusse

Die Eduroam-netwerk is aan die begin van die jaar in werking gestel om veiliger en sekerder WiFi aan personeel en studente op die US se kampusse te verskaf. Eduroam het die onveiliger MatiesWiFi vervang wat nie data-enkripsie ondersteun het nie. Deur data te enkripteer, verskaf Eduroam ’n veiliger en sekerder verbinding.

Namate meer studente en personeel na die kampus terugkeer en die gebruik van WiFi toeneem, ontvang die Informasietegnologie-afdeling al hoe meer klagtes oor WiFi-verbindings. Hierdie verbindingskwessies word nie noodwendig ondervind weens die oorskakeling na die Eduroam-netwerk nie, maar kan ook toegeskryf word aan verskeie faktore soos die algemene onstabiele en onbetroubare aard van WiFi en die verskillende konfigurasies van toestelle.

(8 Junie 2021 opgedateer)

Namate meer studente en personeel na die kampus terugkeer en die gebruik van WiFi toeneem, ontvang die Informasietegnologie-afdeling al hoe meer klagtes oor WiFi-verbindings. Hierdie verbindingskwessies word nie noodwendig ondervind weens die oorskakeling na die Eduroam-netwerk nie, maar kan ook toegeskryf word aan die volgende:

  1. WiFi is onstabiel en onbetroubaar van aard
    Hoewel ’n toestel moontlik die Eduroam-sein kan optel of ontvang, kan dit moontlik nie ’n sein uitstuur na die verafgeleë toegangspunt nie, wat ’n onstabiele en onbetroubare verbinding tot gevolg het. WiFi is baie meer onstabiel en onbetroubaar van aard as ’n stabiele, kabelgebaseerde netwerk omdat dit radionetwerke en seine gebruik wat maklik deur dik mure en ander versperrings geblokkeer kan word. Dit kan met ’n selfoonoproep vergelyk word wat somtyds ’n baie frustrerende ervaring kan wees en die enigste manier om dit reg te stel, is om na ’n ander plek te beweeg vir ’n beter sein en ervaring.
  2. WiFi-oorlaaiing weens beperkte dekking
    Personeel en studente het dikwels verskeie toestelle wat by die WiFi-netwerk ingeskakel is en dit kan oorlaaiing op sommige toegangspunte veroorsaak. Om ’n doeltreffende verbinding tot die WiFi op kampus te verseker, moet jy eers vasstel of daar dekking in jou gebied is. Indien nie, beteken dit nuwe infrastruktuur moet geskep word. Ons het talle ou geboue op kampus wat nie vir moderne tegnologie ontwerp is nie, en daarom is dit nie altyd moontlik om WiFI aan elke hoekie van elke gebou te verskaf nie. Fasiliteitsbestuur se interaktiewe kaart kan gebruik word om te bepaal of daar WiFi-dekking in jou gebou is.
    Verbindingskwessies word voortdurend in samewerking met Fasiliteitsbestuur aangespreek deur die kampusvernuwing-meesterplan wat die vermeerdering van die aantal WiFi-verbindingspunte in US-geboue insluit. Groot kwessies word sover moontlik aangespreek, maar in sommige gevalle is dit weens ’n verouderde infrastruktuur van datakabels. In sulke gevalle moet groot projekte aangepak word om die kabel-infrastruktuur te vervang. Selfs WiFi-verbindingspunte het ’n kabel nodig om by die netwerk en internet in te skakel.
  3. Verskillende toestel-konfigurasies veroorsaak vertragings
    Die hardeware-konfigurasies van selfone verskil. Die gevolg is dat sommige toestelle langer neem om by Eduroam in te skakel en ’n onderbreking kan dan ondervind word. Dit gebeur weens die toestel self en nie weens ’n onbetroubare WiFi-verbinding nie. Omdat selfone so baie verskil, is dit belangrik dat ons personeel en studente sal seker maak dat hul toestelle op die Universiteit se netwerk geregistreer is en dat dit behoorlik opgestel is om WiFi-seine te ontvang en te stuur. Die ondersteuningspan by die IT-naaf en hulptoonbank kan jou daarmee help.

(8 Junie 2021 opgedateer)

Om te verseker dat jy reg inskakel by Eduroam, volg hierdie prosedure. Meer inligting is ook op die IT-blog beskikbaar.

(8 Junie 2021 opgedateer)

Werksreëlings

Die aansienlike afname in die COVID-19-infeksiekoers in die land stel ons in staat om die meeste aktiwiteite, insluitende onderrig en leer, te hervat. Prof Stan du Plessis het in sy hoedanigheid as die voorsitter van die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) in sy skrywe van 26 Februarie 2021 aangedui dat die besluit geneem is om alle studente na die kampus te laat terugkeer vir die aanvang van die eerste semester. Hy het die aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering-model beklemtoon wat in ooreenstemming met die regulasiebeperkings op klasgroottes en aktiwiteite in werking gestel sal word.

Die leer- en onderrigmodel wat aanvaar is, sal die terugkeer van meer akademiese en professionele akademiese ondersteuningspersoneel na ons kampusse vereis. Lynbestuurders sal met personeel skakel oor hul terugkeer na die kampusse en hoe dit sal gebeur. Die terugkeer van personeel sal ingevolge gesondheids- en veiligheidsvoorskrifte geskied, soos uitgereik deur die regering om rigting aan werknemers te gee vir die herintegrasie van personeel in die werksplek. Hierdie voorskrifte sluit sosiale afstandskeppingsmaatreëls en spesiale maatreëls in om personeel met onderliggende siektetoestande te akkommodeer. Die voorskrifte sal ook ’n proses daarstel om situasies te hanteer waar personeel weier om na die werksplek terug te keer.

Ons moedig u aan om die Afdeling Menslike Hulpbronne se webwerf te besoek vir afskrifte van die volgende dokumente:

Die Die Beroepsgesondheid- en Veiligheidsvoorskrifte van Oktober 2020; en
die US se protokol wat die proses beskryf om ’n situasie te hanteer waar ’n werknemer weier om na die werksplek terug te keer.

Dit is belangrik om u van hierdie dokumente te vergewis, aangesien dit op gesondheid en veiligheid in die werksplek betrekking het. Moet asseblief nie huiwer om met lynbestuurders of ons kollegas by Menslike Hulpbronne en Kampusgesondheidsdienste in verbinding te tree indien u verder uitklaring nodig het nie.

(15 Maart 2021 opgedateer)

COVID-19-infeksie, -isolasie, -blootstelling en -kwarantyn

Die definisie van hoërisiko- (noue) kontak is om vir 15 minute of langer en sonder ’n masker nader as 1,5 m te wees aan, of ’n ingeslote ruimte te deel met, ’n bevestigde COVID-19-geval tussen twee dae voor en tien dae ná aanvang van simptome. Dít sluit gewoonlik alle persone in wat in dieselfde huishouding as ’n COVID-19-geval woon, maar kan ook betrekking hê op werkplekke indien daar nie aan voorsorgmaatreëls voldoen word nie.

(1 Februarie 2021 opgedateer)

Die kwarantyntydperk is tien dae, met daaglikse selfmonitering vir moontlike COVID-19-simptome. Indien simptome voorkom, gaan vir ’n SARS-CoV-2-toets. As die uitslag positief is, isoleer (sien hieronder). As die uitslag negatief is, bly in kwarantyn. Indien jy asimptomaties is, keer terug werk toe tien dae nadat jy die laaste keer aan COVID-19 blootgestel was, sonder om vir ’n toets te gaan. (Vir sekere “noodsaaklike” personeellede kan toetsing gedurende die kwarantyntydperk ’n vroeë terugkeer werk toe moontlik maak indien hulle uitslag negatief is.) Alle individue wat uit kwarantyn kom, moet steeds aan die gewone nie-farmaseutiese maatreëls voldoen, soos om ’n masker te dra, ’n fisiese afstand van ander te handhaaf, goeie hoes- en handhigiëne te beoefen, ensovoorts.

Let wel: Kwarantyn verwys na die afsondering van gesonde (asimptomatiese) individue wat aan SARS-CoV-2 blootgestel is en dus draers van die virus kan wees. Die doel is om te keer dat die virus na ander versprei, wat voor óf sonder aanvang van simptome kan gebeur.

(1 Februarie 2021 opgedateer)

Individue met bevestigde SARS-CoV-2-infeksie moet (self)isoleer vir so lank as wat hulle aansteeklik is. Aansteeklikheid bereik ’n hoogtepunt wanneer simptome begin. Dit is oor die algemeen veilig vir pasiënte om (self)isolasie te staak (met ander woorde, te “de-isoleer”) en na die werkplek terug te keer sodra hulle nie meer aansteeklik is nie. Die isolasietydperk is tien dae (SA Gesondheidsdepartement, verw. 2020/07/17Covid/01), mits die pasiënt koorsvry is sonder om antipiretiese middels (koorsmedisyne) te gebruik.

Motivering: In gevalle van ligte COVID-19-siekte is virus-isolasie as ’n aansteeklikheidsmerker gewoonlik slegs moontlik vir agt tot nege dae ná aanvang van simptome. In ernstige gevalle van COVID-19 duur aansteeklikheid langer en moet sulke pasiënte in isolasie bly vir ’n verdere tien dae nadat hulle kliniese stabiliteit bereik het (en byvoorbeeld nie meer aanvullende suurstof nodig het nie). Asimptomatiese pasiënte met SARS-CoV-2-infeksie behoort veiligheidshalwe vir tien dae ná die datum van hulle positiewe toets te isoleer. Vir individue met ’n ernstige immuniteitsgebrek behoort deskundige advies ingewin te word voordat hulle de-isoleer.

Let dus op die volgende:

Asimptomaties: De-isoleer tien dae nadat COVID-19-positiewe monster geneem is
Ligte siekte: De-isoleer tien dae na aanvang van simptome
Ernstige siekte: De-isoleer tien dae nadat kliniese stabiliteit bereik is

De-isolasie vereis nie verdere toetsing nie. Toetse kan steeds positiewe uitslae oplewer, selfs al is die pasiënt nie meer aansteeklik nie. De-isolasie behoort onderskei te word van mediese geskiktheid om weer te begin werk. Pasiënte wat ernstig siek was aan COVID-19 kan dalk langer siekteverlof as slegs die isolasietydperk vereis.

Alle individue wat van COVID-19 herstel het, moet steeds aan die gewone nie-farmaseutiese maatreëls voldoen. Dít sluit in om ten minste 1,5 m van ander af te bly, hulle hande te ontsmet, ’n masker volgens die riglyne te dra en hoeshigiëne te beoefen, aangesien immuniteit nie noodwendig betroubaar of langdurig is nie.

(1 Februarie 2021 opgedateer)

Bronne: SA Gesondheidsdepartement, NICD, NIOH, sacoronavirus.co.za )

Personeelondersteuning

Die Kampusgesondheidsdiens lewer verskillende ondersteuningsdienste aan personeel gedurende die afsluitingsperiode. Kontak die volgende nommers hier:

Kampusgesondheidsdiens
Anneke van Heerden
021 808 3496
acvanheerden@sun.ac.za
Ná ure noodnommer: 076 431 0305

Menslike Hulpbronne: Welwees
Shibu Mamabolo
079 011 836
shibu@sun.ac.za

External Counsellor
Dr David Fourie
082 852 1305
dpfourie@telkomsa.net

​​