Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Gerhard Walzl ontvang A-gradering van NNS
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/06/2023

Een van die Universiteit Stellenbosch (US) se hoog aangeskrewe wetenskaplikes, prof Gerhard Walzl, hoof van die Departement Biomediese Wetenskappe in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het onlangs sy eerste A-gradering van die Nasionale Navorsingstigting (NNS) ontvang.

Walzl se gradering bring die US se totale aantal navorsers met 'n A-gradering op 21 te staan – die meeste nog vir die instelling wat nou met altesame 504 NNS-gegradeerde navorsers spog.

'n A-gradering is die hoogste gradering wat wetenskaplikes op die NNS se graderingstelsel kan behaal. A-gegradeerde navorsers word deur hulle eweknieë as die voorste internasionale vakkundiges op hulle onderskeie gebiede beskou danksy die hoë gehalte en invloed van hulle onlangse navorsingsuitsette.

Walzl is 'n kliniese wetenskaplike wat opgelei is in interne geneeskunde, pulmonologie en immunologie. Hy is ook 'n uitgelese professor en lei die multidissiplinêre navorsingsgroep vir immunologie in die afdeling Molekulêre Biologie en Mensegenetika aan die US.

Hy is deur die NNS vereer vir sy uitsonderlike navorsing oor die immunologie van Mycobacterium tuberkulose (MTB)-infeksie en in besonder gasheer-biomerkers, insluitende diagnostiese merkers en merkers van TB-behandelingreaksie, en oor beskermende immuniteit teen MTB.

Walzl het in reaksie op sy A-gradering gesê dit is 'n teken van die leidende rol wat Suid-Afrikaanse wetenskaplikes kan en wel speel. Volgens hom is dit is slegs moontlik danksy volhoubare plaaslike en internasionale medewerking en die Universiteit en Suid-Afrika, asook internasionale finansiers, se ondersteuning vir 'n buitengewone span.

“My span voel geëerd om hierdie erkenning te ontvang en is dankbaar dat die afgelope twee dekades se harde werk as betekenisvol en as baanbrekerswerk beskou word. Dit is ook 'n bewys dat ons navorsingsonderwerp, immunologie en biomerkers vir TB, as belangrik beskou word. Terselfdertyd besef ons die werk is nog lank nie klaar nie en dat baie nog moet gebeur voordat daar gesê kan word dat gesondheidswetenskappe 'n beduidende duik in die vernietigende TB-uitdaging gemaak het."

Voordat hy sy A-gradering ontvang het, is Walzl ook deur die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad met 'n goue medalje vereer vir sy uitstaande lewenslange wetenskaplike bydraes tot gesondheidsnavorsing en in 2021 is hy as lid van die Wetenskapakademie van Suid-Afrika verkies. In dieselfde jaar het 'n internasionale navorsingspan onder sy leiding die Wetenskaplike Navorsingspanprys van die Europese en Ontwikkelende Lande Kliniese Proefnemingsvennootskap (EDCTP) ontvang.

Walzl het 'n leidende rol in verskeie internasionale projekte in veelvoudige liggings gespeel wat deur die Bill en Melinda Gates-stigting, die EDCTP en die VSA se Nasionale Instituut vir Gesondheid gefinansier is. Die Departement Biomediese Wetenskappe was onder sy leierskap nou betrokke by die onlangse bekendstelling van die ultramoderne biomediese navorsingskompleks wat die mees gevorderde sentrum in sy soort in Afrika is.

'n Wye verskeidenheid van Walzl werk oor biomerkers vir TB-behandelingsreaskie is al gepubliseer en hy het die afgelope 15 jaar 'n groot bydrae tot onderrig gelewer deur as studieleier vir meer as 30 nagraadse studente op te tree.  

Die NNS se graderingstelsel is 'n normstellingstelsel waarvolgens individue wat die hoogste standaarde van navorsing beliggaam, asook dié wat groot potensiaal as navorsers toon, deur 'n uitgebreide netwerk van Suid-Afrikaanse en internasionale eweknie-beoordelaars geïdentifiseer word. Graderings word op die gehalte en invloed van onlangse navorsingsuitsette (oor 'n tydperk van agt jaar) gegrond.

  • Klik hier vir 'n lys van die US se NNS-gegradeerde 

Foto deur Stefan Els