Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jean Durand ontvang fakulteit se hoogste eerbewys
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 15/06/2023

Jean Durand het 'n familietradisie aan die gang gesit toe hy onlangs as die 2022-wenner van die gesogte CGW Schumann-medalje vir beste nagraadse student in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aangewys is.

Die gegradueerde van die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap het sy BCom Honneurs in Wiskundige Statistiek, met die fokusarea Datawetenskap, met 'n geweegde gemiddelde van 90% voltooi. Hy het 'n BSc in Wiskundige Wetenskappe, met Rekenaarwetenskap en Wiskundige Statistiek as sy hoofvakke, vir sy voorgraadse studies voltooi. Sy geweegde gemiddeld vir die program was 93%.

Durand sê die sleutel tot sy sukses was om deurgaans hard te werk, lesings by te woon en op hoogte te bly van al sy kursuswerk.

Dit het ook gehelp dat hy nog altyd 'n passie vir wiskunde gehad het en geweet het dat hy iets wil studeer wat met wiskunde verband hou.

“Dit is hoekom ek met 'n BSc-graad begin het. Dit het my in staat gestel het om verskillende velde rakende Wiskunde te verken. Dit was eers op universiteit dat ek die velde van Wiskundige Statistiek en Rekenaarwetenskap ontdek het."

Die Schumann-medalje is die jongste in 'n rits toekennings wat Durand vir sy akademiese pogings ontvang het. Dit sluit in die beste eerstejaarstudent in Toegepaste Wiskunde; beste tweedejaarstudent in wiskunde en beste derdejaarstudent in Wiskundige Statistiek. Hy het ook in 2022 die Rektorstoekenning vir Akademiese Uitnemendheid ontvang.

Dié boorling van Stellenbosch, wat tans as datawetenskaplike by Discovery in Sandton werksaam is, sê dit is ietwat surrealisties om die Schumann-medalje te ontvang.

“My ma, Ilanie, het 30 jaar terug ook hierdie medalje ontvang. Dit is 'n groot voorreg om dit nou te ontvang en ook vir my prestasies om op so 'n tasbare wyse erken te word. My tyd weg van die Universiteit Stellenbosch het my die geleentheid gegee om na te dink oor my ervarings daar en nou waardeer ek alles nog meer."

Hy het sy dank teenoor die Departement Statistiek en Aktuariële Wetenskap uitgespreek omdat hulle in hom geglo het en hom vir die toekenning genomineer het. Hy het ook die ondersteunende omgewing by die US geloof.

“Ek het die akademiese omgewing op Stellenbosch baie geniet. Alhoewel ons klasse weens die COVID-19-pandemie ontwrig is, het die universiteit baie goed aangepas en ons altyd die beste gehalte onderrig moontlik gegee. Dit het dit vir die studente moontlik gemaak om in 'n moeilike tyd met hul studies voort te gaan. My finale jaar was beslis my beste jaar aangesien ons weer persoonlik klasse kon bywoon.

“Ek het ook baie goeie herinneringe van my tyd by Eendrag Manskoshuis. Ek het die verskillende geleenthede en die ondersteuningstruktuur wat ons daar gehad het, geniet. Ek het lewenslange vriende daar gemaak."

Durand, wat Paul Roos Gimnasium bygewoon het, het ook krediet aan sy familie en skool gegee vir hul aandeel in sy sukses.

“My familie, veral my ouers Jannie en Ilanie, het 'n groot rol in my sukses gespeel. Ek is dankbaar vir al die geleenthede wat hulle my gegee het en sonder hulle sou hierdie prestasies nie moontlik gewees het nie. Ek het op 'n baie mededingende vlak vir my skool tennis gespeel en ek glo dit het my ook gevorm om die gedrewe en mededingende mens te word wat ek vandag is."

Durand sal aan die einde van die jaar sy pos by Discovery verlaat om vir 'n MSc in Rekenaarkunde (Masjienleer en Kunsmatige Intelligensie) aan die Imperial College in Londen te studeer.

Die CGW Schumann-medalje, vernoem na prof CGW Schumann, 'n pionierdosent in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe vanaf 1924 en ook dekaan vir 'n kwarteeu vanaf 1935, word sedert 1986 jaarliks toegeken. Die toekenning is die hoogste studentetoekenning wat tans deur die fakulteit aangebied word.