Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Gabeba Baderoon lewer aangrypende Afrikadag-lesing
Outeur: Corporate Communications and Marketing
Gepubliseer: 26/05/2023

“Ons moet die universiteit se ruimte opeis, want dit is ons kollektiewe skat. Die universiteit self word verryk wanneer dit almal erken wat behoort. Dit word minder en verarm wanneer dit ooreenkomstig die uitsluitingslyne leef wat oorgeërf is."

Hierdie was een van die betekenisvolle insigte wat prof Gabeba Baderoon met die gehoor in ʼn volgepakte saal van die Stellenbosch-museum gedeel het toe sy op Maandag, 22 Mei, die vyfde Jaarlikse Afrikadag-lesing gelewer het

Die Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), prof Wim de Villiers, is die gasheer van hierdie jaarlikse lesing en dit word deur die Sentrum vir die Bestudering van die Nagevolge van Geweld en die Strewe na Herstel (NGeSH) en die Sentrum vir Medewerking in Afrika gekoördineer.  

Die titel van Baderoon se toespraak was “Die Universiteit en sy Hinterland: ʼn Reliëfkaart" en sy het geput uit herinneringe, die geskiedenis en ontledende beskouings om oor die akademie en die betekenis daarvan in die era ná apartheid te besin. Sy het die gehoor geboei met die voorlesing van twee baie persoonlike gedigte om haar verkenning van die historiese afstande en gespanne intimiteite van die akademiese landskap in Suid-Afrika te kontektualiseer.  

Baderoon is ʼn hoog aangeskrewe digter en vakkundige, asook ʼn buitengewone professor in Engels aan die US, ʼn genoot aan die Stellenbosch-instituut vir Gevorderde Studie en tans die Sarah Baartman- senior genoot aan die Universiteit van Kaapstad (UK).

Sy het drie digbundels op haar kerfstok en is die outeur van die grensverskuiwende boek Regarding Muslims: From Slavery to Post-Apartheid.

Baderoon is die mededirekteur van die African Feminist Initiative aan die Staatsuniversiteit van Pennsilvanië, waar sy ʼn medeprofessor in vroue-, gender- en seksualiteitstudies, Afrikastudies en vergelykende letterkunde is.

 

Hinterland

“Die grootste skat van die universiteit is die lewende deel daarvan, die ontasbare deel. Dis waaroor ek wil praat as ek oor die universiteit en sy hinterlande dink," het Baderoon gesê. Sy het die lesing aan haar ma opgedra, oor wie sy ʼn outobiografie skryf.

“In die vroeë dae van apartheid was my ma ʼn mediese student aan die Universiteit van Kaapstad. Sy was die eerste lid van haar gesin wat universiteit toe is en het as die jongste dogter van ʼn Moslem-werkersklasgesin medies gaan studeer. My ma beliggaam die idee van ʼn lewende skat. Ek doen ʼn beroep op almal van julle om oor jul intellektuele outobiografieë na te dink. Almal van ons in hierdie kamer – studente; diegene wat by universiteite klasgee en werk; en gegradueerdes van universiteite. Hoe het ons hier gekom? Hoe het ons deurgekom? En wat doen ons met ʼn geskenk wat ons van ʼn plek soos hierdie ontvang?"

Die verkenning van ons intellektuele outobiografieë sal ons in staat stel om ʼn universiteit vir ons huidige posttraumatiese tyd te prakseer, het Baderoon aangevoer.

Sy het haar eie ervaring aan die UK in die laat 1980's met dié van haar ma vergelyk. Sy het baie oomblikke van woede, weersin en weerstand as ʼn student beleef, het sy gesê.

Vuyani Manele, ʼn administrateur van die UK se nagraadse beurskantoor, is die mens wat die koers van haar loopbaan verander het. Hy het in 1998 aan al die deure van nagraadse studente in die kunsgebou op kampus kom klop,  veral aan dié van swart studente, om ons uit te nooi om vir genootskappe aan prestigeryke instellings aansoek te doen.

Die optrede van een administrateur wat die moeite gedoen om na swart studente uit te reik​ het ʼn diepgaande impak op haar lewe gehad, het sy gesê. Om die een individu te vereer aan wie sy soveel vir haar opvoeding verskuldig is, is ʼn erkenning dat toegang tot die akademiese hinterland deur brugbouers bewerkstellig word wat veel meer as net hul plig doen.

Baderoon het die verskillende lae van die woord “hinterland" blootgelê om ʼn plek aan te dui wat ossileer, wat ver én intiem kan wees. “As jy daaroor nadink, het elke plek ʼn hinterland, maar is dit ook ʼn hinterland van ʼn ander plek. Op ʼn manier vra ʼn hinterland jou dus waar behoort jy?. En waar is jou ander plek? Waar is die plek wat naby aan jou is, en waar is die plek wat vir jou ver voel?"

Sy het die gehoor uitgedaag om na te dink oor wat as die US se hinterland beskou kan word. “Kan dit die omringende plase wees? Kan dit Idasvallei wees? Kan dit Kayamandi wees…?"

 

Afrika-intellektueel

Sy het ʼn roerende herinnering met die gehoor gedeel van toe sy net ná die einde van spoorwegapartheid op ʼn trein was. “Ek was die enigste swart mens in die wa. Ek het op ʼn baie doelbewuste manier gesit. Ek wou my liggaam op ʼn plek sit waar dit nie gelyk het of dit hoort nie.

“Terwyl ek daar gesit het, het ek ʼn gesprek aangehoor waarin ʼn man vir ʼn vrou gesê het: 'Hulle het geen geskiedenis nie. Hulle het geen letterkunde nie.' Die gesprek het op hierdie trant voortgegaan en ek was absoluut woedend. Ek het nie woorde gehad waarmee ek hom kon weerspreek nie. Ek het nie geweet hoe om terug te antwoord nie. En toe het ek daardie woede na klasse oor Afrika-letterkunde en Afrika-geskiedenis geneem sodat ek altyd voorbereid sou wees. Dit was ʼn keerpunt in my intellektuele ontwikkeling." ​

Baderoon skryf haar intellektuele bevryding aan twee groepe toe: feministiese lektore aan die UK en die Women of Colour Consciousness Raising (WCCR), ʼn groep van jong swart vroue wat in die 1990's deur studente gestig is om nagraadse studente aan al die universiteite in die Wes-Kaap te ondersteun.

“Ons het ons energie saamgesnoer en ʼn ruimte geskep waar iets visioenêr kon gebeur. Wat ons gedoen het, was om mekaar se werk te lees om die radikale idees te ondersteun waarvoor daar nie in die amptelike deel van die universiteit ʼn tuiste was nie. Ons het ook ons liggame na ruimtes geneem wat nie swart intellektuele uitnemendheid erken het in die vorm wat ons verteenwoordig het nie.

“In 1988 het ons die eerste Afrikanistiese, swart feministiese konferensie op die vasteland geskep. Ons het onsself in ʼn instelling omskep omdat die transformerende energie van so ʼn groep nie net vir die lede daarvan sigbaar moet word nie.

“ʼn Gedeelte van wat mens as ʼn lewende deel van ʼn instelling doen, is om nodusse van visioenêre praktyke te skep, maniere om idees uit te broei wat nog nie ʼn tuiste in die amptelike gange van die universiteit het nie," het Baderoon gesê.

Nog ʼn keerpunt was om ʼn talent vir poësie te ontdek, het Baderoon vertel. In ʼn poging om afleiding van haar akademiese werk te vind en weens ʼn “hunkering waarvoor sy nie woorde gehad het nie", het sy by ʼn poësie-skryfklas aangesluit. Dit het haar in staat gestel om die “ongelooflike bevryding" te ervaar om ʼn volslae beginner in ʼn nuwe dissipline te wees terwyl sy haar PhD voltooi het.

Baderoon het haar lesing afgesluit met haar gedig “The History of Intimacy", wat met ʼn aangrypende vers eindig:

In 1988 at Crawford train station, my brother and I find a blue

plank hand-painted in yellow letters:

“Non-Whites Only" on one side

“Whites Only" on the other

thrown away by the fence next to the tracks.

Picking it up, we see the two sides

of the sign lay back to back,

each half resting against its opposite,

intimate and inverse

but unknown to each other.

We knew this was history

someone had made by hand then hidden

and tried to forget. We bring it home

and come across it sometimes in a corner

when we're looking for something else.

Aan die einde van Baderoon se lesing het twee US-professore opmerkings gemaak wat haar kernboodskap in dialoog gebring het met die deurslaggewende rol wat die Universiteit as ʼn plek van verandering en transformasie van kennis kan speel. Prof Pumla Gobodo-Madikizela, Direkteur van die NGeSH, het die vraag wat Baderoon gestel het met haar storie oor haar treinrit in ʼn voorheen wit treinwa met die lewe aan die US in verband gebring. Sy het aan die hand gedoen dat die storie swart studente en personeellede uitdaag om “opnuut op hul reg aanspraak te maak” om by die US te wees – ʼn plek waar hulle in sommige se oë “nie veronderstel is om te behoort nie”.

Prof Kopano Ratele (Departement Sielkunde) het gevra wat dit sou verg om ʼn swart vroulike groep by die US te vestig soos die WCCR wat Baderoon in haar tyd as ʼn nagraadse student onderskraag het. Sy het geantwoord dat so ʼn groep lewensnoodsaaklik is. “Die kollektief is die antwoord. Ek sal baie graag ʼn swart feministiese koalisie op Stellenbosch wou sien. Hoe sou dit lyk? Kom ons beantwoord dié vraag saam.”​